Pieta

Gepubliseer: 1 Oktober 2023

374


Beste Grootneef

Een van my beste vrinne was ’n rou Ingelsman met die naam van Arthur Rump. Niks met vleis te doen nie, dit was bloot sy van. Arthur het sy bes probeer om nou en dan ’n Afrikaanse woord aan te leer. Een van die mees veelsydige Afrikaanse woorde wat ek hom kon leer, was die woord “gooi”.

Die woord maak vir jou deure oop wanneer jy visvang, braai of aanmeld vir ’n knertsie. “Gooi” was bykans die helfte van Arthur se Afrikaanse woordeskat en het uitstekend gewerk vir die toepassings waarvoor dit bedoel was. Dit was natuurlik ook groot pret om heel ontoepaslike Afrikaanse woorde vir Arthur te leer, wat hom ’n paar keer in die sop laat beland het.

Net so het ’n politikus eintlik net nodig om twee frases te bemeester vir ’n suksesvolle loopbaan in die politiek. Die eerste daarvan is “sub judice” en die tweede een is dat die pers hom verkeerd aangehaal het. Met daardie twee in die arsenaal kan enige vraag gesystap word.

Die gevolg van die sondeval is politiek. Ou Neef, hou maar jou kop koel en jou hart sterk om jou nie te veel tussen nou en volgende jaar se verkie­sing aan politici te steur nie.

Ou Neef, dan wil ek jou van Pieta vertel. Pieta was ’n groot man – hy het ’n hemp vol gestaan. Dit was die een troep waarna die korporaal by Diskobolos moes opkyk. In sy army boots was Pieta ’n kop langer as enige ander in Charlie-kompanjie. ’n R4 het soos ’n vuurhoutjie in sy groot hande gelyk. Met full kit en ’n staaldak was hy ’n gevaarte. Met ’n 2,4 wou niemand voor die Pieta-bus beland nie. As Pieta jou op volle vaart sou tref, was jy beslis die volgende oggend deel van die siekes en verminktes.

Maar groot en sterk soos Pieta in die dag was, so swak was hy in die nag. So blind soos ’n mol met geen gevoel vir noord of suid nie. Dit was egter ’n resep vir ’n perfekte vennootskap. Snags het Pieta by my gehou, soms met ’n hand op my webbing om seker te maak hy raak nie weg nie, en bedags het hy nie omgegee om van my toerusting op sy pak vas te maak nie. Dan was hy weer sterker as ek. Die een item wat ek egter nooit aan Pieta toevertrou het nie, was ’n ratpack – Pieta was altyd honger.

Ou Neef, en dit is hoe dit in die lewe is. Sommige mense is ’n lopende komper wat getalle in enige formule kan maak pas. Ander weer, het logiese denke om ’n strategie van hier tot daar raak te sien, lank voordat die res dit as logies aanvaar. Sommige kan met geld werk en iets uit niks maak. Ander het weer glad nie ’n geld-briek nie. Party mense het ’n gevoel vir die natuur en die seisoene – ander weer nie. Sommige hou van ’n TV-reis vanaf ’n rusbank, ander pak weer ’n bakkie en ry tot in Botswana om die leeus dáár te hoor brul. ’n Vinkel en koljan­der waar die een dink soos die ander, is dun gesaai.

Die wêreld sou maar ’n vervelige plek gewees het as almal op dieselfde manier gedink het. Die kuns is om óf vis óf vlees te wees. Om nie op die draad te sit nie, maar wanneer nodig, standpunt in te neem oor dit waarin jy glo.

Hoewel saam op ’n lewensreis, is geen mens dieselfde nie. Op sommige terreine is ons swak, op ander weer goed. Maar waar ons egter ’n ge­menebes deel, is dat elkeen ’n Pieta benodig om as dit nodig is, ’n las te help dra. Of as die son sak met laaste lig, te weet naby wie om te beweeg om koers te hou.

Ai, ou Pieta … Na ons die korporaal en die bos met vasbyt oorleef het, vir wat moes ’n lorrie in die middel van die Vrystaat oor jou bakkie ry? In mensetaal maak dit geen sin nie, omdat jy so baie aan die mense om jou gebied het.

Met die somer wat deurbreek in ’n nuwe seisoen, mis ons jou, my ou maat. Rus in vrede.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.