Graansimposium bring rolspelers bymekaar

Mariana Purnell, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 4 November 2021

979

Agbiz Grain het sy jaarlikse simposiums hervat, gekleed in ’n nuwe aanlyn baadjie. Die 2021-simposium het oor vier dae gestrek met twee uur lange webinaarbesprekings elke dag. Daar is daagliks een belangrike tema aangepak met vyf kundiges in die graanbedryf wat ’n mening vanuit hulle perspektief gelug het.

Koste van graanopberging na 2021
Teen die agtergrond van die geweldige rol wat die graan- en olie­sadebedryf in die groei van die totale ekonomie van Suid-Afrika speel, is die kosteknyptang van graanopberging uitgelig. Die koste van kapitaal, versekering, elektrisiteit en alternatiewe berging is van die belangrikste faktore. Daarby skep die agteruitgang van plattelandse infrastruktuur, hawens en logistieke dienste ook probleme terwyl die graanopbergers poog om hul doeltreffendheid te verbeter.

Eskom se probleme is in detail beskryf en dit voorspel massiewe tariefverhogings in elektrisiteit – ’n belangrike dimensie van die graanopbergingsbedryf – in die komende vyf tot tien jaar. Verder is gemaan dat indien Suid-Afrika voortgaan met sy gebrekkige hernubare-energiebeleid, daar baie vinnig planne gemaak sal moet word om onafhanklik van die nasionale netwerk te funksioneer, aangesien krag nie altyd beskikbaar sal wees wanneer dit nodig is nie.

Die enigste ligpuntjie ten opsigte van koste is dat die rente­koerse plat behoort te bly tot einde 2021 en in 2022 met nie meer as 100 basispunte behoort te styg nie. Alhoewel Suid-Afrika sedert 2013 vasgevang is in die langste ekonomiese afswaai in die land se ge­skiedenis, blyk dit dat die ergste van die stygende inflasie nou verby is. Dit is egter baie moeilik vir ondernemings om kosteverhogings aan verbruikers deur te gee sonder om hul volumes te benadeel.

Ander positiewe nuus behels die graanopbergingskoste-indeks (GSCI), wat die veranderinge in die eenheidskoste van die hulpbronne wat graanopbergers benodig om graan te voorsien, volg. Daar is bevind dat die GSCI teen ’n soortgelyke gemiddelde koers eskaleer as die produsenteprysindeks (PPI) wat deur die JSE gebruik word om elke jaar stoorgeld op toekomstige kontrakte aan te pas. Dit is egter meer bestendig as die PPI.

Geleenthede en uitdagings vir die bergingsbedryf
Die grootmaatstoorgeriewe wat tans die bedryf bedien, is in die laat 1950’s geskep. Vandag is daar 283 grootmaatstoorgeriewe met ’n totale kommersiële kapasiteit van omtrent 15,7 miljoen ton. Die totale bergingskapasiteit in die land, insluitend informele berging wat nie geregistreer is nie, beloop ongeveer 20 miljoen ton. Hierdie infrastruktuur is voldoende vir die gemiddelde jaarlikse produksie van ongeveer 19 miljoen ton graan en oliesade.

Agbiz Grain se lede is betrokke by meer as 67% van die berging en hantering van graan en oliesade wat in Suid-Afrika geproduseer word. Etlike spesialisdienste en spesifieke voordele word aan hulle kliënte gebied. Dit sluit in ’n keuse van liggings, balansstaat en waarborge, oplos­sings vir nat graan, die waarborg van voorraadkwaliteit en uitrei­king van silosertifikate, voedselveiligheid, higiënevereistes, sekuriteit, standaardise­ring deur die toepassing van graderingsregu­lasies, handhawing van kwaliteit, voldoening aan regulatoriese vereistes en die berging van ’n verskeidenheid van kommoditeite.

Verteenwoordigers van die onderskeie rolspelers in die waardeketting, wat produsente, bergingsoperateurs, veevoervervaardigers, handelaars en oliesaadverwerkers insluit, het uitdagings en geleent­hede bespreek. Beide produsente en meule­naars is voorstanders van ’n supergraad vir wit mielies wat veral op goeie­ maalkwaliteit en hektolitermassa gebaseer sal wees. Meulenaars meen die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) moet kultivars eva­lueer sodat daar bepaal kan word watter bestaande variëteite as ’n supergraad-witmielie kwalifiseer. Planttelers sal ook nuwe kultivars aan die toetse moet onderwerp.

