Vrede is nie net ’n plek nie

Gepubliseer: 6 November 2023

571

Beste Grootneef

Die eerste reën het vanjaar op oom Paul se verjaarsdag geval. Net mooi op die middag van 10 Oktober. ’n Week later het die nuwe gras deurgebreek met die groenste van groen om amptelik die nuwe seisoen aan te kondig. Die vee loop en peusel al agter die sappige lote aan met ’n stille vrede nadat ’n bitter koue winter oorleef is.

Weervoorspellers praat van voorbodes van ’n nuwe El Niño wat later in die seisoen ’n midsomerdroogte kan uitgooi. In Australië word temperature van 12 grade Celsius hoër as in dieselfde tyd verlede jaar aangeteken. Maar hier in die Suidland lyk dit op dié stadium na ’n seisoen vol belofte. Die Kaap van Storms het egter vanjaar sy naam gestand gedoen, met verspoelings, reën en wind soos lanklaas ervaar is. ’n Video doen die ronde van ’n waterval in die Du Toitskloof wat deur die wind teruggewaai word die berg op! Sterkte vir al die boere wat in die woeste weer skade gely het.

Ou Neef, die ander dag sit ek in die stad en luister na ’n gesprek tussen twee koffiedrinkers by ’n tafel langs my. Die gesprek tussen die twee onbekendes het gehandel oor hoë lewenskoste, petrol- en dieselpryse en mediese dienste wat onbekos­tigbaar geraak het. En wat ’n trollie kruideniersware kos. En van skaaptjoppies wat net enkeles beskore is. En van vullis wat in die strate ophoop omdat daar vir weke al in die noordelike hoofstad gestaak word – en van die taxi’s wat hul min aan padreëls steur. En van die impak van beurtkrag – veral op paaie en reistyd as verkeersligte buite aksie is. En van die “Wilde Weste”-uitsprake van politici. En van waterpype van die stadsowerstes wat aanhou lek sonder dat iemand hul daaraan steur. En van korrupte staats­amptenare en Steinhoffs met die polisie wat nie skelms gevang kry nie. En van die weermag wat langs die Limpopo uitkamp en ooglopend mense heen en weer na en van Zimbabwe toelaat om deur ’n grensheining, wat lankal tot niet is, te stap.

Soveel van kla het ek lanklaas gehoor. En as jy fyn luister, is Negatief merendeels die taal wat deesdae gepraat word. Met die uitstap van die twee bekommerde koffiedrinkers, klim ek toe op ’n soekenjin om te kyk op watter ander plek op die aardbol dit beter gaan. Die nuushooftrekke op internasionale front bied egter nie ’n blinker toekoms nie. Die vorige president van die VSA staan tereg op aanklagte van belastingbedrog en aanhitsing tot geweld. Dit klink bekend. Rusland bombardeer Oekraïne nogmaals. Hamas het Israel aangeval en die Israelse lugmag en weermag loods meedoënlose teenaanvalle. Hordes vlugtelinge van oral sak op Europa toe en plak in tentdorpies buite groot stede. Die nuus fokus op aardverwarming, duurder ruolie en ’n kuberaanval wat Heathrow tot stilstand gedwing het.

Sommer gou verduidelik dr Google dat dit nie saak maak wáár op die aardbol jy is nie, óral is daar onvrede. Soos deur al die eeue. Die enigste verskil is dat ons nou met blitsnuus binne ure weet wat oral gebeur.

Ná ons deur beurtkragverkeer gebeur het en die stof van die laaste tolhek van ons voete geskud het, kon ons met die laaste stukkie pad deurdruk terug plaas toe. Laatmiddag toe die son in die weste sak en die tarentale bos toe kom vir die nag, verskyn ’n steenbokkie uit die niet. Die rammetjie stap rustig verder om in die ruigte te verdwyn.

En toe verstaan ek – oorloë en gerugte van oorloë sal altyd met die mensdom wees. Vrede op aarde met ’n welbehae in mekaar sal ons nooit beskore wees nie. Maar, soos David Kramer sing, is daar steeds musiek op die draadloos en skuim op ’n bier!

Luister na die voëls se gekwetter wanneer die son opkom. Hulle saai nie en hulle maai nie. Tog word vir hulle gesorg. Vrede is nie noodwendig ’n plek nie – dis hoe jy dink. Dit gee balans in ’n deurmekaar wêreld, met die vertroue dat alles ten goede sal meewerk.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.