Goeie tydsberekening is goud werd

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

374

Vir die tweede opeenvolgende jaar is Japie Breedt van Bapsfontein as een van die wenners in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie aangewys. Vanjaar het hy met die louere in die afdeling vir mielies in die sentrale gedeelte van die land weggestap.

Met die lewensuitkyk dat ’n mens nooit met die standaard tevrede moet wees nie en jouself altyd moet druk om beter te presteer, is dit geen wonder dat hy vanjaar weer op die wenpodium gestaan het nie.

Op die plaas Bronkhorstfontein naby Bapsfontein het hy die DEKALB-baster, DKC 64-54BR, op 74 ha geplant waarop hy die vorige seisoen sojabone gehad het. Die uitstekende rekordopbrengs van 15,38 t/ha het aan hom die eerste plek besorg.

Japie plant vroeg in die seisoen wanneer die grondvog voldoende en die grondtemperatuur bo 10˚C is. Die plantdatum van die blok wat ingeskryf is, was 14 Oktober. “Ek het niks anders op hierdie stuk grond gedoen nie en bloot my standaardpraktyke gevolg wat alles met presisie bepaal word.”

Benewens mielies, plant Japie ook sojabone op droëland en aartappels onder aanvullende besproeiing. Sy mielies verteenwoordig 60% van die aanplantings, met aartappels 4% en sojabone 36%. Die sojabone werk vir Japie goed in die wisselbousisteem, want dit plaas stikstof terug in die grond wat voordelig is vir die ander gewasse.

Japie Breedt ontvang ’n toekenning van dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA, vir sy rekordopbrengs van 15,38 t/ha.

Die gemiddelde mielie-opbrengs op die plaas is 12,96 t/ha. Om plant- en strooptye te bestuur en risiko te versprei, plant hy verskillende kultivars. In die 2020/2021-plantseisoen het hy bene­­-wens DKC 64-54BR ook Pannar 4R 728BR, Pioneer P 1513, en DEKALB 73-70BGEN geplant. Sy graan word vir die kontantmark gelewer en die aartappels gaan varsproduktemark toe.

Hy meet sy vog en die uitwerking daarvan op die gewasse noukeurig. Die totale reënval vir die seisoen was 782,20 mm. As dit verwerk word na graan per beskikbare vog, was die opbrengs 19,66 kg/mm reën.

Japie se insetkoste was R648,54/ton en R9 975,65/ha vir die spesifieke kultivar. Volgens hom kos dit gemiddeld so R500/ha meer om dié kultivar te plant omdat die saadkoste duurder is as die ander kultivars wat hy plant. Hy is egter steeds tevrede dat die insetkoste in lyn is met die res van die aanplantings op die plaas, maar sê dit is so ’n bietjie meer as die insetkoste in sy omgewing. Sy duurste inset is kunsmis. Hy meen winsgewendheid kan bestuur word deur die regte bemarking op die regte tyd te doen. Kennis van die mark en die bewegings wat die graanpryse maak, is dus deurslaggewend.

“Alles in boerdery gaan oor tydsberekening. In ’n plant se fisio­logie gebeur sekere dinge op sekere tye en daarom soek die plant sekere dinge op spesifieke tye. As die plant nie die nodige voe­dingstowwe op die regte tyd kan opneem nie of daar nie genoeg vog op kritieke stadiums in die plant se ontwikkeling is nie, kan dit nie optimaal ontwikkel nie en boet jy op die ou einde opbrengs in,” sê hy.

Japie plant Roundup Ready-sojabone en stapelgeenmielies, veral met die oog op die beheer van stronkboorders. Glifosaat word slegs op die sojaboonlande gespuit en middels met ander metodes van werking word op die mielies gebruik om onkruidweerstand te bestuur. Japie maak op Syngenta se onkruidbeheerpakket staat om die onkruid op sy lande te beheer.

Alles gaan oor data
Hy is ten volle toegespits op presisieboerdery en elke aspek van die boerdery word gemeet. Die inligting wat deur die jare bymekaar­gemaak is, word op een platform verwerk in ’n bestuurstelsel vir die boerdery. Hy gebruik die Fieldview-program van Climate Corporation, ’n afdeling van Bayer, en Precision Planting se presisietoerus­ting. Hy dien kunsmis en kalk variërend toe en plant ’n variërende plantestand. Hy skryf self die variërende kaarte. “Alles gaan oor data. Data is een van die belangrikste faktore in die boerdery, hetsy in bemarking, algemene boerdery- of finansiële bestuur. ’n Mens kan nie een van hierdie aspekte afskeep deur met onvoldoende of verkeerde data te werk nie.”

