Hoekom styg liggingsdifferensiale vir koring weer skerp?

Gepubliseer: 13 Desember 2023

815

15/11/2023

Die woord liggingsdifferensiaal het ’n redelik negatiewe konnotasie in die Suid-Afrikaanse graanbedryf gekry, veral wanneer daar oor die koringmarkte gepraat word. Sedert die ontbinding van die koringraad in 1997 toe Suid-Afrika in ’n vryemarkstelsel inbeweeg het, was daar ongelukkigheid met liggingsdifferensiale.

Toe kommoditeitstermynkontrakte in die middel-1990’s in Suid-Afrika ontwerp is, was Randfontein die middelpunt van die graanverwer­kingsbedryf. Gevolglik is dié lokaliteit gekies as die enkele verwysingsligging wat gebruik word wanneer liggingsdifferensiale bereken word. Met die bekendstelling van die koringliggingsdifferensiale vir die 2023/2024-bemar­kings­jaar, was daar aansienlike stygings in die waarde van liggingsdifferensiale in die Wes-Kaap. Hierdie artikel beoog om die deursigtigheid van liggingsdifferen­siale te bevorder.

Wat is ’n liggings­differensiaal?
’n Liggingsdifferensiaal is die mate van aanpassing aan die waarde van ’n fisies aflewerbare produk (Safex-koringkontrak), by ’n gespesifiseerde ligging, om alle liggings ekonomies gelyk te maak. Dit is noodsaaklik dat afgeleide kontrakte, soos termynkontrakte (futures) en opsies, met homogene onderliggende produkte (kommoditeite) verhandel. Dus word kontrakte met ’n liggingdifferensiaal aangepas om elke kontrak ekonomies gelyk te maak, gebaseer op sy ligging.

Wat beïnvloed die waarde van die liggingsdifferensiaal?
In die praktyk word die liggingsdifferen­siaal afgetrek van die Safex-prys wat produsente vir die produk ontvang. Die uiteindelike waarde van die liggingsdif­ferensiaal wat toegeken word aan elke silo word deur ’n konstante formule by die JSE bepaal. Die berekening van liggingsdifferensiale word vir alle kommoditeite deur die volgende formule bepaal:

Die formule neem verskeie faktore in ag voordat die koste per ton van die liggingsdifferensiaal bepaal word. Onder meer word daar gekyk na afstand (in kilometer) tussen die spesifieke silo en Randfontein; die grootte van die vrag; die terugbeladingsfaktor wat die aantal vragte oor ’n reeks afstande bepaal; en wat dit per kilometer kos om die graan te vervoer.

In die geval van koringliggingsdiffe­rensiale is die metodiek effens aangepas. Aan die einde van elke bemarkingseisoen word die voorlopige differensiale vir die komende bemarkingsjaar bepaal. Dit word bepaal op grond van mieliedifferensiale vir dieselfde bemarkingsjaar, met ’n aanpassing vir inflasie en brandstofkoste tussen Maart en Augustus.

Die prys van diesel het ’n direkte invloed op die liggingsdifferensiaal. Tabel 1 illustreer die jaar-op-jaar-veran­dering in dieselpryse. Oor die afgelope vyf jaar was daar ’n 65%-verhoging (R8,52/ℓ) in die dieselprys. In 2019 het dieselpryse met 10,61% (R1,4/ℓ) verhoog gevolg deur ’n 7,47%-styging (R1,09/ℓ) wat in 2020 ge­realiseer het. Dit is wel belangrik om uit te lig dat die liggingsdifferensiaal vir die 2020/2021-bemarkings­jaar onveranderd gebly het alhoewel die dieselprys gedaal het. In 2021 was daar ’n gematigde ver­hoging van 0,48%, gevolg deur ’n 46,25%-styging (R6,47/ℓ) in 2022. Die liggingsdifferensiaal in die 2022/2023-bemarkingsjaar het met slegs 22% gestyg. Die gemiddelde dieselprys het in die hui­dige seisoen ’n verhoging van 6,99% getoon wat ooreenstem met die verho­ging van die liggingsdifferensiaal.

Hoe het liggingsdifferensiale oor die jare verander?
Tabel 2 illustreer die jaar-op-jaar-veran­dering vir koringliggingsdifferensiale vir die Wes-Kaap oor ’n vyfjaarperiode. Sedert die 2019/2020-bemarkingsjaar het koringliggingdifferensiale in die Wes-Kaap met R200/ton (33%) gestyg, tot die nuutste differensiaal van R800/ton. Tabel 2 wys dat die liggingsdifferensiaal oor die afgelope vyf jaar aaneenlopend gestyg het, met slegs een jaar wat onveranderd gebly het.

Dit is ’n algemene tendens dat die differensiale wat toegeken word aan die Wes-Kaap verskil van die differen­siale wat toegeken word aan die res van die land se silo’s. Dit word meegebring deur die berekeningsmetodiek wat vir die Wes-Kaap se differensiale gebruik word. As gevolg van die unieke dinamika van die Suid-Afrikaanse koringmark, wat gedeeltelik meegebring word deur geografiese kompleksiteite, word die Wes-Kaap se differensiale volgens ’n opnamegebaseerde metodiek bereken.

Alternatiewe berekenings­metodiek
Die konsep is breedvoerig deur die graanbedryf bespreek en op 24 Januarie 2023 het die JSE, geadviseer en bygestaan deur die JSE Tegniese Advieskomitee, die implementering van ’n alternatiewe stelsel vir die sojaboonbedryf aangekondig. Die sojaboonbedryf is om ’n paar redes as loodskommoditeit gekies; eerstens omdat die bedryf relatief klein is in vergelyking met ander kommoditeite en tweedens as gevolg van die sojaboonkontrakte wat nooit met liggings­differensiale verhandel het nie.

Soos die bedryf gegroei het, het die noodsaaklikheid om liggingsdifferensiale in die SOYA-kontrak in te bring, toegeneem. As sodanig het dit ’n geleentheid gebied om die alternatiewe metodologie te toets. Die model sal vir ’n tydperk van twee jaar wat in Maart 2024 begin, getoets word. Aanvanklike markreaksies is omring deur onsekerheid en twyfel. Die JSE het ’n raamwerk van maatreëls opgestel waarmee dié nuwe metodiek deurlopend geëvalueer gaan word. Een van die maatreëls is om die sojaboonkontrakte se oop belangstelling (open interest) te monitor.

Gevolgtrekking
Deursigtigheid in Suid-Afrika se koringmarkte is al dekades lank onder kruisvuur. Die kom­plekse dinamika van die koringmarkte, ’n gekonsentreerde mark tesame met die groot geografiese area waarin die mark moet funksioneer, dra alles by tot die kompleksiteit daarvan om akkurate differensiale te bereken.

Graan SA glo dat die instelling van die toetsperiode vir die alternatiewe be­rekeningsmetodiek vir sojabone ’n unieke geleentheid vir die Suid-Afrikaanse mark bied en is tans besig om die alternatiewe metodiek vir die koringbedryf met sy unieke dinamika te ontwikkel om so­doende wintergraanprodusente se wins­gewendheid te beskerm.

Grafiek 1: Oop belangstelling vir die Maart-2024-sojaboonkontrak.
Bron: Graan SA, JSE