Doeltreffende beheer van taai onkruide in mielies

Bennie Buys, Produkbestuurder: Onkruiddoders Philagro SA
Gepubliseer: 1 Augustus 2022

839

Yamato® 480 SC van Philagro is ‘n bewese troefkaart in die stryd teen hardnekkige onkruidsoorte in mielielande.

Taai en weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruide huiwer nie om mielieopbrengste ‘n knou te gee nie, en dit is juis hier waar Yamato® behoorlik sy staal wys. Met sy unieke chemie bied dié produk doeltreffende beheer van ‘n wye verskeidenheid onkruidsoorte in talle grondtipes; met aanpasbare voor- en na-opkoms toedieningsopsies.

“Weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruidsoorte bly ‘n uitdaging vir mielieboere in hul soeke na doeltreffende beheer van onkruidmededinging in mielielande,” het Bennie Buys, Philagro se Produkbestuurder vir Onkruiddoders gesê. “Ons plaaslike navorsingsproewe het gewys dat Yamato® veilige gewasbeskerming bied en hoogs aanpasbaar aangewend kan word na gelang van elke boer se spesifieke behoeftes,” het hy verduidelik.

Die toename in weerstandbiedende onkruidbevolkings het in die afgelope paar seisoene aansienlike verliese in verskillende gewasse veroorsaak. Die aanpasbaarheid van taai en weerstandbiedende onkruidsoorte in verskeie produksiegebiede laat ‘n groot hoeveelheid sade agter wat uiteraard ‘n impak op die volgende seisoen sal hê.

Unieke chemie
Yamato® is deur Kumiai Chemical Industries in Japan ontdek en is reeds in ‘n wye verskeidenheid toestande en gewasse met groot sukses wêreldwyd gekommersialiseer. Die aktiewe bestandeel, piroksasulfoon, spog reeds in verskeie lande met ‘n benydenswaardige reputasie vir doeltreffende beheer van moeilik-beheerbare onkruide.

Vanuit ‘n tegniese perspektief inhibeer piroksasulfoon onkruide vroeg in die ontkiemingsproses. Dit word hoofsaaklik deur die hipokotiel en koleoptiel opgeneem en tweedens deur die wortels van die onkruidsaailinge.

Verskeie plaaslik-beproefde kombinasies met ander geregistreerde middels bied Suid-Afrikaanse mielieboere nou bewese opsies vir veilige, langwerkende onkruidbeheer. Boonop spog Yamato®, aangedryf deur “AZEEV Technology”, met talle uitnemende voordele onder andere dat die produk geskik is vir bykans alle grondtipes, ongeag die klei-inhoud, en dit is veilig om voor- en selfs na-opkoms in mielies toe te dien.

Voorts gebruik Yamato® 10 tot 20 keer minder aktiewe bestanddeel as ander soortgelyke, vergelykbare produkte (byvoorbeeld, een liter geformuleerde produk kan tussen 5 en 10 hektaar behandel). Boonop loog Yamato® min en die produk bly dus langer in die boonste laag van die grond waar gras en breëblaaronkruide gewoonlik ontkiem vir beduidende langer nawerking. Dit alles lei natuurlik tot bykomende voordele en besparings in stoorplek, vervoer en ander kostes.

Betroubare gewasveiligheid
Uitgebreide proewe in Suid-Afrika en verskeie ander lande wys dat Yamato® tenkmengsels en spruitprogramme met Yamato® wat volgens etiket-aanbevelings gekombineer word, uiters betroubaar is wat gewasveiligheid aanbetref. Weens die verskeidenheid groeitoestande in die verskillende streke van ons land, en die voorkoms van diverse gras- en breëblaaronkruidsoorte en kombinasies daarvan, beveel Philagro se Tegniese personeel tans altesaam 14 moontlike produkkonsepte aan met Yamato® as die ankerproduk. Hierdie kombinasies is spesifiek ontwikkel vir streke met verskillende klimaattoestande en sones; met spesifieke weerstandbiedende en moeilik beheerbare onkruidsoorte in gedagte.

Yamato® se breë spektrum van beheer bied produsente ‘n bewese metode om hardnekkige onkruide te beheer. Skoon lande dra uiteraard altyd by tot gesonde gewasse en groter opbrengste.

Volgens Henk van der Westhuizen, Besturende Direkteur van Philagro, bied Yamato® aan mielieboere die geleentheid om hul lande beter te kan bestuur deur gras en breëblaaronkruid veilig en doeltreffend te beheer. Die vermoë om verskeie kombinasies na gelang van spesifieke behoeftes toe te dien, bied produsente waardevolle opsies om hardnekkige onkruidprobleme hok te slaan.

Yamato® is beskikbaar deur Philagro se landwye handelaarsnetwerk, AECI Plant Health en Laeveld Agrochem (LAC).

Vir meer inligting hieroor besoek www.philagro.co.za of skakel Bennie Buys by 082 809 5447.

Yamato® 480 SC (Reg. nr. L10746, Wet nr. 36 van 1947) bevat piroksasulfoon, skadelik. Yamato® is die geregistreerde handelsmerk van Kumiai Chemical Industry Co., Ltd, Japan.

Skoon lande dra altyd by tot gesonde gewasse en groter opbrengste.