Leonardo

Gepubliseer: 9 Junie 2023

290

Beste Grootneef

Soms gebeur dit dat ’n besonderse mens die moeilikste van omstandighede oorwin om vir eeue daarna nog vir hul grootsheid onthou te word.

Een so ’n persoon wat – ten spyte van die gebroke werklikheid waarin hy moes opgroei – deur die eeue onthou word, was Leonardo. Leonardo da Vinci. Die jonge Leonardo is in 1452 naby die hedendaagse Florence gebore, met ongetroude ouers. Hy het in die huis van sy oupa aan vaders­kant grootgeword. Maklik kon dit in daardie tye nie gewees het nie.

Geen formele skoolonderrig was die jong Leonardo beskore nie. Dit is welbekend dat hy basiese onderrig ontvang het om te kan lees en skryf.

Op 14-jarige ouderdom het hy begin werk in die kunsateljee van Andrea del Verrocchio, ’n skilder in Florence. Hier het hy ’n heenkome gevind en vir die volgende klompie jare as vakleerling in die ateljee gewerk. Een van die eerste skilderye waarmee die jong Leonardo vir Verrocchio ondersteun het, was die uitbeel­ding van die doop van Jesus Christus. Tydens die werk moes Leonardo ’n gedeelte van die skildery doen met die uitbeel­ding van ’n engel wat ’n mantel vashou. Iets merkwaardig het gebeur tydens die drie jaar wat dit geneem het om die skildery te voltooi, van 1472 tot 1475. Die leermeester, Verrocchio, was so oorweldig deur die tegniek en natuurlike talent van Leonardo, dat hy aan die einde van die projek sy kwas neergelê het en nooit weer geskilder het nie. Hy het besef dat die leerling se natuurlike talent om lewe op ’n doek te skilder, nie geëwenaar kon word nie en dat hy niks meer vir Leonardo kon leer nie.

Leonardo het vele ander talente gehad, nie net skilderkuns nie. Hy was in sy leeftyd ook ’n gerekende beeldhouer, argitek, ingenieur en hy het ’n studie van die menslike anatomie gemaak. Vir sy studie oor die anatomie van die mens het hy agter geslote deure met kadawers gewerk om uit te beeld hoe spier en vlees in die menslike liggaam funksioneer. Die Pous het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en Leonardo uitdruklik verbied om met hierdie studies voort te gaan. Gelukkig vir die mensdom het sy notas en sketse van hierdie baanbre­kerswerk behoue gebly.

Waarskynlik was Leonardo aan­dagafleibaar en destyds was daar geen medikasie daarvoor nie. In 17 jaar het hy net ses skilderye voltooi. Hy was ’n perfeksionis en alles moes so goed moontlik voltooi word. Vandag bestaan daar slegs 20 bekende skilderye van die meester waarvan verskeie onvoltooi is. Leonardo, ’n man van vele talente, het gou verveeld geraak en midde-in ’n projek met iets anders begin.

Een van die bekendste van sy werke is tog voltooi. Die projek het 16 jaar geneem om af te handel, vanaf 1503 tot 1519. Perfek – totdat die meester self daarmee tevrede was. Die skugter glimlag van ’n onbekende vrou bekoor steeds die mensdom na al die eeue. Die skildery is tans te siene in die Louvre-museum in Parys, Frankryk, waar die mense daagliks toustaan om die Mona Lisa te beleef.

’n Ander meesterstuk wat steeds die mensdom se verbeelding aangryp, is die Laaste Avondmaal – die bekende skildery van Jesus se laaste aandete saam met sy dissipels voor sy kruisiging.

Deel van die notas van Leonardo wat behoue gebly het, is sketse en ontwerpe wat sy tyd ver vooruit was, soos die van ’n helikopter en ’n sweeftuig. Dit was 400 jaar voordat die Wright-broers hul eerste vlug vanaf Kitty Hawk onderneem het.

In sy notaboeke en sketse wat opgespoor is, was ook ont­werpe van valskerms, kanonne asook gefortifiseerde wapentuig wat met vandag se tenks vergelyk kan word. Ook van ’n duikboot en ’n duikpak! Ontwerpe wat die mensdom eers later verstaan en toegepas het.

Een van die unieke dinge wat Leonardo kon doen, was om van links na regs te skryf asook van regs na links. Laasgenoemde notas moes dan deur ’n spieël se weerkaatsing gelees word!

Leonardo is in 1519 op 67-jarige ouderdom oorlede. Die kind wat buite die huwelik gebore is en by ’n oupa moes grootword. Wat sy gebroke werklikheid met uitnemendheid oorwin het.

Ou Neef, elk van ons het ’n stukkie Leonardo in ons – om nuwe grense te breek en iets uit niks te skep. Dikwels word die Leonardo in ons gees onderdruk deur woorde dat iets nie sal werk nie of dat dit nie haalbaar is nie. Ou Neef, moenie dat dit jou terughou nie. Laat die Leonardo in elke dag se handel en wandel na vore kom. Nuwe denke wat van die wêreld ’n beter plek kan maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.