Kombinasie van metodes nodig om onkruid te beheer

Gepubliseer: 1 September 2021

2059
Dr Maryke Craven, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Normaalweg is daar ’n wye verskeidenheid onkruide teenwoordig in sojaboonaanplantings met die intensiteit van voorkoms wat kan varieer. Aangesien die verskillende onkruidspesies, veral gras- en breë­blaaronkruide, verder verskil wat betref groeiproses en lewensiklus, is daar nie ’n enkele onkruidbeheermetode wat op sy eie effektiewe beheer vir alle onkruidspesies gaan verseker nie.

Derhalwe raai onkruidkundiges produsente aan om ’n geïntegreerde beheerprogram te implementeer en nie slegs onkruiddoders vir die beheer van onkruide te gebruik nie omdat die gevaar altyd bestaan dat onkruidpopulasies weerstandig kan raak. So ’n beheerprogram sluit in die tipe grondbewerking, plantvoeding, kultivarkeuse asook produksiepraktyke (inter- en intraryspasiëring, plantdigthede en wisselbou) wat optimaal toegepas moet word vir suksesvolle sojaboonproduksie. Chemiese onkruidbeheer maak deel uit van ’n geïntegreerde beheerprogram. In hierdie artikel word chemiese beheeropsies wat produsente in so ’n geïntegreerde beheerprogram kan insluit, bespreek.

Die korrekte identifisering van die probleemonkruid in ’n spesifieke land is die eerste en belangrikste stap in onkruidbeheer, ongeag die gewas wat in die betrokke land voorkom. Onkruiddoders moet dan dienooreenkomstig geselekteer word, gebaseer op die doder se vermoë om daardie bepaalde onkruid te beheer. Etikette moet deeglik bestudeer word voordat die doder aangekoop en toegedien word omdat die verskillende produkte binne ’n bepaalde HRAC-groepering van gebruik (Herbicide Resistance Action Committee) nie noodwendig dieselfde onkruidspektrum beheer nie.

In die geval van sojabone is daar twee belangrike stadia in die plant se lewensiklus waar onkruidbeheer deurslaggewend is, naamlik die eerste vier weke na opkoms en dan vanaf blom. Onkruiddoders kan voor plant, voor opkoms en na opkoms van die onkruid toegedien word. Etikette moet noukeurig gevolg word betreffende die stadia van die gewas wanneer hierdie onkruiddoders toegedien kan word (of waar moontlike wagperiodes ter sprake is) omdat gewasskade kan voorkom indien die doder nie op die regte groeistadium van die gewas toegedien word nie.

Voorplantonkruiddoders
Parakwat en glifosaat is voorplantonkruiddoders wat nie selektief is in die onkruide wat hulle beheer nie. Ander voorplantonkruiddoders soos 2,4D, wat breëblaaronkruide tei­ken, is wel selektief. Saflufenacil is ’n onlangse toevoeging tot die mark vir die voorplantbeheer van hardnekkige breëblaaronkruide en word in kombinasie met glifosaat toegedien.

Oor die algemeen het hierdie produkte min tot geen grondwer­king, alhoewel sommige etikette melding maak van wagpe­riodes voordat die gewas geplant kan word. In vorige publikasies het onkruidkundiges voorgestel dat voorplantonkruiddoders, soos glifosaat, ongeveer twee weke voor plant toegedien moet word – veral omdat daar geen wagperiode gelys word nie. Etikette moet dus ten alle tye noukeurig nagevolg word om gewasskade te voorkom. Die voordeel van ’n voorplantonkruiddodertoediening is dat die bestaande onkruidpopulasie reeds voor die seisoen ’n knou toegedien word.

Vooropkomsonkruiddoders
Die volgende strategie sluit die gebruik van vooropkomsonkruiddoders in. Die grootste uitdaging is dat hierdie onkruiddoders in die grond ingewas moet word. Reënval (10 mm tot 20 mm) of besproeiing word dus binne vyf dae tot sewe dae na toediening benodig. Waar besproeiing nie moontlik is nie, kan dit nogal ’n besondere uitdaging wees om die tydsberekening reg te kry. Die gebruik van vooropkomsonkruiddoders is noodsaaklik om die sojaboonsaailinge te beskerm teen vroeë-opkomsonkruiddruk, omdat al hierdie doders ’n nawerkings- of residuele effek het. Afhangend van die hoeveelheid reën wat na toediening geval het, kan onkruidbeheer van tussen twee tot ses weke verkry word.

