Blaarsiektes: Wat hou die nuwe seisoen in?

Gepubliseer: 5 November 2021

1671
Dr Bradley Flett,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

In saaiverbouing is omgewingstoestande, wat onder meer reënval, sonskyn en temperatuur insluit, die grootste rolspeler wat produksie bepaal. Volgens die langtermynweervoorspelling is daar ’n verhoogde waarskynlikheid van ’n swak La Niña-verskynsel gedurende die vroeë en middel somer, wat gunstig sal wees vir bogemiddelde reënval in hierdie tydperk. Dit beteken dat heelwat vog en hitte verwag kan word, wat bevorderlik is vir die ontwikkeling van blaarsiektes by mielies.

Vir ’n siekte om te vestig, moet daar ’n gasheer, ’n patogeen (inokulum) sowel as geskikte omgewings­toestande wees. Hierdie aspekte sal bepaal hoe vinnig die epidemie begin en ontwikkel en hoe groot die skade uiteindelik is. Korrekte identifisering van die siekte is noodsaaklik vir die regte beheer daarvan. Tans is daar verskeie modelle beskikbaar om te help voorspel of ’n siekte sal voorkom of nie.

’n Goeie plaaslike verwysingshulpmiddel sal die produsent help om siektes te herken en dan die regte bestuursbesluite te maak. Pannar Saad se gratis slimfoontoepassing, Sprout, is een so ’n voorbeeld waarin die belangrikste siektes wat op mielies in Suid-Afrika voorkom opgesom is met ’n kort beskrywing. Die FarmFundi-slimfoontoepassing van Corteva Agriscience is ook ’n nuwe toepassing wat meer omvattende inligting oor siektes, plae en onkruide bied. Produ­sente is verder welkom om plantpatoloë by die LNR-Graangewasse in Potchefstroom te kontak vir hulp en advies.

Hierdie inligting is vir die produsent deurslag­gewend om te verseker dat die regte behandeling toegepas word. Dit is belangrik om met saad- en of landbouchemikalieëverteenwoordigers in verbinding te tree sodra daar tekens van siektes is. Hierdie kundi­ges kan help dat die siektes reg geïdentifiseer word. Volgens dr Rikus Kloppers van Corteva Agriscience is een van die algemeenste foute van produsente steeds om swamdoders toe te dien op siektes wat deur virusse, bakterieë of selfs fisiese skade (soos sonbrand en windskade) veroorsaak is. Dit lei gewoonlik tot groter skade as gevolg van onnodige insetkoste wat aangegaan word saam met die uiteindelike opbrengsverlies weens die werklike probleem wat nie korrek hanteer is nie.

Grysblaarvlek, bakteriese streep en sonbrandskade is moeilik om te onderskei en ’n geoefende oog is daarvoor nodig. Daar is nie regtig nuwe plantsiektes wat voorkom nie, maar die verspreiding en voorkoms van die siektes verander jaarliks. In baie gevalle kom siektes in gebiede voor waar dit nog nie bekend is nie en dan word produsente onkant gevang.

Bruinroes word gewoonlik eerste in die seisoen op die jong mielieplante gesien. Vroeë tekens van roesinfeksie is sigbaar as klein vlekkies op die blare sowat vyf dae na infeksie. Volwaardige roespuisies waaruit spore vrygestel word ontwikkel daarna (10 tot 14 dae). Dit kan by vrystelling oor groot afstande deur die wind versprei word.

Noordelike mielieblaarskroei (witroes) is die algemeenste blaarsiekte wat in die meeste mielieproduserende areas van Suid-Afrika voorkom. Die letsels word gewoonlik eerste op die onderste blare opgemerk en soos spore onder gunstige toestande uit hierdie letsels vrygestel word, infekteer dit die blare boontoe – met die effek dat die siekte opkruip in die plant.

Grysblaarvlek is nog ’n belangrike mieliesiekte. Die siektesimptome word veral rondom blomtyd sigbaar, alhoewel dit onder toestande van hoë siektedruk reeds vroeër waargeneem kan word, afhangend van klimaatstoestande. Spore kan wel met die wind versprei, maar hierdie is sekondêre spore wat later in die seisoen van een aanplanting tot die volgende kan versprei – gewoonlik oor korter afstande. Die werklike bron van die siekte is egter plantreste van die vorige seisoen waar die swam oorleef het. Sodra die toestande gunstig word in die nuwe seisoen word spore vrygestel wat die onderste blare van plante infekteer.

Hierdie letsels produseer nuwe spore wat weer vrygestel word en namate die groeiseisoen vorder met reënspatsels en wind versprei na nuwer blare hoër op in die plant. Dit is veral grysblaar­vlek wat dikwels met sonbrand/droogtestremming verwar word. Nodeloos om te sê dat die droogteskade nie beheer kan word nie en dat die onnodige toediening van ’n swamdoder die produsent ’n dubbele terugslag toedien.

Bakteriese blaarstreep is ’n siekte wat veral in die westelike produksieareas voorkom, maar dit is onlangs ook in die Piet Retief-omgewing waargeneem. Hierdie simptome word dikwels met dié van grysblaarvlek verwar. ’n Bakteriese siekte kan nie met swamdoders beheer word nie.

Mieliestreepsiekte word deur die mieliestreepvirus (MSV) veroorsaak. Dit is ’n komplekse siekte met die virus wat deur ’n bladspringer oorgedra word. Omgewingstoestande affekteer die voorkoms, oorlewing en verspreiding van die geïnfekteerde bladspringers (nie alle bladspringers dra die virus nie) wat die voorkoms en intensiteit van siekte bepaal. Soos in die geval van bakteriese siektes kan MSV nie met ’n swamdoder beheer word nie. Beheer van MSV kom neer op ’n kombinasie van maatreëls om die risiko van die siekte te verminder of te beperk. Alhoewel insekdoders as saadbehandelings effektief is en voorkom dat die bladspringers op jong plante voed en die virus oordra, is dit geensins ’n waarborg of ’n kitsoplossing vir die siekte nie.

Vir meer inligting, kontak dr Bradley Flett by die LNR-Graangewasse of Pietman Botha by 082 759 2991.

Foto’s: Dr Rikus Kloppers

Grysblaarvlek
Mieliestreepsiekte
Sonbrand/droogtestremmingsimptome op mielieblare.
Bakteriese streep
Bruinroes
Noordelike mielieblaarskroei