Die krag van geleentheid in die kraguitdaging

Gepubliseer: 28 Februarie 2023

437

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Teen dié tyd is almal al so vuisvoos vir kragkwessies en die soeke na energie-oplossings, maar ek kan nie anders as om ook my stuiwer in die armbeurs te gooi nie.

Die kort en die lank van my storie is dat dit weer eens net die waarde en belangrikheid van die kollektief asook eenstemmigheid van die kollektief gewys het. Dit, per se, is meestal baie makliker gesê as gedaan en dus bly dit een van Graan SA se grootste geleenthede. Daarom is dit een van ons belangrikste fokusareas om ’n breër verteenwoordigingsbasis vir die produsente-organisasie te verkry binne ’n toenemend veranderende en meer gekonsentreerde sektor.

Behalwe vir al die ander voordele sien ek die grootste waarde hierin juis as die diverse insette, idees, wysheid en oplossings wat ons as kollektief kan verkry om sodoende nuwe geleenthede te skep. Die uitdaging wat ons het, is om die prosesse en werksorde so te hanteer dat dit sinvol gekanaliseer kan word ten einde momentum te verkry en dat ons nie onderling met mekaar besig raak nie.

Soortgelyk hieraan is die geleentheid op individuele besigheidsvlak wat die algemene energietekort meebring. Die geleentheid gaan juis daaroor om die effektiwiteit van bestaande installasies te ontleed en reg te stel as deel van so ’n belegging in ’n alternatiewe-energie-oplossing. Die pioniers op die terrein is dit eens dat die regte kundigheid, beplanning en betroubare installeerders van kardinale belang is om die ontledings en aanbevelings te doen. Die wonderlike van die Suid-Afrikaanse produsent is dat ondervinding met son­kragstelsels selfs nuwe idees vir gewaspro­duksiepraktyke en -stelsels inspireer en help ontwikkel het. Eenvoudig fantasties!

Soms vat dit weer ’n kort besoek aan ’n buurland om met die terugkeer opnuut te besef: Te midde van al die unieke plaaslike uitdagings, geniet ons steeds groot voordele en is ons myle voor. Daar is dus hoop en rede om dit so te hou en weer op te bou. Weer eens sal ons dit slegs regkry as ons dit saam aanpak. Tog het ons steeds baie positiewe om aan vas te hou – byvoorbeeld die huidige seisoen se mielie- en sojaboonuitvoerprogramme wat, ten spyte van al die bottelnekke, uitstekend gevaar het en uiters waardevol vir produsente is.

Die huidige omstandighede noodsaak ’n kritiese herbeplanning van elke produsent se medium- en langtermyn- strategiese besigheids­plan. Mag ons mekaar ondersteun en mekaar help om die geleentheid in elke uitdaging te sien om sodoende ’n toekoms te verseker en dit wat ons doen te bly geniet.

’n Deurslaggewende deel van die beplanning in enige besigheid is die menslikehulpbron-gedeelte – ons hoor dikwels suksesvolle besighede ag werkers as hul be­langrikste hulpbron. Met al die versoeke vir opleiding, is dit in Maart vir Graan SA lekker om uitvoering te gee aan dié mandaat met 180 leerlingskappe wat nou beskikbaar is vir basiese opleiding. Dit is werklik intreevlakposisies en leerders met laerskoolvlakopleiding kan gemaklik hieraan deelneem. Hoe alles presies gaan werk, is nog nie honderd persent seker nie, maar die voorwaarde is dat dit buigsaam moet wees en vir klein en groter produsente kan werk.

My versoek is: Dink mooi en positief oor die lang termyn, praat mekaar moed in, investeer in julle werkers en gesels asseblief met mekaar en met Graan SA oor julle behoeftes en idees. Ek kan nie eers begin verduidelik hoeveel dié gesprekke help om idees te vorm en nuwe rigtings te ondersoek nie – en sodoende beweeg ons vorentoe. Dikwels begin die gesprek met “dit is sommer my simpel idee” of “ek weet dié is dalk ’n dom plan”, maar dan is dit juis die hupstoot of die gedagte wat weer ’n ander prentjie duideliker maak. Lekker boer en vergeet van die geraas!