Somerdekgewasse sorg vir beter grond én diversifikasie

Gepubliseer: 4 November 2021

396
Murray Grobler,
eienaar, Holistivate

Dit is nie meer ongewoon om dekgewasse in die somerreënvalstreek van Suid-Afrika te sien nie. Alhoewel die gebruik van dekgewasse in rotasie­stelsels reeds goed posgevat het, is daar nog ruimte vir groei asook ’n groot behoefte aan inligting oor die regte bestuur van dekgewasse.

Dekgewasse se primêre doel is om grondverbetering en -gesondheid binne ’n kontantgewasrotasiestelsel te bevorder. Dit kan egter in enige stelsel gebruik word, insluitend konvensionele bewer­king en geenbewerking. Die produsent wat al die bewaringsbeginsels (onder meer geen- of minimumbewerking) gaan toepas saam met dekgewasse, gaan net soveel vinniger ’n volhoubare en bio­logies gesonde stelsel hê.

Een van die grootste uitdagings wat produsente ondervind, is die feit dat daar ’n deel van die beskikbare lande “opgeoffer” moet word om dekgewasse te plant en dat hulle nie noodwendig die inkomste van ’n kontantgewas daaruit gaan kry nie. Laas­genoemde is van toepassing in die somerreënvalgebied waar somerdekgewasse aangeplant word en geen kontantgewas betrokke is nie, soos in die geval van ’n tussenryverbouingstelsel (intercropping).

Deur vee egter deel van die stelsel te maak, kan die bordjies drasties verhang word met goeie winste wat met vleisproduksie gegenereer kan word. Dit is nog voordat die stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) wat in die grond teruggesit word deur die vee (veral beeste) bygereken is. Die mis van beeste kan baie meer voedingryk wees as die materiaal wat gevreet word. Of ’n bees nou swak of goeie materiaal vreet, die mis wat daaruit geproduseer word, is altyd ’n opgradering van dit wat gevreet word. Dan word die koolstofvoordeel wat die mis in die grond terugplaas nog nie eers genoem nie!

Keuse van dekgewasse
Dit is dus belangrik om die regte tipe dekgewasse aan te plant – met spesies wat in die omgewing aard, uit diverse plantfamilies bestaan en goeie weidingswaarde het. Somerdekgewasmengsels wat in die seisoen bewei word, bestaan meestal uit spesies soos sorghum, sudan, babala, basterbabala, akkerbone, sonhennop, dolichosbone, voer­rape, radyse en bokwiet. Somermengsels wat as staande hooi vir die winter aangeplant word, bestaan gewoonlik uit spesies soos soetsorghum, hawer, dolichosbone, weiwieke, voerrape, radyse en nog vele meer. Die spesies gaan ook afhang van die area en grondtipes.

Die tipe kontantgewas wat na die dekgewas geplant word, moet in gedagte gehou word wanneer die mengsel saamgestel word. ’n Hoër peulgewaspersentasie is nodig voor ’n grastipe kontantgewas soos mielies, terwyl ’n hoër graspersentasie nodig is alvorens ’n peultipe kontantgewas soos sojabone geplant word. Brassica-spesies speel ’n belangrike rol in die mengsel as ’n komponent van diversiteit en om penetrasiekanale te vorm. Dit dien verder as reservoirs om stikstof in die grond vas te hou sodat dit nie uitloog nie, maar eerder vrygestel word vir die opvolgende gewas wanneer verrotting plaasvind. Met die verskillende tipe mengsels kan stewige voervloei deur die jaar geproduseer word om ’n sterk veefaktor reg deur die jaar te onderhou.

Tabel 1 tot Tabel 3 is ’n skematiese voorstelling van verskillende gewasse wat in dekgewasmengsels gebruik word en hoe hul groeityd met mekaar vergelyk. Variëteite kan natuurlik van mekaar verskil, maar dit dien as ’n redelike aanduiding.

Bestuur van dekgewasse
Dekgewasmengsels moet reg bestuur word om die volle waarde daaruit te kry asook om die beste grondimpak te bewerkstellig. Hoe meer kere die dekgewasse bewei word, hoe meer koolstof word in die grond vasgelê en hoe doeltreffender word die kwaliteit van die dekgewas deurlopend in die seisoen bestuur. Dit is egter uiters belangrik om nie te kyk hoe hard bewei kan word nie. Volg eerder ’n benadering waar daar met behulp van elektriese draadjies beperkte, maar vinnige beweidings gedoen word om 30% tot selfs 50% van die materiaal op die dag van beweiding te los vir voldoende hergroei.

Wortelafsterwing neem drasties toe wanneer 50% of meer van die materiaal bo die grond afgewei word. In laasgenoemde geval word die wortels opgeoffer om energie in die hergroei van die plant te weeg te bring. Indien 40% tot 50% van die plant gelos word, is die hergroei soveel vinniger en bied dit soveel meer geleentheid vir herhaaldelike beweiding. Deur meer kere te bewei en minder op ’n slag af te wei, bly die plante ook langer in die vegetatiewe stadium, wat ideaal is vir kwaliteitbestuur deur die seisoen. Die herhaaldelike beweiding van die hergroei verhoog die koolstof in die grond weens die suikers wat deur die wortels afgeskei word. Elke keer wanneer die plant bewei word, skei die wortels suikers af wat die mi­krobes in die grond voed om weer minerale in ruil daarvoor te ontvang en die herstel van die nuwe hergroei te laat plaasvind.

Deur herhaalde beweiding in die seisoen toe te pas, is daar ook meer geleentheid vir mis om in kontak met die grond te kom op verskillende tye van die seisoen. Die nutriënte in mis is baie onstabiel en baie daarvan kan vervlugtig in die lug of wegloog indien die mikrobe-aktiwiteit nie op daardie stadium voldoende is nie. Mis word die beste in die grond opgeneem wanneer daar hoog genoeg grondtemperature sowel as genoegsame vog is. Deur meer beweidingsgeleenthede in die seisoen te benut, skep dit meer geleentheid om mis neer te sit in tye wat gunstig is vir die opname daarvan in die grond.

Dekgewasmengsels
Deur somermengsels vir staande hooi aan te plant, kan die uitgegroei­de mengsel (wat teen daardie tyd steeds kwaliteitvoeding bevat) in die winter of droë seisoen gebruik word. Dit is belangrik om die regte spesies in die mengsels te gebruik wat goeie staandehooi-eienskappe het en selfs groen in die winter is. Deur uitgegroeide materiaal te bewei, kan ’n heelwat beter bedekking op die grond verkry word deur die gebruik van elek­triese draadjies. Beeste kan geskuif word sodra genoegsame materiaal benut en vertrap is om die nodige bedekking op die grond te verkry.

Die bedekking hou die grondtemperatuur konstant en beskerm die grond teen die impak van swaar reëndruppels asook direkte sonlig. Wanneer die materiaal op die grond afbreek, word CO2 ook afgeskei, wat soms in die lug vervlugtig of met water reageer in vogtige toestande om ’n suur te vorm. Hierdie suur is ver­antwoordelik vir die mineralisering van nutriënte wat weer in die grond in ’n op­neembare vorm vir plante beskikbaar gestel word.

Dekgewasse is ’n moet in enige kontantgewasstelsel en is ’n waardevolle toevoeging tot grondgesondheid. Dit is verder ’n fantastiese manier om die boerdery te diversifiseer en risiko te versprei deur ’n veekomponent met meer stabiliteit te vergroot.