Wees slim – BOER DIGITAAL

Published: 3 May 2024

384
Dr Tobias Doyer
HUG, Graan SA

Landbou is so oud soos die geskiedenis van die mens. Vanaf die beskeie begin van bestaansboerdery tot vandag se tegnologies gedrewe landbou, is die reis om voedsel te produseer nog altyd gekenmerk deur toenemende vindingrykheid, deursettingsvermoë en ’n meedoënlose strewe na doeltreffendheid.

Volgens argeoloë het tegnologie vir die teel van landbou­saad die grondslag gelê vir die mensdom se eerste treë op pad na ’n be­skaafde samelewing soos ons dit vandag ken. Sowat 12 000 jaar gelede het ’n klompie lede van ’n gemeenskap bekend as die Natufiërs, begin om met wilde rog te eksperimenteer deur die plante te versorg en dié met hoër opbrengs vir teling te selekteer.

Dit het die Natufiese gemeenskap in staat gestel om van nomadiese jagter-versamelaars in semi-sedentêre produsente te verander. Dit was nie meer nodig om al hulle tyd te spandeer om kos te soek nie, maar hulle kon leef uit die oorvloed wat deur genetiese manipulasie verskaf is. Dit het tyd toegelaat vir die spesialisering van arbeid en die ontwikkeling van nuwe tegnologie wat die grondslag gelê het
vir ons moderne samelewing.

Die Natufiërs het teeltegnologie gebruik om die genetiese samestelling van graangrasse te manipuleer. Sedertdien het produsente die toepassing van hierdie tegnologie voortgesit om menslike welstand en rykdom te bevorder. Produ­sente was inderdaad nog altyd aan die voorpunt van óf die ontwikkeling óf die toepassing van tegnologie.

Meeste van ons het al die stories gehoor van hoe plase omgeskakel het vanaf trekdier-implemente tot trekkeraangedrewe tegnologie en kan nog onthou hoe verstom ons was deur die eerste selfaangedrewe stroper. Daai monsteragtige, groot masjien het die mielieplante ingesluk en dan op dramatiese wyse die stamme, baard en blare in ’n yslike stofwolk en met groot geraas aan die agterkant uitgespoeg met die goudgeel graan wat in die graantenk val. Sommige van ons kan nog onthou hoe die goiingsak gevoel het terwyl ons gestoei het met daai 90 kg- of 200 pond-mieliesakke wat die dorsmasjien gevul het. En later, die frustrasie daarvan om by te bly met grondchemie en om die korrekte hoeveelhede te bereken wat toegedien moet word.

Ons leef nou in selfs wonderliker tye waar ons vinnige tegnologiese spronge beleef. Vooruitgang in genetika, plantteling en gewasbestuurstegnieke het ’n era van hoë-opbrengsvariëteite en intensiewe boerderypraktyke ingelui. Dit – saam met die samesmelting van digitale tegnologieë, data-analise en presisieboer­derytegnieke – beteken dat graanproduksie nou ’n wetenskap geword het waar die volle opbrengspotensiaal van elke hektaar optimaal benut kan word.

Produsente het nou trekkers aangeskaf wat deur GPS gestuur word en het hommeltuie toegerus met multispektrale kameras – met toegang tot ’n magdom gereedskap en tegnologie wat ontwerp is om elke aspek van gewasproduksie te optimaliseer. Afstandswaarneming, satellietbeelding en kunsmatige intelligensie help produsente om ingeligte besluite te neem rakende grond-, kunsmis-, plant-, besproeiings- en plaagbestuur, terwyl robotika en outomatisering metodes om te plant, onkruid te beheer en te oes drasties verander het.

Wêreldwyd het produsente hierdie nuwe tegnologie met entoesiasme aangegryp, wat globale voedselproduksie tot ongekende vlakke gedryf het. Hierdie tegnologie bied nie net oplossings vir hui­dige uitdagings nie, maar dien ook as instrument om ’n veerkragtige en volhoubare landbousektor vir toekomstige geslagte te bou.

Met hierdie as agtergrond is ons tema vir 2024 se NAMPO Oesdag “Landbou in ’n digitale era”. Die fokus op digitale innovasie by NAMPO sal vir produsente ’n unieke geleentheid bied om die nuwe grense van landbouvooruitgang en die koste daarvan te verken. Die voortbestaan van die moderne produsent hang af van sy vermoë om te analiseer en koste teen voordele op te weeg om deurlopend die kosteknyp­tang te systap. So kan hy aanhou om wins­gewend te boer in ’n hoogs mededingende internasionale graanmark.

’n Mens kan nie anders as om met opwinding en afwagting uit te sien na NAMPO nie – omring deur talle plaaslike en internasionale innovasies wat almal die belofte inhou van volhoubare en winsgewende landbouproduksie. En dit alles te midde van ’n atmosfeer van kameraadskap en welwillendheid tussen die produ­sente, besoekers en deelnemers wat almal passievol is oor landbou.

Hierdie direkte interaksie en inlig­tinguitrui­ling tussen graanprodusente, verskaffers, handelaars en vervaardigers by die NAMPO Oesdag is nie net ’n unieke ervaring nie, maar ook ’n voorreg. Dié kennis en kontakte – alles met een besoek en in een plek – is van onskatbare waarde vir voedselprodusente om hul landboupraktyke te verbeter, koste te verminder en winsgewendheid te verhoog. As ’n landbouhandelskou is NAMPO inderdaad voordelig vir die hele landbouwaardeketting. Dit is ’n plek waar jy suksesvol kan kom besigheid doen in ’n aangename en informele omgewing.

Kortom, as jy die vrugte wil pluk van die nuutste digitale vooruitgang in landbou, is ’n besoek aan vanjaar se NAMPO Oesdag ’n moet. Ons gaan dit weer eens geniet om ons gunstelingonderwerp te bespreek – suksesvolle boerdery.

Sien julle by NAMPO.