Diploma in landbou word hoog geag in die Wes-Kaap

Gepubliseer: 6 Junie 2022

2434
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain-
medewerker

Statistieke SA se verslae wys daarop dat indiensneming in die landbousektor vanaf die vierde kwartaal in 2020 tot en met die vierde kwartaal in 2021 met 57 000 poste toegeneem het. Vir toekomstige studente wat graag ’n loopbaan in dié sektor wil betree, is dit goeie nuus. Die verkryging van ’n landboudiploma as ’n alternatief vir ’n graadkursus is ’n uitstekende opsie met die oog op suksesvolle toekomstige indiensneming.

Die vraag word egter dikwels gevra op watter wyse daar ’n keuse tussen ’n diploma- of ’n graadkursus gemaak moet word? Alhoewel toelatingsvereistes tot ’n bepaalde kursus ’n deurslag­gewende rol sal speel, is daar ook ander faktore wat in berekening gebring moet word, soos die beskikbaarheid van voldoende fondse, ’n voornemende student se algemene landboubelangstellingsveld en die moontlike beroepsrigting wat hy/sy wil volg.

Voornemende studente wat egter prakties toegerus wil wees in ’n spesifieke landbourigting sal groot baat daarby vind om ’n driejaardiploma in landbou, by onder meer die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut naby Stellenbosch of die Kaapse Skiereiland­ Universiteit van Tegnologie (KSUT) met sy landboufakulteit in Wellington, te verwerf.

Doel van ’n diploma
“’n Diploma in landbou het ten doel om ’n student op te lei deur ’n gesonde balans tussen die teorie en praktyk te handhaaf. Die uitgangspunt is dat daar veral klem gelê moet word op die vermoë om teoretiese kennis suksesvol in die praktyk toe te pas,” sê Darryl Jacobs, adjunk-direkteur-generaal: Landbou-ontwikkeling en Ondersteuningsdienste by die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

“Suksesvolle opleiding in landbou vereis nie net goeie akademiese opleiding nie, maar noodsaak ook praktiese ervaring en blootstelling aan praktyke. Daarom sluit ’n landboudiploma­kursus van drie jaar ’n finale praktiese jaar op ’n plaas of by ’n landboubesigheid in. Aan die einde van die studietydperk het studente die voordeel dat hulle ’n formele kwalifikasie verwerf het plus ’n jaar se werksondervinding agter die blad het.

“Daar is ’n groot behoefte in die landbousektor om sodanige kandidate in diens te neem. Werkgewers vind dit koste-effektief as ’n werknemer met kundigheid by indiensneming dadelik skouer aan die wiel kan sit sonder dat daar eers waardevolle tyd aan opleiding gespandeer moet word,” sê Jacobs.

Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut
Die diplomakurrikulum by die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut gee aan ’n student die vryheid om te spesialiseer in ’n veld van belangstelling. Dit is dus uiters gepas vir die student wie se fokus op spesifieke landbouproduksie-aktiwiteite gerig is, soos byvoorbeeld kleingraanproduksie.

Daar word aandag gegee aan agro­nomie en ’n student kan tydens die tweede semester van sy eerste jaar ’n keuse uitoefen om in graanproduksie as ’n studierigting te spesialiseer. Dit behels onder meer ’n inleidende oorsig van agronomie wat fokus op die verskillende tipes graangewasse, waaronder koring, gars, hawer, kanola, lupiene en alternatiewe gewasse.

Tydens die tweede jaar word vakke soos graanproduksie en gewas- en oesbeskermingspraktyke aangebied. Dit sluit in gewasbestuur en -beskerming, grondkunde, wisselbou van gewasse, bewaringsbeginsels sowel as produksiepraktyke van verskillende graantipes asook tipes masjinerie, oespraktyke, berging en graderingsbeginsels. Die derde jaar word daaraan gewy om ervaring in die praktyk op te doen.

Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie
KSUT kan ook oorweeg word deur studente wat graag ’n landboudiploma wil verwerf. Die instansie se Wellington-kampus is geleë in ’n rustige landelike omgewing en is ideaal vir die opleiding van landboustudente wat onder meer ’n loopbaan in die kleingraanbedryf wil volg.

Twee diplomaprogramme word aangebied. Die diploma in Landbou het ’n tegniese fokus en bestaan uit ’n aantal keusevakke wat fokus op groot produksiestelsels, waaronder gewasverbouing en agronomie. Vakke in landbouvoorligting en gewasbe­skerming vorm ook deel van hierdie diploma.

Die diploma in Landboubestuur het ’n bestuursfokus. Vakke soos arbeidsreg en menslikehulpbronbestuur vorm die ruggraat van die kursus, maar dit word verder ondersteun deur tegniese vakke soos gewas­produksie.

KSUT gebruik ook die werksgeïntegreerde leermetodologie en na twee jaar van formele akademiese opleiding op kampus, word die derde jaar toegewy aan erva­ringsleer waar studente in die bedryf geplaas word vir praktiese ervaring op ’n plaas of by ’n landboubesigheid.

Navrae
Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut: E-posadres: study@elsenburg.com; kontaknommer: 021 808 5451; webbladadres: www.elsenburg.com.
KSUT: E-posadres: bolilityea@cput.ac.za of vanwyk@cput.ac.za; kontaknommers: 021 864 5217 of 021 959 6818; webbladadres: www.cput.ac.za.