Andries trap diep spore in die Wes-Kaap

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 9 Junie 2023

715

Mei se held: Andries Theron

Mei se genomineerde vir Graan SA/John Deere se My Hero-reeks is ’n ou bekende van die Wes-Kaap se Koringberg-area. Andries en Karin Theron boer saam met hulle seun, Frikkie, met koring, kanola en skaap. Georganiseerde landbou ken vir Andries goed – hy het diep spore in nie net die Wes-Kaap nie, maar ook die totale wintersaaistreek getrap. “Hierdie openhartige man met sy rustige geaardheid het baie moeilike sake opgelos en tot die beste voordeel van produsente geskik,” vertel Pietman Botha wat hom genomineer het.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Mei is Andries Theron. Saam met hom op die foto is sy vrou, Karin.

Pietman vertel dat Andries sedert die jaar 2000 ’n groot rol by Graan SA begin speel het. “Hy het veral die koring- en kanolaprodusente met onderskeiding gedien. Die ontwikkeling van veranderde bewerkingspraktyke tot die huidige bewaringsboerdery het baie van sy aandag geverg en om geld vir navorsing te bewerkstellig was nie aldag maklik nie.”

Met die ontstaan en inwerkingstelling van die Suid-Afrikaanse Kultivar-en-Tegnologie-agentskap (SACTA) wat die bestuur van teling-en-tegnologieheffings vir oopbestuifde gewasse bestuur, was daar drastiese veranderinge in die hoeveelheid telers in hierdie bedrywe. In beide die sojaboon- en koringbedrywe het daar heelwat nuwe kultivars vir produsente op die mark gekom. Andries was een van die drywers om dit te laat gebeur.

Pietman Botha het Andries genomineer as held in die My Hero-reeks.

Vir die Wes-Kaap is daar nie baie alternatiewe gewasse buiten koring nie. Kanola was altyd ’n moontlikheid, maar uit ’n produsent se oogpunt was dit nie ’n groot rolspeler nie. “Sedert Andries deel van die Proteïennavorsingstigting geword het, was daar groot veranderinge in kanolaverbouing in die Wes-Kaap sigbaar. Baie het hier gebeur en sodoende is daar ’n uiters goeie alternatief vir koring gevestig,” aldus Pietman.

Wat Graan SA se koringomswaaistrategie betref, het Andries ook ’n leidende rol gespeel. Hier was dit die wintergraanwerkgroep waarvan hy voorsitter was waar die meeste sake uitge­sorteer en probleme strategies bestuur is. Die invoertarief, graderingsregulasies, liggingsdifferensiaal en verbouingspraktyke is maar enkele voorbeelde van wat deur sy medewerking vir koringprodusente vermag is.

Andries moes sedert sy toetrede tot die georganiseerde landbou ook sy boerdery se bestuur aanpas. Om so dikwels weg van die huis en nie op die plaas te wees nie, veroorsaak baie stres. Andries weet egter hoe om met mense te werk en deur die verantwoordelikhede te delegeer, kon hy dit regkry om die tyd vir sy medeprodusente af te staan. Tyd wat hy nooit weer sal terugkry nie.

“Andries en Karin is regte ysters wat vir hul medemens net tot voordeel is,” het Pietman bygevoeg.