Produsentpryse vir insette hier vergelyk

Gepubliseer: 9 November 2022

1719
Heleen Viljoen, junior landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

Enige graanwaardeketting se eerste skakel is landbou-insette. In ’n tyd waar produsente geweldige prysdruk ervaar, is dit deurslaggewend om seker te maak dat die regte pryse vir insette betaal word. Die 2022/2023-produksieseisoen het in April afgeskop in ’n wêreld vol onsekerheid. Nagevolge van die COVID-19-pandemie, gevolg deur die konflik tussen Rusland en die Oekraïne, het voorsieningskettings geweldig ontwrig.

Graanprodusente in die Wes-Kaap het deelgeneem aan ’n opname wat plaaslike insetpryse (boerpryse) in vier verskillende areas vergelyk. Die resultate was as volg:

Pryse vir landbouchemikalieë
Landbouchemikalieë speel ’n belangrike rol in gewasbeskerming en sodoende opbrengsontwikkeling. Grafiek 1 toon die gemiddelde prys (R/kg) wat produsente per streek vir Sakura betaal het. Die Wes-Kaap se gemiddelde produsenteprys betaal vir Sakura was R5 344,75/ton en van die 16 streke het 44% bo die gemiddeld betaal.

Grafiek 1: Produsenteprys betaal vir Sakura in die Wes-Kaap in 2022.
Bron: Graan SA

Sakura is ’n uiters gewilde produk onder Wes-Kaapse produsente. Grafiek 1 wys hoe wisselvallig die pryse is wat produsente vir die produk betaal. Tussen streek 2 en streek 14 (wat op gemiddelde pryse werk) was daar ’n 21%-prysverskil.

Triflurex 480 EC is ook ’n gewilde produk wat wydverspreid in die Wes-Kaap gebruik word. Van die 37 produsente wat terugvoer gegee het, het 28 die produk gebruik. Figuur 1 toon die gemiddelde produsentepryse betaal per area. Area 1 (strek van Vredenburg tot Eendekuil) en area 2 (van Ceres tot Durbanville) het gemiddeld meer as die Wes-Kaapse gemiddeld betaal. Van die 28 produsente wat terugvoer gegee het, het 57% wel minder as die Wes-Kaapse gemiddeld van R105,51/ℓ betaal. Die groot gemiddelde prysverskil tussen area 1 en area 3 wek kommer.

Figuur 1: Produsenteprys betaal vir Triflurex EC in die Wes-Kaap in 2022.
Bron: Graan SA

Ander landbouchemiese produkte wat ook wydverspreid in die Wes-Kaap gebruik word, sluit in Select 120 EC; Poquer 120 EC; Roundup Powermax en Roundup 480. Gedetailleerde verslae is direk aan deelnemers gestuur.

Kunsmispryse
In enige gegewe produksieseisoen maak kunsmiskoste die grootste gedeelte van ’n produsent se insetrekening uit. Dit is dus een van die belangrikste insette om te monitor. Sedert Januarie 2021 het plaaslike en internasionale kunsmispryse skerp stygende tendense getoon – en dit het eers in Mei van hierdie jaar ’n omkeerpunt bereik. Grafiek 2 toon ureumpryse betaal deur deelnemers oor die hele Wes-Kaap. Dit is kommerwekkend dat produsent 3 41% meer betaal het as produsent 10, met beide wat in Meimaand hul ureum aangekoop het. Tussen 2021 en 2022 se opnames het die gemiddelde produsenteprys vir ureum met 141% gestyg, wat ooreenstem met internasionale tendense.

Grafiek 2: Produsenteprys betaal vir ureum in die Wes-Kaap vir 2022.
Bron: Graan SA

Samevatting
Suid-Afrika se produsente het reeds hierdie jaar swaar getrek as gevolg van hoë internasionale insetpryse. As die fokus op die plaaslike Wes-Kaapse mark geplaas word, word daar onreëlmatighede opgetel. Produsente in area 1, wat strek van Vredenburg tot Eendekuil, het keer op keer meer as die gemiddeld van die Wes-Kaap in geheel betaal.

Graan SA wil graag die produsente bedank wat aan die opname deelgeneem het en dié wat nie deelgeneem het nie, aanmoedig om dit wel te doen. Dit is belangrik om deursigtigheid in die mark te bewerkstellig om sodoende winsgewendheid te bevorder.

Areaspesifieke verslae kan versoek word. Rig navrae aan Heleen Viljoen by heleen@grainsa.co.za.