Faal operateurs in hul belofte aan die graanmark?

Mariana Purnell, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 7 November 2022

670

2020 was ’n belangrike jaar vir die plaaslike graanbedryf. Daar is uit verskeie oorde kommer uitgespreek oor die toeganklikheid tot fisiese produkte, veral witmielies, op die JSE se genoteerde termynkontrakte met ’n Maart 2020-verstryking. Rolspelers was ook angstig oor die moontlike impak op die integriteit van die JSE-mark en spesifiek of daar pryskonvergensie tussen die termynprys en kon­tantprys was by verstryking van die termynkontrakte wat op die JSE genoteer is.

Die JSE het dadelik stappe gedoen om die saak te hanteer. Om die kwessie van fisiese aflewering vir witmielies aan die einde van die 2019/2020-bemarkingseisoen te ondersoek, het die JSE in Desember 2020 ’n onafhanklike oudit laat uitvoer deur ’n kenner op die gebied, die voormalige hoof van Kommoditeite: Kapitaalmarkte, Chris Sturgess. Sy diepte-ondersoek oorweeg die fisiese afleweringsfeite wat beskikbaar is vir witmielies, veral rondom Maart 2020 asook die verskillende fisiese aflewerings, onafhanklike ouditverslae sowel as die maandelikse voorraadverslae soos deur bergingsoperateurs aan die JSE verskaf.

Afleweringstatistieke
Sturgess het bevind dat dit nie ongewoon is vir Suid-Afrika om lae oordragvoorraadvlakke te ervaar nie. Data verskaf deur die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) toon duidelik die variasie in voorraadvlakke van bemarkingseisoen tot bemarkingseisoen. Die witmielievoorraadvlak vir die 2019/2020-seisoen was 473 964 ton en verteenwoordig die vyfde seisoen sedert 1997/1998 en die deregule­ring van die graanmarkte waar oordragvoorraad onder 500 000 ton was. Die laagste oordragvoorraadvlakke is in 2013/2014 aangeteken toe daar slegs 274 318 ton witmielies was.

Inligting spesifiek vir fisiese aflewerings van witmielies op die JSE vir die Maart 2020-vervaldatum het aangedui dat 124 500 ton oor 33 silo’s gelewer is, met die topvyfsilo’s wat 68% van alle voorraad verteenwoordig wat gedurende die Maart 2020-vervalmaand gelewer is. Dit kan vergelyk word met die vorige groot afleweringsmaand, naamlik Desember 2019, toe 134 400 ton witmielies by slegs 19 silo’s gelewer is. Toe was die meeste lewerings weer in vyf persele gekonsentreer waar 88% van alle aflewerings aangebied is.

Indien die Mei 2020-witmielieleweringsinligting ook ingesluit word, is daar baie minder fisiese aflewerings van witmielies – slegs 27 600 ton – en is 76% van alle aflewerings oor net nege van die totale 27 opbergingspersele aangebied.

Al het die hoeveelheid lewerings van maand tot maand ge­wissel, is daar ’n duidelike neiging dat die grootste deel van die JSE-lewerings oor vyf tot nege silo’s gekonsentreer is. Dit sal ook verduidelik waarom houers van lang posisies gefrustreerd voel om toegang tot hul aflewerings te kry, aangesien hierdie persele almal onder druk sou wees om terselfdertyd uit te laai. Dit word veral vererger wanneer daar groot volumes is en die uitlaaivermoë by die persele beperk is.

Uitlaai-infrastruktuur
Sturgess het ook die vermoë van die werklike uitlaai-infrastruktuur vergelyk met die tonnemate wat gelewer is. Gebaseer op die infrastruktuurkapasiteit kon hy ’n duideliker beeld bied van die tydsduur wat dit sal neem om hierdie tonne uit te laai. Die data het uiterste opeenhoping getoon gedurende Desember 2019 en Maart 2020 by sekere silo’s. Hy het sommige silo’s met die langste potensiële wagtydperk uitgelig – Maart 2020 se JSE-aflewerings by NWK se Ottosdal-silo sou 61 dae neem, terwyl Senwes se silo’s, Buckingham en Ventersdorp, onderskeidelik 59 en 48 dae sou neem om JSE-aflewerings in Desember 2019 uit te laai.

