Rus en vrede nodig om voedsel te produseer

Gepubliseer: 12 Desember 2022

611

Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

Ons weet almal dat behoorlike en sorgvuldige bestuur en verantwoordelikheid, veral in ’n publieke konteks, glad nie van Suid-Afrika se sterkpunte is nie. Daarom dat enige sprake of suggestie van regulering van markte die nekhare behoorlik laat rys en die ore laat spits.

Graan SA was die afgelope paar maande in verskeie gesprekke gewees waar sulke voorstelle gemaak is. Met al die globale krisisse is dit seker verstaanbaar, maar na amper drie dekades van deregulering is dit moeilik om te glo dat sommige besighede dit onder die huidige omstandighede as ’n oplossing kan sien. Ek is om verskeie redes bekommerd oor sulke denke of voorstelle, omdat ons tans daadwerklik akrobaties op ’n mespunt verkeer. Om net ’n paar te noem: die onaanvaarbaar hoë vlakke van korrupsie en wanbestuur, die totale gebrek aan dienslewering en die onvermoë van die ekonomie om volhoubare indiensnemingsvlakke te verbeter en selfs net te onderhou.

Ek het vroeër al geskryf oor die druk op Afrika in die toekoms, maar het onlangs ’n ander perspektief ook gekry. Volgens The Economist het die wêreldbevolking so pas die agtmiljardkerf verbygesteek en pessimiste is dit steeds eens dat omgewingsrampe wydverspreide hongersnood gaan veroorsaak. Die vorige twee spronge met ’n miljard het elk twaalf jaar geduur: van ses miljard mense in 1998 tot sewe miljard in 2010 en toe weer tot 2022. Die volgende sprong na nege miljard word oor 15 jaar of in 2037 verwag, dus ’n dalende koers.

Wat ’n mens se oë egter laat rek, is die verwagting dat 50% van die voorspelde populasiegroei in die volgende 28 jaar – dus tot 2050 – in slegs agt lande gaan wees. Vyf is in Afrika (die Kongo, Egipte, Ethiopië, Nigerië en Tanzanië) en die ander drie in Asië (Indië, Pakistan en die Filippyne).

’n Ander interessante feit is dat die Afrika-kontinent nou reeds meer mense as Europa en Noord-Amerika saam het en dit teenoor die eenderde-verhouding van 42 jaar gelede (1980). As ek so na die syfers kyk, verstaan ’n mens dalk beter waarom China se fokus in Afrika is om die kontinent te help om sy eie voedsel te produseer sodat Afrika nie in die nabye toekoms in China se huidige voorsieningsmarkte gaan inmeng nie.

Die hartseer statistiek is dat nage­noeg 10% of 828 miljoen mense wêreldwyd daagliks nie genoeg kos het om te eet nie. Hiervan leef ongeveer 60% in lande wat onder konflik gebuk gaan. Dit is juis die gevaar, veral met wat ons almal onlangs beleef het, naamlik die konflik tussen Rusland en die Oekraïne wat kunsmis aansienlik duurder laat word het as gevolg van die styging in die prys van natuurlike gas. Dit klink so eenvoudig, maar kyk die ongelooflike swaarkry en impak op sekere gedeeltes van die popu­lasie en dit oor die hele wêreld.

Verder is dit skokkend om te besef dat ons nou vir die derde jaar in ’n ry meer graan wêreldwyd gebruik het as wat ons geproduseer het. Ons gaan dus ’n paar rekordoeste benodig om weer die voorrade op te bou.

Vir my is die slotsom eenvoudig die absolute belangrikheid en waarde van betekenisvolle verteenwoordi­ging, om as ’n eenheid saam te dink en die gemeenskaplike doel na te streef. Ek besef dat dit oor die jare moeilik was, maar daar is nie ’n belangriker tyd as nou om dit reg te kry nie. Georganiseerde landbou werk hard om meer effektief saam te werk, gemeenskaplike doelwitte te verwesenlik en mekaar sodoen­de te ondersteun, maar dit is nodig dat ons oortuigend namens die produsent praat en daarom is daar geen ander keuse as om te assosieer nie.

Ons het weer opnuut gesien dat onrus voedselpryse opjaag, maar so weet ons ook dat hoë voedselpryse tot onrus kan lei. Al wat produsente eintlik nodig het, is om in rus en vrede te produseer, aangesien Moeder Natuur genoeg uitdagings bied. Ek wens almal ’n geseënde Kersfees toe – kom ons vertrou saam vir nog ’n geseënde seisoen. Veilig wees, fokus op wat jy kan beheer en ondersteun mekaar – ons het dit so nodig.