Winterdekgewasse op droëland: Wat sê die navorsing?

Janet Lawless, InteliGro
Gepubliseer: 6 September 2022

947

Winterdekgewasse bevorder grondgesondheid, maar hulle het ook ’n implikasie vir vogbestuur wat nou vir die eerste keer gekwantifiseer is. Hierdie studie, geïnisieer deur InteliGro, beklemtoon opnuut die kompleksiteit van boerdery en veral die noodsaaklikheid om besluite te neem met die groter prentjie in gedagte.

In eenvoudige terme bevat gesonde grond ’n wye verskeidenheid mikrobes wat almal in balans met mekaar is. Wanneer ’n sekere mikro-organisme die oorhand kry, verander dit maklik in ’n patogeen. Fusarium is ’n goeie voorbeeld. Hierdie swam is noodsaaklik om organiese materiaal in die grond te ontbind, maar die uitsluitlike verbouing van mielies oor dekades in baie dele van die wêreld, het bygedra daartoe dat Fusarium in ’n wortelvrotpes ontaard het.

Grondmikrobes het ’n verskeidenheid lewendige plantwortels nodig om te floreer. In droëlandboerdery lê lande in die winter leeg, met niks om die mikrobes te voed en te stimuleer nie. Teoreties gesproke benadeel so ’n af seisoen die organismes en gevolglik die gesondheid van die grond. Winterdekgewasse klink soos die ideale oplossing: Op dié manier is daar lewendige wortels in die grond en die materiaal kan as veevoer gebruik word.

Water in die weste
Die konsep van winterdekgewasse is in Brasilië ontwikkel, beide as ’n metode om grondgesondheid te verbeter en om grondvog te bestuur. Brasilië se tropiese klimaat verskil egter hemelsbreed van die semiwoestyn- westelike droëlandproduksiegebiede van Suid-Afrika waar water skaars en kosbaar is.

Tradisionele praktyk in hierdie streek is dat lande in die winter kaal lê. Selfs onkruide word aktief uitgeroei om oordragvog te bewaar. Dit kan egter tot erosie lei omdat die bogrond uitdroog en daar is ook nie lewendige wortels in die grond wat mikrobe-aktiwiteit stimuleer nie.

Oor die afgelope paar jaar het produsente begin om winterdekgewasse te plant om die nadele van kaal lande teen te werk.

“In die westelike gebiede is dit egter ’n uitdaging,” sê Gerrie Ludick, tegniese bemarkingspesialis by InteliGro. “Die oordragvog wat die winterdekgewasse gebruik, is die fondasie waarop die opbrengs van die volgende seisoen se somerrygewas gebou moet word. Produsente kan nie bekostig om dit te ‘mors’ nie.”

Droëlandprodusente moet dus die implikasie van dekgewasse in die winter binne die konteks van ’n hele jaar se produksie bena­der. Enige vog wat gedurende die winter uit die grond onttrek word, moet eers weer deur somerreën aangevul word voordat die produsent gelyk kan breek. Indien nie, sal die agterstand blywend wees en kan dit ’n nadelige invloed op die volgende seisoen se opbrengs hê.

Grondvogmetings word met ’n neutronvogmeter gedoen.

Dividendberekening
Die aanvaarde metode om die waarde van winterdekgewasse te bereken, is kilogram vleis per hektaar, gegewe hoeveel skape, beeste of bokke gevoer kan word met die materiaal wat gevestig is danksy die gewas. “Die vog wat die dekgewasse gebruik, is egter nog nooit in Suid-Afrika bepaal nie,” wys Ludick uit. “En om te meet is om te weet.”

Martiens du Plessis, grondkundige by NWK Landboubestuursdienste, is genader om ’n onafhanklike wetenskaplike studie uit te voer. Die data is bepaal deur die gebruik van ’n geykte neutronvogmeter. Die meting is met twaalf vogmeterpype – ses in ’n sojaboonland en ses in ’n mie­lieland – op ’n plaas in die Viljoenskroon-distrik tussen Desember 2020 en April 2021 gedoen. Die mielieperseel was op goed gedreineerde grond en die sojabone op ’n vlak watertafelgrond.

Die eerste bevin­ding was dat winterdekgewasse moeilik vestig in die weste se droë bogrond aan die einde van die somer. Uit die saadmengsel van grasse, knol- en peulplante wat geplant is, het net rog opgekom en gevestig.

’n Tweede bevinding was dat minder vog gedurende die winter onttrek word as wat verwag is, maar dat voggebruik skerp toeneem in die lente. “Dekgewasse moet dus teen einde Augustus, begin September getermineer word voordat hulle groot skade aan die grondvog aanrig,” sê Du Plessis.

Derdens is bevind dat die waterkoste van ’n winterdekgewas aansienlik laer is op ’n vlak watertafel as op ’n gedreineerde profiel. Produsente moet dus versigtig besin oor die lande waar winterdekgewasse geplant word, asook hoe nat die grondprofiel is teen die einde van die somer. “Winterdekgewasse moet verkieslik tot nat seisoene beperk word,” sê Du Plessis. “In ’n droë seisoen kan hulle opvolggewasse betekenisvol benadeel.”

In sy gevolgtrekkings het Du Plessis die hoeveelheid water wat teen einde Augustus en einde Oktober onttrek was, omgesit in kilogram graan. Op 30 Augustus was die verlies aan grondvog wat aan die dekgewas toegeskryf kon word 9,4 mm (98,2 kg/ha mieliegraan) en teen 8 Oktober was dit 18,3 mm (195,6 kg/ha mie­liegraan). Teen R3 800/ton vir mieliegraan is die verlies aan inkomste R373/ha en R743/ha onderskeidelik.

Winterdekgewasbesluit
Die studie het duidelik getoon dat omstandighede die besluit oor winterdekgewasse moet bepaal. In nat seisoene is winterdekgewasse uitstekend om biologiese diversiteit en grondgesondheid te verhoog, maar in droë seisoene kan die risiko vir die volgende somergewas se opbrengs te hoog wees.

“In sommige jare sal dekgewasse sin maak en in ander jare nie, veral in die droë gebiede,” sê Ludick. “Die wins in kilogram vleis per hektaar moet meer wees as die verlies aan graanopbrengs gemeet in kilogram graan per hektaar. Maar ons het ook ’n plig ten opsigte van volhoubaarheid. ’n Belegging in grondgesondheid het ’n koste-implikasie op die kort termyn, maar dit is ’n verantwoordelikheid wat nie geïgnoreer kan word nie.”