Hy maan dat hierdie tendens duidelik gesien kon word wanneer slegs data vir die JSE-uitlaaisertifikate oorweeg word. In baie gevalle sal bergingsoperateurs egter ook kopers bedien wat voorraad op foliorekeninge hou en wat laaigleuwe voor aflewering sou bespreek voordat die houers van JSE-silosertifikate gleuwe bespreek het.

Die bestaande JSE-landboukontrakspesifikasies verplig bergings­ope­rateurs om alle uitlaai-instruksies op ’n eerste-daar-eerste-klaar-basis te hanteer om te verseker dat geen kliënt voorkeurbehandeling bo ’n ander ontvang nie. Soos voorheen genoem, beklemtoon Sturgess dat sy statistieke slegs van toepassing is op produk op JSE-silosertifikate en dit is belangrik om daarop te let dat hierdie uitlaaivermoëns dus as ’n “beste geval”-scenario beskou moet word.

Die uitlaaivermoë van die verskillende afleweringsplekke verduidelik dus die lang periodes wat kopers ervaar om toegang tot hul produk te kry. Uit beide die SAGIS- fisiese voorraadsyfers en die JSE- fisiese afleweringsinligting is dit duidelik dat Suid-Afrika beperkte oordragvoorraad van witmielies gehad het en dat dit wat op die JSE gelewer is, slegs by vyf silo’s gekonsentreer was. Dit bevestig die rede vir die vertraging wat kopers ervaar het, aangesien hulle hul beurt saam met alle ander kliënte sou moes afwag om toegang tot hul produk te kry.

Verhandeling van termynkontrakte
’n Verdere vergelyking wat Sturgess oorweeg het om die probleem te ontrafel, is die persentasie fisiese aflewerings in verhouding tot die termynkontrakte wat verhandel word. Hy het gekyk na die persentasie aflewerings spesifiek gedurende Maart 2020 van alle graanprodukte en neem ook dieselfde verhouding in ag vir die hele 2019. Hier weerspieël die meeste produkte steeds die internasionale norm onder kommoditeit-afgeleide uitruilings waar die persentasie fisiese aflewerings minder as 2% behels van alle termynkontrakte wat verhandel is. Dit toon geen neigings wat kommerwekkend sal wees in ’n afgeleide mark nie. Dit bevestig ook dat fisiese lewerings vir witmie­lies op die JSE in Maart 2020 strook met tipiese groot verskansingsmaande.

Onafhanklike oudit van bergingsoperateurs
Markdeelnemers was ook bekommerd oor bewerings dat bergingsoperateurs JSE-silosertifikate uitgereik het vir voorraad wat nie teenwoordig was ten tye van die uitreiking nie. Vir baie markdeelnemers was dit ’n verduideliking vir die vertragings waarmee hulle gekonfronteer is toe verskeie bergingsoperateurs nie vinnig genoeg die fisiese voorraad aan hulle kon bied nie.

Om hierdie bewerings te ondersoek, het Sturgess gekyk na verslae deur ’n onafhanklike ouditmaatskappy, Commodity Inspection Group Pty Ltd (CI Group), wat ewekansige inspeksies op indivi­duele bergingspersele uitvoer. Die inspeksies fokus op die kwaliteit en hoeveelheid voorraad wat per silobuis geïnspekteer word en dan vergelyk word met die bergingsoperateurs se eie rekords. Verder bekragtig die inspeksie ook berokingskedules, insig in die instandhouding van die terrein en toerusting, onafhanklike verifikasie van graderingsertifikate en uiteindelik algehele indrukke van die ber­gingsterrein.

Die opbergingsterreine wat vir onafhanklike oudit gekies is, het besonder goed oorvleuel met probleemsilo’s en al vyf terreine waar die meerderheid witmielielewering in Maart 2020 plaasgevind het, is geoudit. Alhoewel die ouditdatums nie 100% ooreenstem met die maandeindvoorraadverslag soos deur elke bergingsoperateur aan die JSE verskaf nie, bied dit steeds waardevolle insigte oor die fisiese voorraadhoeveelheid en kwaliteit by elke perseel.

