Meer tonne sonder om koste op te jaag

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

420

Cobus Botha van die 2HB-boerdery tussen Winterton en Bergville is aangewys as die wenner in die Groei vir Goud-kompetisie se afdeling vir sojabone in die besproeiingsgebiede met ’n opbrengs van 5,58 t/ha.

Die wenresultate is met Pioneer-kultivar P 64T39R op die plaas Vicklands net buite Bergville behaal. Die land waarop hy die prestasie behaal het, is die vorige seisoen met mielies geplant en geen gewasse is in die winter verbou nie. Die mieliereste is in die winter bewei.

Volgens Cobus het dié spesifieke blok sojabone oor die afgelope seisoen sowat 950 mm reën gehad – wat op sekere stadiums eintlik te veel was. “Ek kon egter lekker vroeg begin plant met die vroeë reën wat geval het. Ons was gelukkig dat ons goeie hitte-­eenhede in die begin van die seisoen gehad het, maar later in die seisoen was daar ’n paar koue weke. Ons het ’n week se koue net voor blomtyd gehad en na blom was daar weer so ’n paar koue dae. Die koeler en nat toestande het veroorsaak dat die swamdruk hoog was. Die uiters nat toestande het geverg dat ek vliegtuigbespuitings moes doen. Die koste hieraan verbonde is hoog en ek kon dus nie so gereeld blaarvoedings spuit soos wat ek gewoonlik doen nie.”

Hy voeg egter by dat hulle hele distrik ’n ongelooflik goeie sojaboonoes gestroop het. “Ons het gelukkig nie haelskade gehad nie, maar ons mielies het wel ’n bietjie versuipskade opgedoen.”

Cobus het die blok wat in die kompetisie ingeskryf is, oor dieselfde kam geskeer as die res van sy sojaboonaanplantings. Hy noem dat hy wel koue op die verkeerde tyd gekry en as gevolg daarvan sowat 200 kg in opbrengs moes inboet. Die gemiddelde opbrengs vir die P 64T39R-kultivar was oor die 5 ton onder besproeiing en 4,3 ton op droëland.

Waarde van proewe
Cobus plant graag proewe. Hy noem dat hy ’n proefblok het waar hy elke jaar nuwe praktyke uittoets en bietjie met sy bemestings­programme speel. “Ek plant proewe as daar nuwe saadkultivars op die mark is. Ek is in die gelukkige posisie dat ek ’n saadkweker is en derhalwe reeds twee jaar voor ’n kultivar kommersieel beskikbaar is die geleentheid het om dit te beproef. Ek kyk ook na die nasionale kultivarproewe en weeg die resultate op teenoor die proefuitslae van die saadmaatskappye en my eie ervaring. Só kan ek goeie vergelykings maak en besluite op goeie inligting baseer. Ek hou daarvan om self ’n nuwe kultivar vir ’n paar jaar te toets om te sien hoe dit op my plaas onder my bestuurspraktyke presteer.”

Sy insetkoste was R2 204,42/ton en R12 300/ha vir die wenkultivar. Hy sê die koste weeg goed op teenoor die res van die boerdery, grootliks omdat hy die normale standaardpraktyke gevolg het. Die duurste komponente van sy insetkoste is kunsmis, gewasbeskermingsprodukte en dan sy elektrisiteitsrekening by Eskom.

“My hoogste opbrengs het ek in 2016 behaal. Ek het net oor die 6 ton op my sojabone gestroop teen ’n insetkoste van R1 800/ton. Dit was ’n droër jaar met meer sonskyndae en ek het ’n totaal van 850 mm water in 2016 gebruik. Koste verander jaarliks, veral ten opsigte van pryse van kunsmis, saad en gewasbeskermingsprodukte en daarom is my insetkoste vanjaar hoër.”

Met ’n opbrengs van 5,58 t/ha is Cobus Botha as die wenner in die Groei vir Goud-kompetisie se afdeling vir sojabone in die besproeiingsgebiede aangewys.

Met die oog op wins
Wat winsgewendheid betref, voel hy sterk dat hoër opbrengste nie ten koste van wins per hektaar moet wees nie. “Ek moet my aksies en praktyke kan regverdig. Die doel is nie om my produksiekoste op te jaag nie, maar om die tonnemaat te verhoog. Ek kyk altyd daarna om te verbeter en of ek ’n hoër opbrengs kan behaal met insetkoste wat met die omgewing se koste vergelyk. Ek werk jaarliks daaraan om my wins te verhoog – rande betaal tog die rekeninge,” sê hy. Hy voeg by dat hy so ’n bietjie meer geld aan sy sojaboon- en mie­lieproefblokke spandeer.

