Wen is ’n spansport

Gepubliseer: 12 April 2023

518

Beste Grootneef

Rugby is een van die min sportsoorte waar ’n drie eintlik ’n vyf is. ’n Wen kom egter nooit vanself nie. Dit is ook nooit ’n individu wat hom die reg van ’n wen kan toe-eien nie. Dis hope energie om ’n wen moontlik te maak.

Selfs wanneer die bal reg hop vir ’n vleuel om dit in die hoekie van die doelgebied toe te val, word daar vooraf baie werk gedoen om dit moontlik te maak. Die vleuel moes opgevolg het om te gaan werk soek. Die losskakel moes daardie perfekte steekskoppie laat los het oop kant toe. Die skrummie moes die oond skoongemaak het toe die bal by die agtsteman verby is en die voorries moes as ’n eenheid, hard en laag, in die skrum ingegaan het. Dan is daar die afrigter om die span te dril tot ’n skêrbeweging vanself kom, met die manne wat sorg vir fiksheid om aan te hou aanhou. Van dieetkundiges praat ons egter nie vanaand nie.

Wanneer die beker aan die einde van die seisoen omhoog gehou word en die sjampanje spuit, is dit die samevoeging van ’n jaar se harde werk. Die oomblik van glorie vir die vleuel wat op die ou end gaan druk het, is ’n goue oomblik vir die hele span. Daardie energie en aan­sporing spoel oor na ondersteuners wat trots huis toe gaan en oor ’n braai kan spog dat hulle span die beste was.

Maar die verskil tussen hero en zero is soms baie fyn. Habana se onderskepdrieë was die bron van menige vreugdevuur. Wanneer die opponente hom egter sien opskiet het en hulle die bal lank genoeg in die hand gehou het, was daar soms ’n ga­ping so groot soos ’n waenhuisdeur in die Bokke se agterlyn. Soms is dit toegestop met kruisverdediging. Maar soms was dit net nie moontlik om die laaste oorgee-aangee vir ’n drie deur die teenstanders te keer nie. Dis ’n belangrike deel van ’n wenspan – dat die grootsheid van ’n oorwinning gevier kan word, maar dat dit ook deel van die spel is om soms kop onderstebo onder die pale te staan. En dan te aanvaar dat dit okay is om foute te maak, maar daaruit te leer om volgende keer in ’n soortgelyke situasie beter te doen.

’n Span se energie sien jy sommer as hulle op die veld draf – is daar doelgerigtheid of is dit net nog ’n wedstryd? In die eerste paar bewegings sien jy ook of die manne soos laas week voluit teen ’n opponent vashardloop en of die bal lug gegee word om die spel af te wissel en swak plekke te toets. ’n Wedstrydplan is een ding, maar as iets duidelik nie werk nie, moet jy aanpas en meer doen as om net ’n paar skoppe hoog die lug in te sit. Wat groot spanne van goeie spanne onderskei, is die vermoë om as ’n eenheid saam te speel, ongeag die veldtoestande, die skeidsregter of die skare.

Ou Neef, mag dit ook so wees met die Graan SA-span wat die bal namens alle graanprodusente dra. Dat daar as ’n eenheid vorentoe gedryf word. Dat waar nodig, die bal lug gegee word. Om altyd die bal te speel en nooit die man nie. Al blaas die ref ook hóé, dat aangepas word om seker te maak dat die reëls reg vertolk word. Om aan te gaan met die wedstryd, al word die bal ook nou en dan aangeslaan. Om in ag te neem hoeveel tyd oor is om die wedstryd te voltooi. Dat kanse benut sal word om die pale op te soek. Om nie onnodig balle oor die kantlyn te skop in die hoop dat ’n dryfmaal punte op die telbord sal bring nie. Dat daar nou en dan ’n waterbreek gevat sal word om seker te maak almal is nog bymekaar. En om daarop te let as iemand na ’n swaar tackle hinkepink.

Die uitdaging vir die Graan SA-span is om – hetsy as waterdraer, as afrigter of vaskopstut – as ’n span saam te groei om vinniger, ratser en beter te wees. Want die Wêreldbeker Graanspel gaan nie makliker raak nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.