Proewe bevorder volhoubaarheid van sorghum

Graannavorsing en -beleidsentrum, Graan SA
Gepubliseer: 1 September 2021

1027

Graan SA se sorghumkultivarproefprojek is in sy sesde seisoen. Die projek vind plaas in samewerking met die sorghumsaadmaatskappye (Agricol, Limagrain Zaad, Corteva en AGT Foods Africa) en produsente. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Agtergrond
Die beplanning was om sewe strookproewe in die afgelope seisoen aan te plant, waarvan slegs drie (Standerton, Lehau en Bloemfontein) suksesvolle resultate gelewer het. Die proewe wat by Bapsfontein, Sannieshof en Mthatha aangeplant is, het baie kweleaskade gehad, terwyl die be­plande proef in Settlers nie aangeplant kon word nie weens droogtetoestande tydens planttyd. Die drie lokaliteite waar proewe suksesvol gestroop is se resultate word in hierdie artikel bespreek.

Kultivars wat kommersieel beskikbaar is sowel as potensieel “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Corteva se PAN 8816 is as kontrole in Mpumalanga (Standerton) en die Vrystaat (Bloemfontein) gebruik, terwyl Limagrain Zaad se Mr Buster as kontrole in Limpopo (Lehau) gebruik is. Die koëffisiënt van variasie (KV) dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 15 word as statisties goed beoordeel.

Mpumalanga (Standerton)
In Tabel 1 word die opbrengsdata vir Standerton vir die 2020/2021-produksieseisoen aangetoon. Die KV was binne aanvaarbare norme (14,28%); die proef is dus goed uitgevoer en die resultate is betroubaar. Die saadmaatskappye het in totaal twaalf kultivars in die Standerton-proef ingeskryf, waarvan ses vir die eerste keer in dié proef aangeplant is. Dit is die eerste seisoen dat Corteva se PEX 81 in die proef ingeskryf is en dié kultivar het ook die hoogste opbrengs in die 2020/2021-seisoen behaal. SG 11618, wat ’n bitter kultivar van AGT Foods Africa is, het tweede beste presteer. Dit is belangrik om daarop te let dat albei hierdie kultivars nog nie kommersieel beskikbaar is nie, maar baie belowend presteer. Agricol se Avenger, wat ook ’n bitter kultivar is, het die derde plek behaal. ’n Gemiddelde opbrengs van 5,8 t/ha is vir die proef behaal.

1. Bittersorghumkultivar
    2020/2021: SG 12470/PAN 8950 – haelskade
*Nie kommersieel beskikbaar nie

Die opbrengsdata vir kultivars wat langer as twee jaar in die Standerton-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 2 aangetoon. Agricol se Enforcer en Corteva se PAN 8816 is die enigste twee kultivars wat ses jaar in die proef ingeskryf is. Enforcer het die beste sesjaar- gemiddelde opbrengs met 6,8 t/ha behaal, gevolg deur PAN 8816 met 6,45 t/ha. Die kultivars wat twee, drie en vier jaar in die proef ingeskryf is se gemiddeld is ook bereken.

¹ Bittersorghumkultivar
* Nie kommersieel beskikbaar nie

Limpopo (Lehau)
Limpopo het die afgelope seisoen moeilike klimaatstoestande ervaar met reën wat oor die algemeen baie laat voorgekom het. Dit is die tweede seisoen dat ’n proef in Lehau aangeplant is. In Tabel 3 word die opbrengsdata vir die 2020/2021-produksieseisoen aangetoon. Limagrain Zaad se Mr Buster – ’n bittersorghumkultivar – het die beste opbrengs vir die seisoen gele­wer, terwyl Corteva se PEX 81 die tweede beste opbrengs die afgelope seisoen behaal het. Dit is ook die eerste seisoen dat Corteva se PEX 81 in dié proef ingeskryf is. ’n Baie lae gemiddelde opbrengs van 0,99 t/ha is behaal.

¹ Bittersorghumkultivar
* Nie kommersieel beskikbaar nie

Die gemiddelde opbrengsdata vir die afge­lope twee seisoene word in Tabel 4 aan­getoon. Mr Buster het die hoogste tweejaar- gemid­delde opbrengs behaal met 1,60 t/ha, gevolg deur Agricol se Cracka en Rippa met 1,25 t/ha en 1,24 t/ha.

¹ Bittersorghumkultivar
* Nie kommersieel beskikbaar nie

Vrystaat (Bloemfontein)
Dit is die eerste seisoen dat ’n proef in Bloemfon­tein aangeplant is. Tabel 5 toon die opbrengsdata vir die 2020/2021-produksieseisoen – die KV was 12,18%, met die gemiddelde opbrengs 3,15 t/ha. Limagrain Zaad se Mr Buster het die hoogste opbrengs in die 2020/2021-seisoen behaal, gevolg deur AGT Foods Africa se NS 5511 en SG 11618. Corteva se PAN 8950 en PAN 8625 het vierde en vyfde plek behaal.

Graan SA spreek sy opregte dank aan die Sorghumtrust uit vir hulle finansiële onder­steuning waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.

¹ Bittersorghumkultivar
  2020/2021: SG 12470/PAN 8950 – haelskade
* Nie kommersieel beskikbaar nie
Klik op die QR-kode vir ’n kort video oor die proewe.

Sorghumproef-besigtigingsdag
’n Uiters geslaagde inligtingsdag is op 8 Junie 2021 by die Fakade-familieplaas, Rocky Park Farming Group, tussen Mthatha en Ugie gehou. Hierdie dag is goed bygewoon deur verskeie rolspelers, waaronder kleinskaalse boere tot kommersiële produsente, sorghumsaadmaatskappye, Dannhauser Malt (’n graansorghumverwerker), die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en Graan SA. Die sorghum het ook nie teleur­gestel nie, met ’n belowende oes wat groei.

Die saadmaatskappye teenwoordig het inligting van hulle onderskeie kultivars aan die produsente deurgegee, waarna die produsente die geleentheid gehad het om deur die onderskeie proewe te beweeg. Daar was goeie interaksie tussen Graan SA, produsente en verteenwoordigers van die onderskeie saadverskaffers.

Na ’n goeie sessie is daar heerlik saamgekuier. Graan SA spreek sy dank uit aan almal wat saamgewerk het om dié dag suksesvol te maak.