Saad-spanleier opgewonde oor nuwe rol

Magda du Toit, namens Sensako
Gepubliseer: 12 Desember 2022

466

Syngenta se saadafdeling in Afrika suid van die Sahara het ’n nuwe stuurman. Vanaf 1 Augustus vanjaar het Hendrik van Staden die stoel ingeneem as eenheidshoof vir die maatskappy se saadafdeling op die kontinent.

In hierdie hoedanigheid wil Van Staden voortbou op die huidige momentum van die maatskappy se fokus op volhoubare landbou. Hy sal onder meer steeds aandag gee aan die integrasieproses tussen Sensako en Syngenta in Suid-Afrika asook aan die groeistrategie vir somergraangewasse om die uitstekende koringbesigheid te ondersteun.

Syngenta is bekend daarvoor dat hy produsente wil voorsien van ’n wye reeks innoverende basters en variëteite, geentegnologie en gewasbeskermingsprodukte en het wêreldwyd aangekondig dat hy as maatskappy opnuut op die saadbesigheid in Afrika gaan fokus.

Hoewel die Sensako-saadhandelsmerk baie bekend is en oor meer as 60 jaar sy merk in die Suid-Afrikaanse saadbedryf gemaak het met uitstekende navorsing en teling wat gedoen is, wil Van Staden daarop voortbou met ’n hernude fokus op somergraangewasse.

Hy glo sterk in waardetoevoeging en ook in die handhawing van goeie verhoudinge met kliënte en is passievol oor die geleent­hede wat Syngenta aan plaaslike produsente bied.

“Die landbousektor lê my na aan die hart en ek het ’n groot voorliefde vir verkope en bemarking. Interaksies met kliënte inspireer my en ek is vas oortuig daarvan dat goeie verhoudinge ’n deur­slaggewende hoeksteen vir besigheidsukses vorm. Ek glo ook dat ’n produkpyplyn met saad van goeie gehalte en produkte nie net beter opbrengs verseker nie, maar dat dit ook ’n noodsaaklike rol speel om produksie-uitdagings die hoof te bied. Goeie produkte, gekoppel aan goeie diens en kundige raad, maak dit vir produ­sente makliker om kos te produseer en natuurlike hulpbronne slim en volhoubaar te gebruik.

So sien hy sy nuwe rol
“Ek sien uit daarna om die verantwoordelikhede wat die nuwe rol inhou met beide hande aan te gryp en om in die voetspore van vorige leiers te volg. My werk is inderdaad om produsente te verse­ker dat Syngenta die Sensako-handelsmerk ondersteun en dat die maatskappy wil voortbou op die uitstekende fondasie wat deur Sensako gelê is. Ons sal steeds fokus op die ontwikkeling van nuwe produkte wat maksimale opbrengste sal lewer en om saad van hoogstaande gehalte te produseer, maar ook om hierdie kultivars so vinnig as moontlik te kommersialiseer en na die mark te bring. Die Sensako-strategie en teenwoordigheid is hier om te bly. Ek sal alles binne my vermoë doen om hierdie doelwitte te bereik en om selfs nog te verbeter op wat ons vandag aanbied.”

Hierdie pad is egter nie sonder uitdagings nie. Een daarvan is die terughou van saad van selfbestuiwende gewasse, soos ko­ring. “Sonder eindpuntheffings kan ons nie volhoubaar in teelprogramme, biotegnologie en nuwe kiemplasma en saadproduksies investeer nie,” verduidelik Van Staden.

“Omdat ons nie weet hoeveel saad boere in die komende seisoen gaan koop nie, maak dit die beplanning van produksies en die verwerking van gesertifiseerde koringsaad uiters moeilik. Ons moet produsente kontrakteer om vir ons produksies te plant en daarna moet ons die saad verwerk en versak. Omdat ons nie weet wat die behoefte gaan wees nie, kan ons nie verseker dat daar genoeg saad van elke kultivar beskikbaar sal wees nie.”

Hy voeg by dat terughousaad bykomend inhou dat saad­maatskappye nie ’n voldoende inkomste en ook rendement op hul belegging in navorsing en kultivarontwikkeling ontvang nie. Dit veroorsaak dat graanopbrengste oor tyd stagneer en nuwe tegno­logieë buite bereik van plaaslike produsente bly.

Van Staden meen eindpuntheffings is ’n groot hulp en dat dit in plek moet bly ter ondersteuning van die saadbedryf. “Die vergoeding wat ons as saadmaatskappye tans ontvang deur die eindpuntheffings wat op sekere gewasse gehef word, maak dit moontlik om weer op ’n kostedoeltreffende manier in die wintergraansaadmark te investeer en betrokke te bly. Gelukkig besef die meeste van ons graanprodusente die waarde van die heffings en moet ons die nodige krediet aan die graanprodusente gee vir hulle samewerking met die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) in dié verband.

“Ons sien reeds die voordeel van hierdie inspuiting in nuwe koringkultivars en is besonder opgewonde oor SST 0166 wat tans in die mark is, asook SST 0187 en SST 0208 wat in 2024 beskikbaar gaan wees. Ons is ook opgewonde oor die vordering wat gemaak word met koringkultivars wat spesifiek geskik gaan wees vir die Noord-Kaap se besproeiingsgebiede.”

