Passie vir boerdery bring sukses

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

378

Sojabone is nie ’n gewas wat tradisioneel tussen Fochville en Vanderbijlpark geplant word nie, maar dit het nie vir Willie van Niekerk en sy seun (ook Willie) van Belofte Boerdery weerhou om te eksperimenteer en sukses te behaal nie. Met ’n paar basiese sojaboonverbouings­beginsels het hulle die topopbrengs vir sojabone in die sentrale produksiegebied van die land in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie behaal.

Hulle het ’n opbrengs van 4,81 t/ha met die Agricol-kultivar, DM 6.8i RR behaal. Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) was die gemiddelde opbrengs vir sojabone nasionaal oor die afgelope vyf jaar 1,82 t/ha en vir die 2020/2021-seisoen was dit 2,29 t/ha. ’n Opbrengs van bykans 5 t/ha is dus nie ’n alledaagse verskynsel nie.

Hoewel dit ’n goeie seisoen was, het die reën nie altyd op die regte ontwikkelingstadium van die gewasse geval nie. “Die seisoen het goed begin, maar in die eerste twee weke van Januarie het ons 350 mm reën in ’n paar groot neerslae gehad wat versuiptoestande veroorsaak het, veral by die mielies. Die jong plantjies het swaar gekry. Later in die seisoen het ons weer tye met bitter min of geen reën nie beleef. Ek dink my boontjie-oes sou dalk nog beter gewees het, maar die drie weke in Maart sonder enige reën het die sojabone bietjie geknyp,” vertel Willie senior.

Die reënval ontvang vir die groeiseisoen was 700 mm en wanneer dit verwerk word na graan per vog ontvang, het Willie 6,88 kg graan/mm vog gerealiseer op die blok sojabone wat vir die kompetisie ingeskryf is.

Deur te eksperimenteer met die plant van sojabone het dié pa-en-seun-kombinasie die topopbrengs in die sentrale produksiegebied vermag.

Só klop die somme
Hulle insetkoste was R1 028,29/ton oftewel R4 950/ha vir die spesifieke kultivar en blok. Hy meen die insetkoste vergelyk goed met die res van die plaas en die omgewing en beklemtoon dat hulle geen ander insetkoste aangegaan of addisionele bewerkings gedoen het op die blok wat ingeskryf is nie. “Ons volg ons beplande praktyke en was regtig gelukkig dat dié gedeelte van die sojaboonaanplantings so goed presteer het.”

Volgens Willie wissel die grondtipes op sy plaas en op die lande wat hy huur tussen swaarder grond met ’n hoë kleipersentasie en sandleemgrond. Hy is op pad na ’n volledige presisiestelsel. Verskeie grondmonsters word jaarliks uit elke land getrek en bemesting geskied dan volgens hierdie grondverslae. Hy het nie kunsmis op die sojabone toegedien in die 2020/2021-seisoen nie en die mielies is bemes volgens die grondontledings en die opbrengsmikpunt. “Tans doen ek variërende kalktoedienings na grondontledings en hoop om binne die volgende jaar of twee variërende plantestand op my mielies en sojabone toe te pas.”

Willie volg ’n beleid van verminderde bewerking. Die oesreste word op die lande gelaat en in die winter met beeste en skape bewei. Hy beperk verdamping van grondvog deur die deklaag op die lande te laat na oes. Die lande word gedis om die oesreste en stoppels fyner te maak en oor die land te versprei. Na die eerste reën sal hy ’n skeurtandbewerking doen en die saad word dan direk in die oesreste geplant.

Onkruidbeheer is een van die bestuursaspekte waar Willie nie afskeep nie. “Ek hou my lande skoon van onkruid. Sojabone veral hou nie van kompetisie vroeg in die seisoen nie.” Hy spuit direk na plant ’n vooropkomsonkruiddoder om breëblaaronkruide en grasse te beheer en na opkoms doen hy algehele bespuiting oor die gewasse met glifosaat. As daar nie baie opslag is nie, stuur hy ’n span in om dit uit te kap, anders sal hy die opslag spuit voor plant.

Die sojabone word geënt en al die saad word met ’n saad­behandeling op geplant om die ontkiemende plantjies teen grond­insekte en swamme te beskerm. Alle gewasse ontvang deur die seisoen blaarvoedings.

Willie woon die boeredae in die omgewing by en sê dat hy nuttige inligting by dié dae ontvang. Hy maak verder staat op die inligting en aanbevelings van sy insetverskaffers soos Omnia en Laeveld Agrochem. Hy plant sy eie proewe en toets nuwe kultivars deur die nuwe en ’n bestaande kultivar wat op sy plaas presteer, op blokke onder dieselfde omstandighede te plant en met mekaar te vergelyk.

Oor sy benadering tot die boerdery sê Willie: “’n Mens leer nie om ’n boer te wees nie. ’n Boer word gebore. Dit is ’n leefwyse en nie ’n blote werk nie en jy moet ’n passie daarvoor hê. Dan sal jy dit geniet ten spyte van al die uitdagings.”

Hy voel sterk daaroor dat elke jong produsent ’n mentor moet hê. “Ander mense se ervaring en insette in jou boerdery en ook in jou lewe is van onskatbare waarde. Benut daardie geleentheid wat op jou pad kom.”

Willie se uitgangspunt in hulle boerdery is dat hulle die plantwerk doen, maar dan op die Here vertrou vir die groei en voor­spoed. Hy hou vas aan 1 Korintiërs 3:5-9: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.”