Insetkoste steeds ’n klip in die skoen vir produsente

Gepubliseer: 6 November 2023

597
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Met beplanning agter die rug en planters in die grond, het die 2023/2024-produksieseisoen in alle erns afgeskop. In hierdie seisoen is die ligpunt dat kunsmispryse vanaf Oktober 2022 teen ’n sterk afwaartse tendens verhandel het. Tog bly die prys van saad, chemie, brandstof en herstelwerk ’n klip in die skoen vir produsente.

Met hierdie faktore wat produsente direk beïnvloed, word dit al hoe belangriker om so effektief as moontlik te produseer. Dit benadruk ook die belangrikheid van ’n bemarkingstrategie om op lang termyn winsgewend te bly.

Die totale pakkie
Tabel 1 toon die pakkie insette wat so­wat 75% van ’n produsent se insetkoste verteenwoordig. Uit die tabel kan duidelik gesien word dat kunsmispryse op ’n jaar-tot-jaar-basis met 35% gedaal het vanaf Oktober 2022 tot Oktober 2023. Saad, chemie, brandstof en herstelwerk het egter toegeneem vanaf die vorige seisoen. Die totale pakkie het dus jaar op jaar met slegs 6,7% gedaal.

Kunsmispryse
In Mei 2022 het kunsmispryse nog op rekordvlakke verhandel, maar vanaf Mei 2022 tot Julie 2023 het dié pryse afwaarts verhandel. Vanaf Julie tot Augustus 2023­het die tendens egter omgeswaai en kuns­mispryse is vir die afgelope drie maande in ’n opwaartse tendens. Dit beteken dat van die vorige 17 prysveran­deringe, was die eerste 14 afwaarts en die laaste drie opwaarts. Daar is ’n moontlikheid dat kunsmispryse in die komende paar maande sal aanhou om opwaarts te neig, veral as die prys van energie (veral olie) en die verswakkende wisselkoers in ag geneem word. Net soos wat produ­sente gewag het vir kunsmispryse om ’n laagte­punt te bereik voor kunsmis aangekoop is, het invoerders van kunsmis dieselfde taktiek gevolg. Om hierdie rede lyk dit of Suid-Afrika se kunsmisinvoere effens agter die vorige seisoen se tempo is. Produsente word dus aangeraai om vroeër eerder as later kunsmis aan te koop. Tog blyk daar nie tans kommer te wees oor die beskikbaarheid van kunsmis nie.

Saadpryse
Saadpryse is verantwoordelik vir tussen 10% en 17% van ’n produsent se direkte insetkoste. In die 2023/2024-produksieseisoen het saadpryse sterk toegeneem – hoër saadpryse sit produsente se winsmarge direk onder druk. In die 2022/2023-seisoen het saadpryse meer geredelik toegeneem en was die toename nader aan inflasie. In Figuur 1 word die verandering van die verskillende kom­moditeite se saadpryse aangedui vir 2022 en 2023.

Figuur 1: Verandering in saadpryse.

Brandstofpryse
Brandstofpryse is verantwoordelik vir tussen 10% en 13% van ’n produsent se direkte insetkoste. Aangesien Suid-Afrika omtrent totaal afhanklik is van invoere om in die plaaslike vraag te voorsien, is plaaslike pryse direk gekoppel aan die internasio­nale olieprys en wisselkoers. Die volgende faktore is die redes vir die styging in brandstofpryse in Oktober:

  • Brent-ruoliepryse het gestyg vanaf $84,78/vat na $91,86/vat.
  • Laer internasionale voorraad weens produksieverlaging deur Saoedi-­Arabië en Rusland.
  • Verlaging in raffineringstempo weens die instandhouding van raffinerings­aanlegte en laer uitvoere vanaf Rusland.
  • Die wisselkoers teenoor die dollar het verswak vanaf R18,67 na R19,00.
  • Implementering van die staatsolie­fondsheffing van 30,7 c/ℓ om die huidige negatiewe balans van hierdie fonds reg te stel. (Hierdie heffing word in diepte bespreek in die Oktober 2022-­­uitgawe van die SA Graan/Grain-tydskrif).

Chemiepryse: Glifosaat
Op ’n jaarlikse basis het glifosaatpryse met omtrent 40% vanaf Oktober 2022 tot Oktober 2023 gedaal. In Desember 2021 het glifosaatpryse rekordvlakke bereik, maar het van daardie punt af ’n sterk afwaartse tendens gevolg (Grafiek 2). Pryse het tussen Junie en Augustus 2023 opwaarts verhandel, maar weer terug­gesak na September.

Grafiek 1: Gemiddelde prysverandering van kunsmis vanaf Mei 2022 tot Oktober 2023.
Grafiek 2: Glifosaatpryse

Herstelwerk
Die herstelwerksyfer is aangepas in verhouding tot inflasie.

Gevolgtrekking
Hierdie duur insette toon die belangrikheid daarvan vir produsente om risiko te bestuur. Produsente moet seker maak hulle weet wat dit kos om hulle beplande gewasse te produseer. Dit gaan nie net help met besluitneming van watter gewas om te plant nie, maar ook help om hul graan te bemark. Een vorm van risikobestuur is die ontwikkeling van ’n bemarkingstrategie. Dit is belangrik om jaarliks hierdie bemarkingstrategie te volg om langtermynwinsgewendheid te verseker.