31/01/2022
Die plaaslike graan- en oliesademark het oor die afgelope 25 jaar sedert die ontstaan van die vrye mark ingrypende veranderinge ondergaan. Die produksie van mielies het ’n volgehoue groeitendens getoon oor hierdie tydperk, met veral die gemiddelde opbrengste wat groot spronge gemaak het die afgelope paar jaar.
Koringproduksie het radikaal afgeneem oor hierdie tydperk, terwyl die plaaslike sojaboonproduksie oor dieselfde tydperk drasties toegeneem het. Die afname in die koringproduksie kan grootliks toegeskryf word aan die daling van oppervlakte aangeplant, veral in die Vrystaat. Die skerp toename in die sojaboonproduksie is hoofsaaklik die gevolg van goeie bedryfsamewerking, wat gelei het tot meer binnelandse verwerkingskapasiteit asook beter kultivars en meer binnelandse navorsing oor produksiepraktyke.
Die veranderinge in die vraag- en aanbodtendense oor tyd het strukturele veranderinge in die markte gebring. Die vraag wat saam met hierdie veranderinge gekom het, is hoe die vervoer van die verskillende grane en oliesade oor tyd verander. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) maak op ’n maandelikse basis verskillende inligting bekend – onder meer die middele waardeur graan en oliesade in Suid-Afrika vervoer word.
Mielies
Grafiek 1 toon die mielies wat per vervoerkomponent in Suid-Afrika vervoer is sedert 2006. Dit is duidelik dat die plaaslike mark oor hierdie tydperk meer afhanklik geraak het van padvervoer eerder as spoorvervoer. Gedurende 2006 is net meer as 30% van alle mielies in Suid-Afrika per spoor vervoer. Hierdie tendens het skerp gedaal oor tyd en in 2021 is minder as 10% van alle mielies per spoor vervoer. Die padvervoer het oor dieselfde tydperk toegeneem vanaf ongeveer 60% in 2006 tot nagenoeg 82% in 2021. Die hoeveelheid wat per vervoerband vanaf silo na verwerkingsaanleg vervoer word, het ’n effense toename getoon oor tyd. Die toename was egter nie so groot soos die veranderinge in die verhouding tussen spoor- en padvervoer nie.
Koring
Grafiek 2 toon die koring wat per vervoerkomponent in Suid-Afrika vervoer is sedert 2006. Hier is dieselfde tendens as by mielies waargeneem, met ’n beduidende skuif vanaf spoor- na padvervoer. In 2006 is ongeveer 44% van alle koring per spoor vervoer en dit het afgeneem tot ongeveer 7% in 2021. Oor dieselfde tydperk het die padvervoer van koring toegeneem vanaf 55% tot 88%. Die koring wat per vervoerband tussen silo en verwerkingsaanleg vervoer is, was altyd weglaatbaar klein. Die stygende tendens het eers sedert 2014 werklik begin wys en dit het toegeneem vanaf minder as 1% van alle koring tot ongeveer 5% gedurende 2021.
Sojabone
Die Suid-Afrikaanse sojaboonmark het eers die afgelope tien jaar (sedert 2012) werklik begin groei. Voor dit was die mark baie klein met minder as 100 000 ha sojabone wat per jaar geplant is. Plaaslike produksie sowel as verwerking was uiters beperk en die meeste van die plaaslik geproduseerde sojabone is uitgevoer. Sojaboonoliekoek en -olie is weer ingevoer. Na baie bedryfsamesprekings het die sojaboonmark begin vlamvat en die produksie sowel as die verwerking het drasties toegeneem. Grafiek 3 toon die verhouding van die verskillende vervoerkomponente vir sojabone sedert 2011. Dit is duidelik uit die grafiek dat die vervoer van plaaslike sojabone meestal per pad geskied. Alhoewel ongeveer 78% van die sojabone gedurende 2021 per pad vervoer is, is die tendens van sojabone anders as dié van mielies en koring.
Padvervoer van sojabone het afgeneem oor tyd, terwyl vervoer per vervoerband die tweede grootste gedeelte van die versending van sojabone uitmaak. Gedurende 2021 is ongeveer 22% van sojabone per vervoerband vanaf silo’s na verwerkingsaanlegte versend. Alhoewel daar aanvanklik ’n klein gedeelte sojabone per spoor vervoer is, word daar tans nie meer sojabone per spoor vervoer nie. Aangesien die sojaboonbedryf in Suid-Afrika nog ’n redelik jong bedryf is, is die meeste van die verwerkingsaanlegte die afgelope tien tot twaalf jaar opgerig. Hierdie aanlegte is dus strategies geplaas in gebiede waar daar baie sojaboonproduksie is.
Ten slotte
Die veranderinge wat oor tyd in die plaaslike graan- en oliesademark plaasgevind het, is tweeledig. Aan die een kant was daar goeie groei in produksie en verwerking van die meeste van die gewasse, terwyl die logistieke kant van die bedryf in der waarheid agteruit beweeg het. Die huidige sisteem, waar die meerderheid van die grane en oliesade per pad vervoer word, werk goed om te verseker dat die waardeketting aan die gang bly, maar dit is nie die mees effektiewe sisteem nie. Die padvervoer van grane en oliesade is duurder as wat vervoer per spoor behoort te wees en dus kan plaaslike graan en oliesade goedkoper vervoer word as wat tans gebeur.
Deesdae is die belangrikste uitdaging egter tydigheid: Op hierdie stadium is die bedryf bereid om eerder ’n premie te betaal vir sekerheid van tydige aflewering as om die onsekerheid van die huidige spoorvervoerstelsel te trotseer. Daar is wel sekere gebiede waar die treine relatief goed werk, byvoorbeeld met die vervoer van grane na die Durban-hawe, vanwaar die meeste van die uitvoere plaasvind. Daar is egter nog baie ruimte vir verbetering rakende die logistiek – veral by die vervoerkomponent – van die plaaslike graan- en oliesademark.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.