Japie meen dit is die moeite werd om in goeie presisietoerusting te belê. “Dit wat jy op die lang duur verloor deur nie die toerusting aan te skaf en te gebruik nie, is veel meer as die aanvanklike koste wat belê word. Verkeerde en onnoukeurige toediening van bemes­ting kos op die ou einde baie meer, veral as die verlies in opbrengs verreken word. Ek glo vas daaraan om in goeie praktyke, toerusting en tegnologie te investeer.”

Die vorige seisoen het hy 20 proewe met die Fieldview-toepas­sing geplant om verskillende plantestande en kunsmistoedienings te ondersoek. Hy kyk onder meer na die uitwerking van die hoeveelheid kunsmis, tyd van bemesting asook die metode en plek van toediening op die gewas. Hy glo hierdie inligting is noodsaaklik om te bepaal wat die optimumtoedieningsvlak en metode is vir die wins­gewendste opbrengs.

Al die grond is gekarteer en grondontledings word jaarliks op al die grond gedoen. Die bemesting word na gelang van die resultate uitgewerk en kalium en kalk word dan variërend toegedien. Voor plant strooi Japie hoendermis op die lande waar hy mielies gaan plant en kalium op die lande waar hy sojabone gaan plant.

Aan die begin van die seisoen word bemesting volgens die opbrengspotensiaal van ’n spesifieke land en die kultivar wat op daardie land geplant gaan word, bepaal. Afhangende daarvan, wissel die totale bemestingspeile tussen 7 t/ha en 12 t/ha. Blaaront­ledings word elke twee weke gedoen en bemesting of blaarvoe­dings word daarvolgens aangepas en toegedien. Hy hou sy grond se pH op ’n gemiddeld van ses.

Japie sê daar is dele op sy plaas wat maklik versuip. Hy takel dit deur dreineringslote in stand te hou en deur so vroeg as moontlik te plant. “Ek neem natuurlik die beskikbare vog en grondtemperatuur in ag, maar met plantdatums en goeie gronddreinering bestuur ek daardie risiko. Ek ken my grond en ek probeer om dit elke seisoen reg te bestuur en so verwante risiko’s te vermy.”

Die seisoen se uitdagings
Vanjaar se besondere uitdaging was hael wat in die sojaboonstrooptyd geval het. “Hoewel ’n mens alles in jou boerdery na die beste van jou vermoë beplan en bestuur, is daar sekere dinge waaraan jy niks kan doen as dit gebeur nie. Hael is een van daardie dinge.”

Japie glo daaraan om proewe te plant om nuwe kultivars en praktyke te toets. Hy kry heelwat van die inligting waarop hy vertrou uit sy eie proewe en eie navorsing, maar ook uit veral Amerikaanse mediabronne. Hy volg verskeie mediaplatforms en bestudeer daardeur die verbouingspraktyke van sojaboon- en mielieprodusente in veral die VSA. Hy evalueer hulle manier van boer en kyk hoe hy van die metodes in sy boerdery kan toepas. “Ek leer ongelooflik baie by Randy Dowdy van die VSA – hy stel ’n voorbeeld wat ek graag volg,” sê Japie.

Hy klop egter ook aan by die saad-, chemiese, kunsmis- en meganisasiemaatskappye vir raad en hulp. Japie kry verder raad en inligting by landboukundiges en agente. “Francois Kruger van Agro-centre speel ’n groot rol in my boerdery en sy kennis en insette is uiters waardevol.” Hy meen dit is belangrik om die regte kundiges op elke vlak van die boerdery te identifiseer en om hulle kundigheid te tap en jou eie kennis te verbreed.

Sy raad aan jong produsente is om aandag te skenk aan die insameling en verwerking van inligting en dit dan behoorlik te ontleed sodat dit weer in die boerdery toegepas kan word. Alles gaan oor data en die toepassing daarvan.

Met dié DEKALB-baster het Japie vir die Groei vir Goud-opbrengskompetisie ingeskryf.