Veevoervervaardigers meen die silostelsel is uitstekend, maar dat die geassosieerde logistieke stelsel platgeval het. Nuwe vee­voermeulens word nie meer langs silo’s met treinspore gebou nie. Logistieke koste as deel van die totale veevoerproduksiekoste het dus geweldig toegeneem. Hulle is ook voorstanders van ’n paspoortsisteem vir alle gewasse om naspeurbaarheid te bevorder.

Die oliesadebedryf het nuwe geleenthede uitgewys ten opsigte van die inligting wat beskikbaar is betreffende graan en olie­sade. Die bedryf kan baie voordeel put deur data van die SAGL en die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) te analiseer en aan te wend. Een voorbeeld is die oliepersers se benutting van die SAGL se oeskwaliteitsopname waar die olie-inhoud van oliesade jaarliks per silo bepaal en per streek gerapporteer word.

Verdere voorstelle is gebaseer op unieke geleenthede, nis­markte en die identiteitspreservering van graan en oliesade. Aangesien die algemene infrastruktuur vir grootmaatbestuur nie altyd operasioneel gerat is vir sulke aksies nie, moet die verskillende waardekettingvennote individuele geleenthede met die onderskeie
landboubesighede opneem sodat hulle nouer by die waardeketting betrokke raak.

Toekomstige tegnologiese vooruitgang na 2021
Verskeie diensverskaffers in die graan- en oliesadewaardeketting het diep in die kristalbal gekyk en met nuwe voorstelle gekom om aandag te skenk aan bestaande probleme in die bergings- en hanteringsbedryf.

Zoom Agri is in 2017 gestig en is tans in Argentinië, Spanje en Australië bedrywig met die doel om oplossings te bied vir probleme met variëteitsidentifisering en differensiasie asook graankwaliteits­meting met behulp van kunsmatige intelligensie, rekenaarvisie en masjienleer. Daar word beraam dat elke graankorrel wat in die wêreld geproduseer word, gemiddeld tot 14 keer hanteer word tydens al die kwaliteitsanalises soos dit deur die waardeketting beweeg. Die totale koste hieraan verbonde is enorm.

Indien graankwaliteit deur ’n instrument bepaal kan word, sal dit ’n impak hê op fisiese beperkings, vertragings in die beskikbaarheid van resultate, die subjektiwiteit van graan­analiste, bedrog en die hoë koste van analise in die waardeketting, hetsy intern of ekstern. Zoom Agri het tans verskeie pakkette wat gebaseer is op kunsmatige intelligensie, naamlik ZoomAgriOne wat variëteite van koring en gars kan onderskei asook ZoomAgriSpex wat fisiese graaneienskappe op gars, sojabone, koring en mielies kan uitken. Daar word ook gewerk aan ’n program wat 40 variëteite van sojabone kan uitken en tussen ses hilumkleure kan onderskei. Hierbenewens is daar blykbaar ook ’n instrument ge­bou wat tussen GMO-variëteite en nie-GMO-variëteite kan onderskei.

Wageningen Universiteit in Nederland se MyToolbox-projek het die bestuur en beheer van mikotoksiene in die Europese waardeketting verbeter. Dit is vanaf 2016 tot 2020 ontwikkel met die hulp van 23 vennote, waarvan drie uit China is, en rolspelers uit die wetenskap en nywerheid van elf verskillende lande. MyToolbox het alle beskikbare inligting van die wetenskap en die bedryf saamgevoeg en dit toeganklik gemaak vir alle rolspelers in die voorsieningsketting via ’n hulpmiddel vir besluitneming. Produsente, opbergers, voer- en voedselprosesseerders kan toegang kry tot advies oor hoe om mikotoksiene in spesifieke fases van die produksieketting te bestuur. Die belangrikste gewasse wat by MyToolbox se besluitsteunstelsel ingesluit is, is koring, gars, mielies en neute.

Metagenomika is die studie van al die genetiese materiaal wat in ’n enkele monster binne ’n spesifieke omgewing teenwoordig is. Dit word al hoe belangriker in die landbou en een potensiële toepassing daarvan is om die risiko wat met graanopberging geassosieer word, te verminder. Volgorde­bepalingstegnologie word ingespan om die metagenoom in ’n monster te ondersoek.