Hendrik van Staden is die nuwe eenheidshoof vir Syngenta se saadafdeling in Afrika suid van die Sahara.

Hy wys verder daarop dat dit uiters voordelig is om deel te wees van ’n multinasionale maatskappy soos Syngenta. Van die voordele sluit die volgende in:

  • Toegang tot beter en groter platforms vir biotegnologie, kiemplasma, stelsels, kundigheid en apparaat.
  • Toegang tot ’n uitstekende koringroesspan wat op die identifisering van weerstandsgene fokus en wat ook oor biotegnologievaardighede beskik om gene in Suid-Afrikaanse materiaal in te bou. Hierdie hou besondere voordele in ten opsigte van die nuwe geelroesras wat die afgelope seisoen waargeneem is.
  • Suid-Afrika beskik oor Syngenta se enigste lentekoringprogram binne die Sensako-handelsmerk. In ander dele van die wêreld fokus hulle op die ontwikkeling van winterkoringtipes waar die vordering heelwat stadiger is. Syngenta het baie navorsingsfondse spandeer om tegnologie en sisteme te ontwikkel om dié proses drasties te verkort. “Natuurlik sal ons in Suid-Afrika ook baat vind by die werk wat Syngenta gedoen het om sodoende kultivars vinniger te kommersialiseer as wat tans die geval is,” sê Van Staden.
  • Toegang tot die massiewe en waardevolle kiemplasmabank vir koring waaruit belangrike weerstands- en ander waardevolle gene geïdentifiseer kan word.
  • Syngenta ondersoek tans opsies om produkte te ontwikkel met ’n laer stikstofbehoefte en Suid-Afrika sal ook daaruit voordeel trek.
  • Die deel van kundigheid tussen die plaaslike saad- en chemie­se spanne tot voordeel van die plaaslike produsent. Met hierdie samewerking kan sekere interaksies tussen die kultivars en chemiese produkte (onkruid- en insekdoders) en saadbehandelingsprodukte optimaal benut word om maksimum opbrengs­prestasie aan produsente deur te gee.
  • Droogteverdraagsaamheid geniet hoë prioriteit op ’n globale vlak. Onder die Sensako-handelsmerk is mutante lyne ontwikkel wat oor droogte- en souttoleransie beskik. Die effek van die lyne moet egter nog gekwantifiseer word en met die fantastiese ge­riewe wat Syngenta beskikbaar het, kan hierdie toets- en kwantifiseerprosesse heelwat meer effektief afgehandel word.
  • Syngenta plaas groot klem op saadsuiwerheid en het in protokolle belê wat gebaseer is op DNS-vlak om suiwerheid bevestig.
  • Die samewerking tussen Syngenta en John Deere hou legio voordele vir Suid-Afrikaanse produsente in, veral ten opsigte van die benutting van tegnologie wat deur beide maatskappye gebruik word om dit tot die produsent se voordeel aan te wend.

Syngenta het ook onlangs goedkeuring verkry vir die algemene vrystelling van die nuwe geentegnologie, Viptera, wat toleransie bied teen die belangrikste Lepidoptera-spesies in mielies, soos stronkboorders, herfskommandowurm en snywurm. “Die eerste kommersiële mielieproewe met die Syngenta-geen word vanjaar wyd geplant en ons sien uit daarna om die resultate met ons kliënte te deel.”

Hy voeg by dat hy net so opgewonde is oor die moontlikhede wat Syngenta as die wêreld se voorste sonneblomrolspeler vir die plaaslike bedryf bied. “Die Syngenta-sonneblomkultivars se olie-opbrengs is nagenoeg 10% tot 12% beter as die gemiddelde olie-opbrengs en weens ’n premie wat produsente vir olie ontvang, dink ek die mark sal groei soos aankopers besef daar is waarde in ’n hoër olie-inhoud in sonneblom.”

Vennootskappe bly belangrik
Volgens Van Staden geniet die lisensie- en samewerkings­ooreenkoms met landboubesighede soos Kaap Agri, Overberg Agri en SSK, wye ondersteuning binne Syngenta en kan baie van die Sensako-handelsmerk se sukses aan hierdie vennootskappe toegeskryf word. “Die vennootskap verseker dat ons saad en diens op die boer se voorstoep is. Ons besef samewerking tussen landboubesighede, graanprodusente en Syngenta is noodsaaklik vir die ontwikkeling van tegnologie.”

Hy voel ook sterk oor die koringteelprogramme en sal graag wil sien dat Syngenta, met die Sensako-handelsmerk, die grootste rolspeler in die land bly wat aktiewe koringteling in die Wes-Kaap doen. Hy wil egter nie net die teelprogram beskerm nie, maar wil sien dat dit uitbrei en verbeter om sodoende so vinnig as moontlik nog meer waarde aan die produsent te bied.

“Ons moet verseker dat ons saad van uitstekende kwaliteit met die beste genetika, gewasbeskerming en kiemplasma moontlik aan elke graanprodusent beskikbaar stel om hulle in staat te stel om volhoubaar en koste-effektief te boer. Produsente moet weet dat wanneer hulle in Sensako-kultivars belê, hulle met die genetika tot hulle beskikking, goeie dividende op hulle beleggings kan verdien.”