Lugbespuiting: Hanteer tenks en kanne só

Gepubliseer: 4 Julie 2022

700
Karina Muller,
SA Graan/Grain-medewerker

Produsente is welbekend met die regulatoriese prosedures wanneer plaag- of insekdoders met trekkers op landerye gespuit word, maar hoe werk dit in die geval van lugbespuiting?

Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs- en rentmeesterskapbestuurder by CropLife SA, sê die landbouer gee die opdrag aan die lugbespuiting­onderneming om landerye te bespuit. Hy voorsien die vars water en insek- of plaagdoder en is, met die hulp van sy gewasadviseur, verantwoordelik vir die meng daarvan in die vliegtuig se spuittenks. Dit is veral noodsaaklik om te bepaal of die plaag- of insekdoder wel via lugbespuiting toegedien mag word.

Chris van den Berg (Van den Berg Lugbespuiting in Douglas in die Noord-Kaap) verduidelik dat die produsent die plaag- of insekdoders beskikbaar het wanneer die vliegtuig op die plaas land. Die vliegtuig het ’n mengtenk waarin die water en gifstowwe gemeng word. Die leë gifkanne word, volgens voorgeskrewe regulasies, drie maal in die mengtenk uitgespoel.

“Wanneer ons weg van ons basis op ’n plaasbaan werk, kan dit gebeur dat ons op een dag twee of meer gewasse bespuit. Die chemikalieë wat vir die een gewas gebruik is, kan skadelik vir die volgende een wees. Die vliegtuigtenks moet dus behoorlik uitgespoel word. Skoon water word in die tenk getap en deurgemeng. Ons vlieg dan weer oor die land wat ons pas bespuit het, en spuit die tenk leeg.”

By hul basis word die vliegtuig deeglik op ’n sementblad gewas en uitgespoel. Die afloopwater word na ’n sementverdampingsput herlei.

Die vlieënier moet die spuitaksie in sy spuitlogboek aanteken en die produsent voorsien van ’n rekord van wat gespuit is.

Vereistes vir lugspuitvlieëniers
Daar is streng vereistes waaraan ’n lugspuitvlieënier moet voldoen. Behalwe vir ’n vlieglisensie en ten minste 300 vliegure, moet die lugspuitvlieënier ’n lugbespuitingsgradering (ag rating) hê. Hierdie gradering behels sowat 20 vliegure by ’n goedgekeurde vliegskool.

Hier leer die vlieënier hoe om veilig laag en onder deur kraglyne te vlieg (gevare wat met lugbespui­ting gepaard gaan) asook ander noodsaaklike punte soos om tenks veilig uit te spoel en watter spuitkoppe gebruik moet word.

Verder moet die lugspuitvlieënier geregistreer word as ‘n lugbespuiting plaagbeheeroperateur deur die Registrateur van Wet No. 36 van 1947 om dienste as lugtoediener te bied.

Produsente wat hul eie lande bespuit, het nie ’n kommersiële vlieglisensie nodig nie, maar moet steeds aan al die ander vereistes voldoen.

Vereistes vir lugbespuitings­ondernemings
Die onderneming moet ’n bedryfslisensie (Aircraft Operating Certificate – AOC) hê.

Hierdie tipe toediening word deur drie stelle regulatoriese raamwerke gereguleer, naamlik die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels (Wet Nr. 36 van 1947), die Burgerlugvaartwet (Wet Nr. 13 van 2009) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir Lugtoediening van Plaag­doders (SANS10118) sowel as die ondersteunende regu­lasies van die twee wette.

Lugtoediening van plaagdoders vereis veel meer as grondtoediening weens die verhoogde risiko van hierdie metode van toediening en die vaardighede wat daarvoor nodig is.

Registrasie vir lugtoediening
’n Plaagdoder moet geregistreer word vir lugtoedie­ning om as sodanig gebruik te word en die etiket van so ’n plaagdoder sal sekere klousules van SANS10118 inkorporeer en spesifieke instruksies vir lugtoediening by die gebruiksaanwysings hê.

Indien ’n etiket nie hierdie inligting het nie, mag die plaagdoder nie deur lugbespuiting toegedien word nie. Een van die grootste probleme wat ondervind word met lugtoediening is tenkmengsels; dit is nie ongewoon vir ’n vliegtuig om op te styg met ’n mengsel van tot sewe verskillende plaagdoders in die tenk nie.

Bo en behalwe die wetlike gevolge van sulke onverantwoordelike praktyke, is die verenigbaarheid van al die plaagdoders in een tenk baie problematies. Sommige plaagdoders is eenvoudig onversoenbaar weens verskillende pH-vereistes of chemiese reaksies wat dit kan deaktiveer.

Nog ’n probleem voortspruitend uit sulke tenkmengsels is dat dit nie genoeg water het om die aktiewe bestanddele effektief op die teiken te deponeer nie, met swak produkprestasie, ongewenste sinergisme of antagonisme as die moontlike gevolge. Die eenvoudige reël is om etiketaanwysings na te volg en nie daarvan af te wyk nie.

Moets

  • Kyk op die etiket of die plaagdoder vir lugtoediening geregistreer is.
  • Dring daarop aan dat die gewasadviseur plaagdoders wat vir die gewas, die plaag, onkruid of siekte en vir lugtoediening geregi­streer is, aanbeveel en voorsien.