Resultate
Na oorweging van al die inligting en feite wat tydens hierdie studie beskikbaar gestel is, is dit dus duidelik dat die probleme wat rolspe­lers in die graanmark ervaar het die gevolg was van ’n sameloop van omstandighede wat buite die beheer van diensverskaffers was.

Sturgess het bevestig dat daar sedert die ontstaan van die mark vir kommoditeitsafgeleide instrumente in Suid-Afrika nog net een enkele geval deur die JSE ervaar is waar ’n bergingsoperateur versuim het om die witmielies soos aangedui op die silosertifikaat by die aangewese silo te lewer. Dit was ’n geïsoleerde geval en dit demonstreer duidelik bergingsoperateurs se verbintenis tot die mark deur aan al die toepaslike vereistes te voldoen en hul verpligtinge na te kom ten opsigte van JSE-sertifikate wat uitgereik is. Die oudits het ook gevind dat JSE-silosertifikate uitgereik is vir voorraad in Bloemhof toe die voorraad eintlik op ’n ander perseel was. Die silosertifikate is eerbiedig, maar die operateur is deur die JSE beboet.

Die integriteit van die JSE-mark vir kommoditeitsafgeleide instrumente is gebou op ’n betroubare fisiese afleweringsproses. Om te verseker dat die afgeleide kontrakte ’n relevante verskansing bly en dat pryskonvergensie bereik word, moet die mark vertroue hê in die fisiese afleweringsproses. Lees in die volgende uitgawe oor verbeterings aan die JSE-kontrakspesifikasies om deursigtigheid te bevorder.

Toekomsfokus
Na die studie is daar intens gefokus om die uitdagings te hanteer indien soortgelyke markomstandighede weer sou plaasvind. Die JSE se advieskomitee het ’n tegniese taakspan saamgestel om spesifiek uitlaai-uitdagings te ondersoek asook die alternatiewe metodiek vir die differensiaalsisteem.

So werk silosertifikate
Alle landbouprodukte in Suid-Afrika wat op die kommodi­teitsafgeleide mark verhandel word, kan fisies vereffen word by verstryking ter vervulling van ’n termynkontrak. Die JSE maak gebruik van ’n silosertifikaat, ’n oordraagbare maar nie onderhandelbare dokument nie, wat ’n spesifieke hoeveelheid voorraad van sekere kwaliteit in ’n geregi­streerde silo verteenwoordig om aflewering te bewerkstellig. Die silo­sertifikaat kan ’n aantal kere deur die mark terug­gegee word. Eers wanneer ’n silosertifikaat aan ’n stoorope­rateur terugbesorg word vir die uitlaai van die fisiese produk, word die sertifikaat finaal gekanselleer.

As gelisensieerde beurs is die JSE verplig om ’n billike, doeltreffende en deursigtige mark te verseker in die ge­noteerde termynkontrakte wat op sy afgeleide mark verhandel word. Een van die elemente van ’n termynmark wat hieraan voldoen, is dat daar pryskonvergensie tussen die kontantprys en die termynprys van die onderliggende kommoditeit moet wees wanneer die termynkontrak verstryk. Daarbenewens moet daar ook pryskonvergensie wees om te verseker dat die genoteerde termynkontrak as ’n effektiewe verskansingsinstrument gebruik kan word.

Die JSE aanvaar slegs elektroniese sertifikate wat deur geregistreerde bergingsoperateurs uitgereik is. Die integriteit van die JSE-afleweringsproses berus op gepubliseerde vereistes en bestaande ooreenkomste met goedgekeurde bergingsoperateurs wat toegelaat word om JSE-sertifikate uit te reik vir die kwaliteit, hoeveelheid en ligging van produk waar dit gestoor word. Daar is tans 16 geregistreerde ber­gingsoperateurs met meer as 250 geregistreerde aflewerings­punte landswyd.