Cobus plant 120 ha P 64T39R onder besproeiing en 200 ha op droëland. Wat die somergewasse betref, plant hy een jaar mielies en volg dit op met sojabone in die volgende seisoen. Hy plant 50% geelmielies en 50% sojabone. “In die winter plant ek sowat 15% van die totale hektare met koring onder besproeiing vir ’n kontantgewas. Ek sal ook so 25% van die lande met ’n dekgewas plant vir weiding vir die skape en beeste. Ons kry nie in die winter reën nie en daarom plant ek niks op droëland in die winter nie.”

Omdat Cobus ’n saadkweker vir Corteva is, word ongeveer 60% van sy sojabone as saad gelewer. Die res verkoop hy kommersieel. Sowat 15% van die mielies word vir die beeste in die wintervoerkraal gebruik en die res word ook kommersieel bemark.

Uitdagings sal daar altyd wees
Die onreëlmatige weer en kragonderbrekings van Eskom is twee van sy grootste uitdagings. “Die twee loop eintlik hand aan hand – veral wat besproeiingskedulering betref.” Die grondprofiel van die omgewing is ’n aspek wat noukeurige beplanning en bestuur verg. “Ons grondtipes verskil baie van land tot land en ek moet rekening hou met die variasie tussen sanderige, Oakleaf- en rooi Hutton-grond.”

Boerderypraktyke
Hulle ploeg nie baie nie, want 60% van die lande is op ’n minimumbewerkingstelsel met stoppelbeheer. Nadat die sojabone geoes is, doen Cobus grondkorreksies. Hy doen ’n tandbewerking van 450 mm en berei die saadbed voor sodat hy koring kan plant. Na koring plant hy mielies direk in die reste sonder enige bewerking. Wanneer hulle die mielies stroop, word die oesreste met ’n kerwer agterop die stroper fyn gekerf. Net voordat die sojabone geplant word, strooi hy KCl uit en werk dit dan in met die Great Plains Turbo Max om ’n saadbed vir die sojabone voor te berei. Die reste word soos ’n kombers op die grond neergelê.

Wat presisieboerdery betref, begin hulle met grondontledings volgens ’n presisieruitkaart en stel dan die preskripsies vir die variërende bemesting daarvolgens vir die nodige regstellings om in die grond se spesifieke behoefte te voorsien. “Ek het ’n grondkundige wat nou al vir meer as agt jaar die pad saam met my stap, Thomas Strydom van Sion Agri. Sy kundigheid is uiters waardevol.”

Hulle het al die grond laat klassifiseer sodat hulle elke land kan bestuur volgens daardie land se grondvermoë. So maak hulle seker dat elke land optimale opbrengs lewer en dit bring ook kostebesparings. Cobus gebruik ’n John Deere 2113 CCS-geenbewerkingplanter wat met Precision Planting se volledige pakket toegerus is.

Topbemesting en kalk word met ’n variërende strooier uitge­strooi. Cobus gebruik verskillende kunsmismengsels gebaseer op die grondontledings, maar sy basiese bemestingsplan is soos volg: N – 17 kg/ha, P – 33 kg/ha, K – 180 kg/ha, S – 17 kg/ha en Ca – 20 kg/ha.

Blaarontledings word deur die seisoen gedoen en voeding word volgens die ontledings beplan en toegedien. “Ek gee gereeld blaarvoeding, maar tydsberekening maak die verskil. Dit is noodsaaklik dat alles op die regte tyd gedoen word. ’n Mens moet voortdurend seker maak dat jy in die plante se voedingsbehoeftes voorsien wanneer hulle dit nodig het.”

Cobus maak baie staat op sy chemiese agent vir raad ten opsigte van onkruid-, plaag- en siektebeheer. Die lande word weekliks deurgestap om hulle te vergewis van die stand van sake sodat hulle vinnig ’n aanpassing kan maak of ’n probleem kan takel. Hoewel hy ’n redelik vaste onkruidbeheerprogram volg, kan hulle dadelik aanpassings maak as die seisoen of onkruiddruk dit vereis.

Die pad vorentoe
Sy filosofie is om altyd te verbeter en sê as die 2021/2022-seisoen optimale weerstoestande bring, hy beslis ’n beter opbrengs sal realiseer. “In die vorige seisoen wat nie ideaal was nie, was daar ’n paar kolle wat oor die sewe ton gestroop het. Ek werk elke jaar daaraan om opbrengste te verhoog met die minimum insetverhoging.”

Cobus is lid van die omgewing se boerevereniging asook van Graan SA en glo dat jy jouself moet omring met mense wat jou inspireer en by wie jy kan leer. “Dit is ook noodsaaklik dat ’n mens weet wat op jou plaas aangaan. Jou teenwoordigheid in jou lande kan nie met geld gemeet word nie.”