Kom so na as moontlik aan die verbruiker se rand

Gepubliseer: 4 Julie 2023

334
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Om waarde tot graan toe te voeg, is nie so maklik soos wat almal dink nie. Wanneer jy egter daardie punt bereik, is die rendement beslis die moeite werd. Martiens de Jager besit Gulland-boerdery op Grootpan, ’n boerdery wat waardetoevoeging tot aan die einde van die produksieleer neem.

Hulle kry dit reg om die meeste van hul eie produkte direk aan die eindverbruiker te lewer of te verkoop. Gulland produseer hulle eie graan, eie ruvoer, eie speenkalwers vanaf hul eie kommersiële beeskudde en bedryf ook ’n groot Simmentaler-stoet. Verder bedryf hulle hul eie voerkraal om vleis vir hul eie slag­huise te voorsien wat ook by hul eie slagpale geslag is. Om altyd beeste vir die voerkraal beskikbaar te hê, bedryf hulle ook ’n beesveldgroei- of backgrounding-veevertakking. Op dié manier land die graan in vleis en die vleis bring die geld weer terug na die besigheid.

Waardetoevoeging in hierdie onderneming begin by volledige beplanning. Om altyd markklaar produkte vir die mark beskikbaar te hê, verg behoorlike beplanning. Daar moet genoeg vleis beskikbaar wees. Dit beteken genoeg voerkraalbeeste, genoeg speenkalwers wat óf self geproduseer word óf ingekoop moet word en dan – die belangrikste – genoeg voer (hoofsaaklik kuilvoer en graan) vir die voerkraal. Die beeste bly ongeveer 140 dae in die voerkraal en elke dier behoort gemiddeld 3,5 kg (DM) kuilvoer/dag te vreet. Dit beteken vir die totale kapasiteit van die voerkraal moet 1,3 ton (DM) kuilvoer/bees/jaar geproduseer word. Sodoende word bepaal hoeveel mielies of sorghum per jaar geplant en gekuil moet word.

Die Gulland-Simmentaler-stoet is een van die trotse vertakkinge van die besigheid.

Graanvertakking
Martiens se graanvertakking bestaan uit ’n besproeiingskomponent asook ’n droëlandkomponent. Op die besproeiingslande word in die somer hoofsaaklik kuilvoer verbou, terwyl koring of ander wintergewasse in die winter verbou word. Op droëland word hoofsaaklik mielies verbou.

Die kuilvoer word op die besproeiings­lande verbou om te verseker dat genoeg en hoë­kwaliteitkuilvoer beskikbaar sal wees. Hierdie mielie- of sorghumkuilvoer word dan reg met die nodige bakteriële inokulante en ensieme behandel om die beste moontlike kwaliteit aan die voerkraal te lewer. Indien die kuil­voeropbrengs beter as beplan is, kan besluit word of ’n gedeelte dalk nie gesny gaan word nie of die ekstra kuilvoer kan wel gesny word en vir latere gebruik in ander vertakkings geberg word. Na die wintergewasse gestroop is, sal die koringstrooi ook gebaal word om weer in die voerkraal te gebruik.

Die mieliegraan wat geproduseer word, vind nie sommer hul weg na die voerkraal nie. Die graan wat geproduseer word, sal vir hominy chop (HC) vir die voerkraal geruil word. Soms beteken dit dat die graan verkoop word en dat HC met die geld aangekoop word. HC is ’n kombinasie van die semel en die kiem in mielies wat ’n goeie energiebron is en dit kan mielies in ’n voerkraalrantsoen vervang. Die prys van die HC en die mielies bepaal of die ruil gemaak kan word al dan nie.

Die beeste word op die regte stadium met die regte vetbedekking na die slagpale geneem.

Veevertakking
Die voerkraal produseer heelwat mis per jaar. Hierdie beesmis vind weer hul weg terug na die lande waar die kuilvoer geproduseer word. Die voerkraalmis op die kuilvoerlande uitgestrooi, bou die grond op en die waterhouvermoë word verbeter. Die een hand was dus die ander: Die mis word verwyder en die lande se opbrengs styg terwyl bemestings­koste gesny word.

Nog een van die trotse ver­takkinge van die besigheid is die Gulland-Simmentaler-stoet. Die stoet het ten doel om die kwaliteit van beeste in die land te verhoog. In hierdie stoet word gefokus op vrugbaarheid, bouvorm wat die grootte van die karkas bring, groeivermoë van die diere asook die vetverspreiding oor die karkas. Dit moet alles gedoen word sonder dat die diere siek word. Hierdie diere is gereelde wenners op groot skoue en dit wys net die waarde van wetenskaplik bepaalde doelwitte en meting van die vordering op hierdie doelwitte. Alle aspekte in die stoet word wetenskap­lik gemeet met die nuutste tegnologie wat hiervoor ingespan word.

