Groei sonder herlewing is negatief

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 3 Mei 2022

1100

Die omgewings- en hulpbronekonoom, prof James Blignaut, glo die berekening van die koste van herlewingslandbou – in die omgang bekend as conservation agriculture (CA) of regenerative agriculture (RA) – vereis begrip van sekere inligting wat die bydrae van insetkoste se impak op die netto wins per hektaar aantoon.

Volgens Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, is prof Blignaut ’n ekonoom wat die koste-impak van herlewingslandbou verstaan. “Hy is iemand wat die ekologie in ekonomiese terme sien en het ’n unieke manier om na die kwantifisering van bewarings­landbou te kyk.”

Prof Blignaut is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, ASSET Research en Restore Africa Fund Manager. Volgens sy beroeps­profiel spesialiseer hy in die voordele en koste van die herstel van produktiewe landskappe asook die herstel van die ekonomiese sisteem.

Prof James Blignaut

Die herstel van produktiewe landskappe en van die ekonomiese sisteem is twee kante van dieselfde muntstuk. Die een gee aanleiding tot die ander en hulle verskaf ook onderlinge stukrag aan mekaar, hetsy positief of negatief. Soos wat die ekonomiese sisteem verval, vind degradasie van produktiewe landskappe plaas en ook gebrekkige herstel- of restourasiewerk, wat die ekonomiese produktiewe waarde van die landskap benadeel. Waar daar begrip vir die wisselwerking tussen die ekonomiese en ekologiese sisteme is, is herstel van landskappe aan die orde van die dag met meegaande positiewe impakte op die ekonomie en die samelewing.

Insetkoste groei vinniger as uitsette
Prof Blignaut sê volgens die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) se jongste Kortbegrip van landboustatistiek, het produsentepryse (produkinflasie) vir akkerbou sedert 1985 met 7,3% per jaar op ’n saamgestelde basis toegeneem. Dit beteken dat die pryseffek van enige produksie-uitset ter waarde van R100 in 1985 tans R1 186 sou lewer vir dieselfde produk en volume. Daarteenoor het die totale waarde van produksie in akkerbou vir dieselfde tydperk met 8,2% per jaar op ’n saamgestelde basis toegeneem. Dit impliseer ’n netto groei in reële uitsette, of produksie, van 0,8% per jaar. Dit kan ook in Grafiek 1 gesien word.

Grafiek 1: Saamgestelde koers van verandering per jaar tussen 1986 en 2020 in ’n seleksie van indikators.
Bron: Verwerk vanuit die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling,
Kortbegrip van landboustatistiek, 2022

Oor dieselfde tydperk het die pryse van insette (koste-inflasie) met 8,8% op ’n saamgestelde basis per jaar toegeneem. Dit beteken dat die pryseffek van enige inset ter waarde van R100 in 1985 tans R1 944 sal wees. Die totale besteding aan intermediêre insette het egter met 11,1% toegeneem. Besteding in reële terme het dus met 2,1% op ’n saamgestelde basis per jaar toegeneem vanaf 1985. “Die verskil tussen die besteding in reële terme van 2,3% en die van produksie van 0,8%, beteken dat daar in wese 1,4% meer per jaar bestee is om dieselfde relatiewe uitset te verkry oor die afgelope 35 jaar.” Die relatiewe verandering van -1,4% per jaar impliseer dat dit die koers is waarmee landbou, vernaamlik akkerbou, verarm het oor die afgelope 35 jaar relatief tot 1985.

Prof Blignaut wys daarop dat die departementele bevestiging van die veel vinniger groei in insetkoste teenoor uitsette, sowel as die verlangsaming in kapitale investering tot slegs 5,9% per jaar (2005-2020), tot gevolg gehad het dat die struktuur van landbouskuld verander het. Die waarde van skuld relatief tot die waarde van die totale kapitale waarde van die sektor het vanaf 27,7% in 1985 tot 35,5% in 2020 toegeneem. Dit verteenwoordig ’n styging van 28%. Voorts het die waarde van intermediêre uitgawes as persentasie van totale skuld van 37% in 1985 tot 86% in 2020 toe­geneem – dus ’n styging van 133,6% (Grafiek 2).

Grafiek 2: Verandering van die struktuur van landbouskuld oor tyd.

“In die praktyk het uitgawes teen ’n substansieel vinniger tempo toegeneem as produsentepryse – hierdie verskil word in die verande­ring in die boerderyskuldstruktuur waargeneem. Dus is daar in werklikheid toenemend meer beskikbare finansiële kapitaal in die vorm van skuld aan intermediêre uitgawes as aan produksiebeleggings bestee.” Die knyptang tussen stygende insetkoste en stygende skuld noodsaak die indringende herevaluering van koste-intensiewe landboupraktyke. Dit is in hierdie konteks dat klimaatslim herlewingslandboupraktyke geprioritiseer moet word. “Vernuwing van bedryfspraktyke is die enigste manier om vir stygende insetkoste te betaal.”

Dit kan gedoen word deur i) koste te besnoei, veral aangesien landbou prysnemers is; ii) te fokus op die omskakeling na herlewingsboerdery- en bewaringslandboupraktyke; iii) te streef na die ontwikkeling van meer inkomstestrome per hektaar; en iv) die herstel van gedegradeerde gebiede en veral die grond ten einde die produktiewe vermoë van die natuurlike kapitaal weer aan te wakker.

Hierdie opsies raak van al hoe groter belang synde die produsent weinig beheer het oor produsentepryse en – gegewe biofisiese beper­kings – nie meer opbrengs uit ’n enkele hektaar kan wurg nie. “Onthou, jy kan nie die wêreld kos gee vanuit ’n blompot nie en daar is klimaatsverandering en grondproduktiwiteit om mee rekening te hou.”