Die plant van toevlugsareas – effektiewe insekbeheer begin hier

Stephanus Friis, rentmeesterskapbestuurder, Bayer Crop Science Afrika
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

2212

Die ontwikkeling van weerstand by insekpeste is ’n realiteit, maar kan met behoorlike beplanning en bestuur verminder word. Die beste manier om die voordele en insekbeskerming wat Bt-tegnologie bied te behou, is om ’n geïntegreerde weerstandsbestuurprogram te ontwikkel en te implementeer.

’n Kerndeel van ’n geïntegreerde weerstandsbestuurprogram is ’n toevlugsarea. ’n Toevlugsarea is ’n blok of strook van dieselfde gewas wat nie die Bt-tegnologie bevat nie.

Die hoofdoel van ’n toevlugsarea is om ’n populasie van insekte wat nie aan die Bt-proteïene blootgestel is nie, te behou. Die gebrek aan blootstelling aan Bt-proteïene laat vatbare insekte in die toe­vlugsarea toe om met rare weerstandige insekte wat uit die Bt-gewas kom, te paar.

Vatbaarheid vir Bt-tegnologie word sodoende aan hul na­geslagte oorgedra, wat help om die langtermyneffektiwiteit van Bt-tegnologie te behou. ’n Toevlugsarea word vereis vir elk van Bayer se Bt-mielieprodukte, ongeag wat die teikenpes is. Dieselfde standaardtoevlugsarea werk vir alle teikenpeste.

Die plant van ’n toevlugsarea

  • Daar is twee opsies beskikbaar: ’n 5%-toevlug wat nie vir die teikenpeste bespuit mag word nie, of ’n 20%-toevlug wat wel vir die teikenpeste bespuit mag word.
  • Elke Bt-plant moet binne 400 m van ’n toevlug af wees, dus mag toevlugsareas nie verder as 800 m van mekaar af wees nie.
  • Die toevlugsareas moet verkieslik aan die buitekant van die landerye geplant word en stroke moet ook ’n minimum van ses rye wyd wees.
  • Omsoming van landerye word ook toegelaat, maar die Bt- en nie-Bt-rye mag mekaar nie kruis nie.
  • Die meng van Bt-tegnologiesaad met saad wat nie Bt-tegnologie bevat nie, is onaanvaarbaar.
  • Plant die gestruktureerde toevlugsarea op dieselfde tyd as die Bt-tegnologieë om te verseker dat ontwikkeling soortgelyk tussen verskillende produkte is.
  • Om die meng van saad tydens die plantproses te vermy, ver­wyder alle saad uit die saadbakke wanneer jy van Bt-saad na saad wat nie Bt-tegnologie bevat nie, oorskakel.
  • Elke produsent is verantwoordelik vir sy eie toevlugsareas op sy plaas.

Saadmaatskappye moet geïntegreerde weerstandsbestuuras­sesserings gedurende die groeiseisoen voltooi om te verseker dat hulle aan die vereistes voldoen soos deur die permitvoorwaardes vereis word. Doen jou deel om te verseker dat hierdie tegnologieë behoue bly deur jou volle samewerking te gee wanneer dit kom by insekweerstandsbestuur. Die volgehoue beskikbaarheid van Bt-tegnologie hang af van die nakoming van registrasievereistes soos uiteengesit deur die regering. Met ’n effektiewe geïntegreerde weerstandsbestuurprogram in plek, sal produsente die voordeel geniet van effektiewe en konstante insekbeskerming asook verbeterde opbrengspotensiaal wat by gewasse wat hierdie tegnologieë bevat, ondervind word.

Volhoubare landbou
Bayer se Bt-mielieprodukte is hoogs versoenbaar met die doelwitte van geïntegreerde plaagbeheer en volhoubare landbou. Geïntegreerde plaagbeheer behels ’n effektiewe en omgewingsvolhoubare benadering tot insekbestuur. Geïntegreerde plaagbeheer­programme gebruik huidige, omvattende inligting oor die lewensiklus van peste op so ’n wyse dat dit die minste impak op mense en die omgewing het. Die volhoubaarheid van mielielandbousisteme word verbeter wanneer produsente die voorgestelde geïntegreerde pesbeheerpraktyke volg, insluitend kulturele en bio­logiese beheerpraktyke, die neem van pesmonsters en die gepaste gebruik van pesdrumpelwaardes vir bestuurspraktyke.

Hierdie maatreëls is nie net belangrik vir toevlugsareas nie, maar is net so belangrik vir die opsporing en beheer van nieteikenpeste wat die daargestelde drumpelwaardes op Bt-gewasse oorsteek.

Peste wat nie beheer word nie
Spesifieke Bt-mielieprodukte bied beheer teen verskeie van die belangrikste lepidoptera-insekpeste soos stronkboorder en herfskommandowurm, maar sal nie alle insekpeste in mielies beheer nie. Daarom is dit belangrik om te verstaan dat addisionele beheermaatreëls in sommige gevalle benodig mag word waar daar ernstige infestasie van teiken- of nieteikeninsekte is.

Lande moet gereeld ondersoek word, veral gedurende periodes waar daar ernstige en volgehoue pesinfestasies is. Verwys na die geïntegreerde pesbeheermoniteringsriglyne om insekte te identifiseer wat gereeld gemonitor moet word asook vir voorgestelde beheerstrategieë. Wanneer insekbehandeling nodig is, kies produkte wat die minste impak op voordelige insekte het. Kontak jou naaste gewasadviseur vir die nuutste inligting.

Oorwegings by geïntegreerde insekbeheer

  • Kies die korrekte verkenningstegnieke en behandeling.
  • Indien moontlik, kies insekdoders met die minste negatiewe impak op voordelige insekte. Hierdie insekte kan bydra tot insekbeheer.
  • Roteer insekdoders met verskillende metodes van werking om die risiko dat insekpeste chemiese weerstand opbou, te verminder.
  • Kies basters wat goed aangepas is tot jou omgewing en gee genoegsame aandag aan die impak wat gewasgroeistadium en oestyd op die graad van insekinfestasie het.
  • Gebruik voorgestelde bewerkingspraktyke om te verhoed dat peste oorwinter. Vernietig die gewas direk na oestyd en gebruik toepaslike beheerpraktyke om die oorwintering van insekte te verminder.

Indien Busseola fusca (mieliestronkboorder) se voedingskade op YieldGard®-mielies die 10%-drumpel gedurende die groeiseisoen oorsteek, moet produsente hul saadverkoopsverteenwoordiger kontak om dit te rapporteer en Bayer se produkprestasie-navraagproses volg.

As voedingskade van enige Busseola fusca (mieliestronkboorder) of Spodoptera frugiperda (herfskommandowurm) op YieldGard® Maize 2-mielies waargeneem word, moet produsente hul saadverkoopsverteenwoordiger so gou moontlik kontak om dit aan Bayer te rapporteer.

Die registrasie-eienaar van YieldGard® en YieldGard® Maize 2 is Bayer AG, Duitsland.