Die uitslagpersentasie van ’n karkas is ’n belangrike meetin­strument. Hoe hoër die uitslagpersentasie, hoe meer vleis is daar om te bemark en dit beteken meer geld in die sak. Binne die stoet word daar gepoog om kalwers so swaar as moontlik te speen. Dit beteken dat die koeie ekstra kos ontvang om meer melk te produ­seer wat weer swaarder kalwers produseer. Die kalwers ontvang ook ’n kruipvoer om seker te maak hulle bereik hul teikenspeenmassa van 300 kg. Dit is heelwat hoër as wat die voerkrale vereis, maar dit maak nie vir Gulland saak nie. Van hierdie bulkalwers gaan as stoetbulle verkoop word en die wat dit nie tot by die stoetmark maak nie, gaan reguit voerkraal toe waar hulle groei dat die stof staan.

Stoet- en kommersiële koeie word streng op kondisietelling bestuur. Indien die kondisietelling afneem, word voeding in die vorm van lek of byvoeding aangepas. Entings en uitwendige en inwendige parasietbeheer is van kritieke belang op die plaas. Die “koei-enjin” moet op alle silinders vuur om ’n ordentlike kalf te speen en weer dragtig te raak.

Daar is ook in hierdie boerdery siek diere, maar die arbeiders is opgelei om die simptome vroeg te identifiseer en te evalueer. As daar ’n siek bees is, moet ’n beessiektevorm voltooi word. In dié vorm word aspekte soos die temperatuur van die dier, die voorkoms van die oë, mis, urine en ander aspekte aangeteken. Die inligting op die vorm help om die korrekte diagnose te maak; sodoende kan die regte behandeling toegepas word voordat te veel produksie opgeoffer word.

Die voerkraal is die skakel tussen die beesvertakking, saaivertakking, die slagpale en die slaghuise. Kalwers in die voerkraal word met ’n gebalanseerde rantsoen van kuilvoer, HC, hoëproteïenkonsentraat (HPK) en melasse gevoer. Daar is ’n voe­dingkundige in diens wat seker maak dat die rantsoen reg saamgestel is en die voerkraal word op ’n gereelde basis geoudit. Op dié manier word seker gemaak dat alles in die voerkraal optimaal bedryf word. Die beeste word op die regte stadium met die regte vetbedekking na die slagpale gebring vanwaar die vleis direk na die slaghuise geneem word.

Om mee te ding met groot rolspelers soos die kettingwinkels moet seker gemaak word die slaghuis is op standaard. Kliënte moet met ’n glimlag gegroet word en hulle moet ’n lekker koopervaring beleef. Na­tuurlik speel prys ’n belangrike rol, maar op die ou end is dit die kwaliteit van die vleis wat die kliënte weer laat terugkom.

Goeie rekordhouding
As die finansies van so ’n groot besigheid nie klop nie, is dit moeilik om die fout te soek. Daar word dus van elke vertakking afsonderlik rekord gehou. As ’n vertakking nie winsgewend bedryf kan word nie, moet ernstige besluite geneem word. Kan die inset wat die vertakking lewer eerder ingekoop word of moet die fout in die vertakking gesoek word? Martiens het lankal besef dat hyself nie oor al die kennis beskik om so ’n groot besigheid te bestuur nie; daarom maak hy op ’n gereelde basis van verskeie adviseurs gebruik. Dit is dié adviseurs wat sy hand in die beginjare gevat het en hom al die inligting en opleiding gegee het om hierdie besigheid vandag suksesvol te bestuur. Hy moet heeltyd op hoogte wees van wat in elke vertakking aan die gebeur is sonder dat hyself daar betrokke is.

Finansiële bestuur is van deurslaggewende belang; daar word ten minste een maal per maand met elke vertakkingsbestuurder vergader om die finansies en begrotings te bespreek. Die begro­tings word in dié sessies aangepas om die werklike verwagtinge te weerspieël. Elke bestuurder moet verduidelik hoekom die uitgawes staan waar dit staan en wat in die volgende maand gedoen gaan word. Dit help met die kontantvloei vir die besigheid.

Omdat al die vertakkinge winsgewend moet wees, word die insette onderling teen markwaarde gekoop en verkoop. Dié stap maak dit maklik om te bepaal of ’n vertakking werklik wins maak of nie.

Die besigheid se dag-tot-dag-bestuur gaan oor die bestuur van mense. Almal moet hul kant bring om gesamentlik ’n sukses te maak. Gee die mense verantwoordelikheid, maar kontroleer die verantwoordelikheid. Wees regmatig met die komplimente, maar streng met die foute – sodoende bly goeie prestasie in plek.

Indien meer inligting verlang word, kontak Martiens de Jager by martienssnr@gulland.co.za.