Beter resultate met dieper bewerking, wys Vrystaat-studie

Gepubliseer: 9 Februarie 2022

745
Dr André Nel,
onafhanklike akkerboukundige
Dr Danie Beukes, onafhanklike
grondkundige
Thabo van Zyl,
SOK-produsente­medewerker

Die oorsake en gevolge van grondverdigting op die semi-ariede watertafelsandgronde van die Noordwes-Vrystaat het al in die verlede heelwat navorsings­aandag gekry. Weens dié gronde se kombinasie van eienskappe is grondverdigting ’n ernstige probleem.

Onder die eienskappe wat daartoe bydra, is die buitengewoon hoë sandinhoud, die gepaardgaande lae klei-inhoud en die lae organiesemateriaalinhoud. Voeg hierby die verkeer van trekkers, onkruidspuite en ander implemente – en grondverdigting is ’n gegewe. Dit is egter nie die enigste oorsaak van verdigting nie. Die nat en uitdroogsiklusse na reën en ’n tydelik fluktuerende watertafel wat soms ontstaan, is na­tuurlike wyses waarop die grond ook verdig nadat dit bewerk is.

Grondverdigting verklein die makroporie-openinge in die grond. Wortels groei hoofsaaklik in die makroporieë en die gevolg van verdigting is dat wortelgroei beperk word. Grondverdigting ontwikkel gewoonlik op ’n diepte van 25 cm tot 40 cm, met die gevolg dat ’n beperkte hoeveelheid wortels die ondergrond bereik. In der waarheid is die effektiewe profieldiepte dan in die omgewing van 40 cm, terwyl die ondergrond, waar die watertafel en geloogde voeding is, swak benut word – wat graanopbrengs gevolglik beperk.

’n Aanbeveling oor die bewerkingsdiepte om grondverdigting op te hef, is gewoonlik vaag. Voorstelle soos om die verdigting met ’n diep skeurploegbewerking op te hef, word dikwels gemaak. Die boonste grens van ’n verdigting is redelik maklik om te bepaal deur na wortels te kyk of ’n penetrometer te gebruik. Die onderste grens van ’n verdigting is egter nie so duidelik gedefinieer nie. Die digtheid van grond neem met diepte toe – hoe diep behoort dan bewerk te word as daar nie ’n duidelike onderste grens is nie?

Die veronderstelling blyk te wees dat dit aan die produsent oorgelaat word om te bepaal hoe diep sy bewerking moet wees. Dit is waarskynlik reg so, siende dat een bewerkingsdiepte nie deurgaans geldig gaan wees oor grond waarvan die profiel oor ’n land varieer nie.

’n Volgende vraag is of daar jaarliks tot op dieselfde diepte bewerk moet word – watter gewas ook al geplant gaan word. Ondervinding het getoon dat die skeurploegbewerking nie noodwendig na een jaar ongedaan is nie. Indien die ryrigting van een seisoen na ’n volgende verander word, toon die weliger groei van die mielies in die jongste seisoen duidelik waar die vorige seisoen se rye en skeurploegbewer­king was. Die weliger groei word dan aan die vorige seisoen se bewerking toegeskryf.

Bewerkingsproef
Die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) wat in die Noordwes-Vrystaat bedrywig is en finansieel deur die Mielietrust ondersteun word, het die probleem geïdentifiseer as ’n aspek wat aandag in hul navor­sing moet kry. ’n Proef is reeds in 2016/2017 op die plaas Doornbult in die Bothaville-distrik deur Thabo van Zyl, ’n SOK-medewerker, begin. Die proefgrond is ’n Avalon-vorm/Blackmoor-familie wat algemeen in die Noordwes-Vrystaat voorkom. Die slikinhoud van die grond is laag en slegs tot die boonste 60 cm beperk, terwyl die klei-inhoud vanaf 60 cm met diep­te toeneem (Grafiek 1). Die slik-plus-klei-inhoud van die grond is besonder laag in vergelyking met hoogs produktiewe gronde wat byvoorbeeld in die Amerikas vir graanproduksie gebruik word.

Grafiek 1: Die sand-, slik- en klei-inhoud van die grondprofiel.

Bewerkingsdieptes van 45 cm, 60 cm, 75 cm en 90 cm met ’n tandemskeurploeg, waarvan die tande 76 cm uit mekaar gespasieer is, is in ’n statisties uitge­legde proef toegepas. Die skeurploeg se diepste tand het ’n dwarsskaar wat 10 cm breed is en die vlakste tand het ’n skaar wat 30 cm breed is. Die bewerkings­dieptes is jaarliks op dieselfde persele herhaal en beheerde spoorverkeer is streng met alle aksies toe­gepas. ’n Sestienry-planter met ryspasiëring van 76 cm is gebruik. Twee plantereenhede is verwyder om twee bane van 152 cm te laat waar alle wiele (trekker en stroper) vir die plant-, bemestings-, on­kruidspuit- en stroopaksies loop. Streng spoorverkeer is dus toegepas.

