Sy navorsing van onskatbare waarde vir landbou

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 6 November

691

Oktober se held: Sakkie Koster

Sakkie Koster is sekerlik een van die bekendste akkerbou­raadgewers in die oostelike Hoëveld.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Oktober is Sakkie Koster. Hier is hy saam met sy vrou, Elize.

Hy en sy vrou, Elize, is ou beken­des in die Bethal-area waar hulle ’n groot deel van hul lewe saam deurgebring het. Sedert Sakkie se aanstelling by OTK se landboudienste-afdeling in 1983 het hy produsente in die oostelike Hoëveld van raad voorsien. Na die ontstaan van Afgri en tot met sy aftrede by dié maatskappy, het Sakkie sy kennis bly uitbrei en deel. Hy was ook die outeur van besonder leesbare land­bou-artikels en het verskeie pryse verwerf – onder meer vir die beste artikel in die SA Graan/Grain-tydskrif.

Sakkie is deur Pietman Botha genomineer as held in die My Hero-reeks.

Sakkie het diep spore gelaat in heelwat produsente se boerderye. Met sy strewe om eerlike, onafhanklik getoetste en toepaslike praktykkennis te deel, kon hy baie produsente se voortbestaan en welvaart help verseker. Hierdie kennis van hom het uit harde werk en deeglike navorsing gevloei. Om nuwe inligting te versamel, het Sakkie behoeftegedrewe navorsing gedoen op Wildebeesfontein, die proefplaas van die ou OTK op Bethal.

Die navorsingswerk op Wildebeesfontein het produksiestel­sels ingesluit en gefokus om produksierisiko te verlaag en die winsgewendheid van graanproduksie te verhoog. Die bestuur van grondsuurheid en grondvoedingstatus deur middel van bemestingsprogramme het heelwat aandag geniet en was in heelwat gevalle voorlopers in hul tyd. Om gesaaide produksie te optimeer, is inligting rakende kultivarevaluering, optimale plantdatums en plantestand saamgestel en jaarliks versprei. Grondbewerking het ook aandag gekry en praktyke soos deklaagbewerking is daar getoets.

Sojabone is ’n belangrike gewas in die oostelike Hoëveld en Sakkie was in sy latere jare nou betrokke by navorsing oor dié gewas. Sclerotinia in sojabone is ’n groot probleem en hy het hierdie probleem deur ’n holistiese benadering probeer oplos, wat verbouingspraktyke, die weerstand van die plant, chemiese bespuiting en talle meer ingesluit het. Hierdie werk is nog lank nie afgehandel nie.

Onkruid- en plaagdodernavorsing het ook nie agterweë gebly nie. As Sakkie ’n probleem in die bedryf geïdentifiseer het, het hy gaan navorsing doen oor hoe om dit op te los. Die wisselvallige werking van onkruiddoder het hom veral geïnteres­seer en deur intensiewe navorsing en oplees kon hy die probleem tot ’n groot mate verklaar. Deur die toedieningsmetode asook die hoeveelheid water wat toegedien word aan te pas, wil dit uit navorsing voorkom of die probleem dalk opgelos kan word – weer eens ’n praktiese oplossing vir ’n probleem waar produsente die vrugte van sy werk kan pluk.

In Sakkie se strewe om inligting te versprei, het hy al die navorsingswerkresultate wat in sy tyd op Wildebeesfontein gedoen is, geboekstaaf. Dié boek is tans beskikbaar.