Meesterplan nie perfek nie, maar beslis ’n tree in die regte rigting

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 5 September 2022

690

Die Landbou- en Agri-prosesseringsmeesterplan (beter bekend as AAMP) wat op 12 Mei 2022 deur die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD), Thoko Didiza, onderteken is, is van groot waarde – nie net vir landbou in Suid-Afrika nie, maar spesifiek ook vir die kommersiële produsent.

Dit is die mening van dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbe­stuurder van Graan SA, wat namens die organisasie deel was van die onderhandelinge. “Die dokument is geensins perfek nie en ek weet nie of ons ooit by ’n perfekte meesterplan sal uitkom nie, maar in hierdie dokument is daar beginsels op skrif gestel waarmee ons kan werk om die regering verantwoordbaar te hou. Baie van die kommentaar wat ons as produ­sente-organisasie in belang van die graanbedryf gelewer het, is wel in die plan geïnkorporeer. Daarom is die implementering daarvan vir ons van kritieke belang.”

Sifiso Ntombela, hoofekonoom by die Nasionale Landboubemarkingsraad en dr Pieter Taljaard tydens Graan SA se ondertekening van die Landbou- en Agri-prosesseringsmeesterplan.

Binne in die 74-bladsydokument word die visie van die meesterplan soos volg uit­eengesit: Om ’n groeiende, billike, inklusiewe, mededingende, werkskeppende, laekoolstof- en volhoubare landbou- en landbouverwerkingsektor daar te stel.

Dr Taljaard meen dat as daar na die oorhoofse doelstellings van die meesterplan gekyk word, is daar baie om oor positief te voel. “Dit is uit hierdie doelstellings vir ons duidelik dat die regering die erns van voedselsekerheid en die vooruitgang van die sektor besef. Voedselsekerheid en veral die bekostigbaarheid van voedsel, is vir my persoonlik een van die grootste risiko’s waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word en ons het nodig om as rolspelers in die sektor beleid te implementeer wat veilige, bekostigbare voedsel op tafels sal verseker.”

Die doelstellings van die meesterplan is om:

  • Voedselsekerheid in Suid-Afrika te verhoog;
  • transformasie in die landbou- en landbouverwerking­sektore te versnel en te bevorder;
  • beter toegang tot die markte te verseker;
  • mededingendheid en entrepreneursgeleenthede deur tegnologiese innovasies, infrastruktuuront­wikkeling en digitalisering te verbeter;
  • effektiewe produsente-ondersteuning en -aansporing daar te stel;
  • ordentlike en inklusiewe indiensneming, verbeterde werksomstandighede en ordentlike betaling in die sektor te verseker;
  • boerderygemeenskapveiligheid te verhoog en vee- en gewasdiefstal en plaasaanvalle hok te slaan;
  • ’n bekwame staat daar te stel en ’n bemagtigende beleidsomgewing te skep; en
  • veerkragtigheid teen klimaatsverandering en bestuur van natuurlike hulpbronne te verhoog.

Ander aspekte wat deur rolspe­lers uitgelig is en wat uiteindelik as pilare vir die suksesvolle implemente­ring van die plan geïdentifiseer is, sluit die inves­tering en onderhouding van infrastruktuur soos elektrisiteit, paaie, hawens en spoorlyne in. Verder is dit nodig om beleidsonsekerhede uit te skakel en sodoende ’n sektor te skep wat investering aanmoedig. Daar is ook groot klem geplaas op die plaaslike mark en om invoere te verminder of te vervang en uitvoere (winsgewend) te verhoog.

Graan SA is veral opgewonde oor die gemengdefinansie­ringskema (in Engels afgekort BFS vir blended finance scheme) en die intense fokus daarop in die meesterplan as “hoofbron” van ontwikkelingsfinansiering. “BFS is ’n nuwe geleentheid en potensiële oplossing vir grondhervormingsprojekte. Dit is ’n vryemarkgedrewe beginsel wat deur die kommersiële banke werk, waar die bedryf en private sektor die geleentheid het om begunstigdes te identifiseer. So word korrupsie tot ’n groot mate hokgeslaan. Ons begin ook meer gereeld hoor hoe die regering amptelik hierna verwys in die soeke na alternatiewe finansieringsoplossings.

“Dit is vir Graan SA belangrik om te sien dat opkomende boere winsgewend is. Die meesterplan is in lyn met ons eie visie om hierdie boere by te staan sodat hulle kommersieel volhoubaar kan boer en op hulle eie voete staan, om so by te dra tot voedselsekerheid.”

Dr Taljaard meen dat die volgende stap vir die graanbedryf die daarstel van ’n graanwaardeketting-gespreksplatform (round table) is. “Ons benodig ’n platform waar ons mekaar as rolspelers tot verantwoording kan roep om te vra hoe ons vorder met die implementering van hierdie meesterplan.” Vir hom is die grootste frustrasie egter die tempo van besluitneming en implementering. “Al die landboubedrywe is gekonsulteer en hoewel ons graag sal wil fokus op graan, moet ons al die bedrywe se vordering ook in ag neem.”