Vanaf 2016/2017 tot 2019/2020 is mielies in die proef geplant en in 2020/2021 is sojabone geplant. In 2020/2021 is ekstra persele tot die proef toegevoeg waar glad nie bewerk is nie – dus geenbewerking. In die vorige seisoen (2019/2020) was die bewerkingsdiepte 75 cm.

Dieselverbruik
Hoe dieper bewerk word, hoe hoër is die dieselverbruik, soos in Grafiek 2 gesien kan word. Die ryrigting is van 2015/2016 na 2016/2017 (die eerste seisoen van die proef) verander en dit het ’n aansienlik hoër dieselverbruik tot gevolg gehad as in die daaropvolgende seisoene waar die rigting en plek van die ry nie verander is nie. In 2016/2017, die seisoen waarin die ryrigting verander is, het die dieselverbruik met 5,8 ℓ/ha toegeneem vir elke 10 cm wat dieper bewerk is. In die daaropvolgende seisoene was die toename slegs 2,4 ℓ/ha tot op ’n diepte van 75 cm. Om die bewerking op presies dieselfde plek as die vorige seisoen te doen, bring dus ’n aansienlike besparing in brandstof mee: in dié geval 3,4 ℓ/ha.

Grafiek 2: Dieselverbruik as ’n funksie van bewerkingsdiepte.

Vanaf 2018/2019 en later was die dieselverbruik per bewerkings­diepte redelik konstant, uitgesonder die 90 cm-diepte, waar die klei-inhoud 14% is. Op dié diepte het die jaarlikse verbruik tussen 36,3 ℓ/ha en 52,5 ℓ/ha gewissel.

Graanopbrengs
In twee van die vier seisoene (2016/2017 en 2018/2019) het die opbrengs van mieliegraan sterk toegeneem hoe dieper die bewerking was, tot op ’n diepte van 75 cm. Tydens die betreklik droë 2016/2017-seisoen het die graanopbrengs met 0,87 t/ha toegeneem vir elke 10 cm wat dieper bewerk is, tot op ’n diepte van 75 cm. In 2018/2019, met ’n gunstiger reënval, was dié toename steeds 0,58 t/ha (Grafiek 3).

Grafiek 3: Graanopbrengs van mielies teenoor bewerkingsdiepte vanaf 2016/2017 tot 2019/2020.

Gedurende die 2017/2018- en 2019/2020-seisoene het die bewerking die graanopbrengs nie beïnvloed nie. In 2017/2018 was die verspreiding en hoeveelheid reën baie gunstig en het droogte waarskynlik weinig, indien enige, invloed op die graanopbrengs gehad. In 2019/2020 is die graan­opbrengs ernstig deur versuiping beperk weens die meer as 300 mm reën wat laat in Desember en in Januarie geval het (Grafiek 3).

In 2020/2021 was die reënval weer eens boge­middeld hoog en het versuiping vroeg in die seisoen voorgekom. Die sojabone het besonder goed van die versuiping herstel en die graanopbrengs het ook goed op die bewerkingsdiepte gereageer – opbrengs het toegeneem soos dieper bewerk is tot op ’n diepte van 75 cm (Grafiek 4). Graanopbrengs het in die proef met 158 kg/ha toegeneem per 10 cm-toename in die bewerkingsdiepte. Dit is ’n besonder goeie rendement as in ag geneem word dat die dieselverbruik met slegs 2,4 ℓ/ha per 10 cm-inkrement in bewerkingsdiepte toegeneem het.

Opsomming
Navorsing en die ondervinding van produsente het al geleer dat diep bewerkings veral in droër seisoene die opbrengs van mielies bevoordeel. Die tempo waarteen grond uitdroog weens die proses van evapotranspirasie, is hoër nader aan die oppervlak as dieper in die profiel. So droog grond vanaf die oppervlak stelselmatig dieper uit tydens ’n droë periode. Tydens so ’n periode stel ’n diep bewerking die gewas se wortels in staat om die water en voeding wat diep in die profiel teenwoordig is, te bereik en te benut.

Mielies en sojabone het op die grond soortgelyke opbrengsreaksie getoon ten spyte van die feit dat verskillende penetrasievermoëns aan die mielies se bywortelstelsel en die sojabone se penwortelstelsel toegedig word. Op die bepaalde grondtipe is dit duidelik dat tot op ’n diepte van 75 cm bewerk moet word om die grond se poten­siaal ten volle te benut in seisoene waartydens reënval die opbrengs beperk – wat in dié omge­wing in die meerderheid van seisoene die geval is.

Grond waarvan die tekstuur van die profiel anders uitsien, gaan bes moontlik ’n ander bewer­kingsdiepte vereis. So kan ’n skerper toename in die klei-inhoud met diepte van die profiel dalk ’n vlakker bewerking vereis.