Die tegnologie waarmee dit gedoen word, ontwikkel vinnig en kan deesdae selfs aan ’n slimfoon gekoppel word. CenGen het vertel dat dié tegnologie potensieel gebruik kan word om beide hoërisiko- en voordelige mikrobiota tydens berging en selfs ook voor oestyd in die veld te moniteer en te kwantifiseer. Sodoende kan die doeltreffendheid van geïntegreerde beheermaatreëls gemeet word en weerstand daarteen geïdentifiseer word.

Agri Enviro Solutions het verduidelik dat osoongas graan kan ont­smet en verskillende mikotoksiene kan verwyder. Osoon is ’n baie kragtige ontsmettings- en oksidasiemiddel wat geen residu agterlaat nie en binne 20 minute weer na suurstof afbreek. Relatiewe humiditeit, temperatuur en stof kan egter die lewensduur – en dus effektiwiteit – van die osoon verminder. Dit is dus raadsaam om die graan binne-in ’n reaktor te behandel. Osoon het basies drie effekte op die graan – dit maak die swam dood, dit vernietig die swamspore en dit breek die sekondêre metabo­liete, oftewel mikotoksiene, af. Die osoon kan ook ander lewende orga­nismes soos insekte, hul eiers en larwes in die graan vernietig.

Die tegnologie van sensors en verbindende rekenaarnetwerke kan lei tot outonomie wat produktiwiteit, doeltreffendheid en kwaliteit verhoog, met gepaardgaande laer koste en minder vermorsing. Ronin meen die samesmelting van die fisiese en digitale wêreld kan die reuse­sprong vanaf outomatisering na outonomie moontlik maak.

Sommige tegnologieë word reeds toegepas op die plaas waar graan geproduseer word met geoposisionering en presisieboerdery. Belangrike inligting word vervat in kaarte vir produksietoepassings en vir oes; satellietbeelde word aangewend om weerpatrone te volg, gewasse te identifiseer en plantegroei te moniteer.

Graanopbergers voeg waarde toe deur middel van monsterneming en verskillende tipes analise met NIR-tegnologie, beeldanaliseerders en optiese sorteerders. Hulle lewer ’n gespesialiseerde diens as ’n bedryf om voedsel veilig te maak, maar inligting behoort op intelligensieplatforms geïntegreer te word.

Dit is juis die vermoë om die baie data en inligting wat daagliks geskep word te ontleed en die essensie te onttrek wat ’n besigheid die voorsprong gee. Met sensors en masjienleervermoë kan data vinniger beskikbaar wees en lei tot ’n intydse omgewing in die graanwaar­de­ketting.

Graan- en oliesaadmarkte se vooruitsigte na 2021
Volgens Silostrat word mielie-aanplantings van 2,7 tot 2,8 miljoen ha verwag vir die komende seisoen en onder normale weersomstandighede behoort die opbrengs omtrent 6 t/ha te wees. Die plaaslike vraag sal in die afsienbare toekoms sterk bly met ’n goeie uitvoermark in Afrika van byna 1,2 miljoen ton mielies (uitvoere van heelgraan sowel as produkte). Uitvoer van oormaat mielies sal deur die Durbanse hawe plaasvind.

Wêreldwye mielie- en sojaboonvoorrade sal na verwagting die komende jaar relatief beperk bly, wat die wêreldpryse hoog hou. Soja-olie­koek is die dominante proteïenbron vir veevoerproduksie in Suid-Afrika en die hoogste sojaboonoes ooit is die afgelope seisoen behaal. Die gebruik van plaaslike soja-oliekoek die afgelope seisoen was 820 000 ton en dus ongeveer 67% van die totale gebruik van 1,2 miljoen ton soja-oliekoek in Suid-Afrika. Die Veevoervervaardigersvereniging (AFMA) se projeksies van voer- en oliekoekbehoeftes van 2022 tot 2028 dui op ’n oliekoekvereiste van net meer as 2 miljoen ton. Daar word bereken dat wanneer die plaaslike sojaboonoes 2,2 miljoen ton oorskry, daar te veel soja-oliekoek in Suid-Afrika sal wees.