Plaaslike veldproewe van LNR-Graangewasse het getoon dat slegs twee weke se on­kruidbeheer verkry is in seisoene waar swaar reënval voorgekom het. In die VSA is daar ’n magdom weerstandige onkruidpopulasies, wat die beheer van onkruide na opkoms baie moeilik maak. Internasionaal word daar dus deur sommige plantbeskermingsmaatskappye aanbeveel dat ’n kombinasie van drie vooropkoms­onkruiddoders met verskillende meganismes van werking (HRAC-groepe) in sojaboonaanplantings gespuit moet word om optimale vooropkomsbeheer van onkruide te verseker – veral in gebiede waar weerstandige onkruide aangetref word.

In so ’n geval word ’n tenkmengsel bestaande uit ’n trifluralien, metribusien en PPO (inhibering van protoporfirinogeen-oksidase, HRAC-groep E/14) aanbeveel. Plaaslik moet tegniese adviseurs ge­raadpleeg word voordat so ’n mengsel gemaak word – produkte kan nie sommer net na willekeur gemeng word nie. Die slotsom is dat voor­opkomsonkruiddoders met verskillende meganismes van wer­king wat verenigbaar is met mekaar (soos aangedui op die etikette) inge­span moet word in gebiede waar weerstandige onkruidpopulasies vermoed word. As die reën te laat is, sal sommige etikette aanbeveel dat ’n ligte grondbewerking binne sewe dae gedoen word, maar optimale beheer sal dan nie verkry word nie.

Na-opkomsonkruiddoders
Glifosaat is verreweg die algemeenste onkruiddoder vir na-opkoms­onkruiddodertoediening by glifosaat-verdraagsame sojabone. Tog heers daar tans kommer in die plantbeskermingsbedryf dat daar al hoe meer onkruidpopulasies voorkom waar glifosaat nie voldoende beheer bied nie (Foto).

Al hoe meer produsente het uitdagings om onder meer skraalhanse in hul sojabone met glifosaat te beheer.

Alhoewel weerstandige onkruidpopulasies nie noodwendig die rede is vir hierdie gebrekkige beheer nie, kan dit nie uitgesluit word nie. Die fokus moet in sulke gevalle verskuif na ’n sterker voor­opkomsbeheerstrategie, terwyl daar na alternatiewe aktiewe in verskillende HRAC-groepe gekyk moet word vir na-opkomsbeheer van on­kruide. Omdat die plantbeskermingsbedryf ook voorsiening maak vir produsente wat die konvensionele, nie-Roundup Ready- weerstandige sojaboonkultivars plant, is daar gelukkig reeds ’n verskeidenheid middels waaruit produsente kan kies vir onkruidbeheer na opkoms. Die gebruik van die verskillende meganismes van werking (soos vervat in die HRAC-groepe), help om weerstandigheid te voorkom en dit te bestuur.

Onkruiddoders geregistreer vir gebruik in sojabone
In Tabel 1 tot Tabel 3 word al die aktiewe gelys wat tans in Suid-Afrika op sojabone geregistreer is. Aktiewe wat binne dieselfde HRAC-groep is, het dieselfde mega­nisme van werking. Vroeër was die HRAC-groepe onder ’n alfabetiese letter (A, B, C1) geklassifiseer. Onlangs is daar egter oorgeslaan na ’n numeriesgebaseerde bena­ming. In Tabel 1 tot Tabel 3 word beide die ou en nuwe HRAC-groepbenaming aangedui as byvoor­beeld “B/2”, waar “B” verwys na die ou HRAC-bena­ming en “2” na die nuwe benaming. Die doel van die tabelle is om produsente ’n aanduiding te gee van watter onkruiddoders daar tans beskikbaar is vir gebruik in sojabone asook wanneer hulle toegedien moet word (voor plant, voor opkoms of na opkoms). Inligting rakende moontlike wagperiodes word verskaf asook inligting waarvan daar kennis geneem moet word. ’n Geel blokkie met ’n “o”-simbool dui aan dat a) nie alle produkte met dieselfde aktief ’n spesifieke onkruidgroep (breë­blaar, gras en/of uintjies) beheer nie en dat b) beheer vir die spesifieke onkruid­groep wisselvallig is.

*Beskou net as ’n riglyn – gaan etikette deeglik deur vir werklike wagperiodes. Wanneer addisionele produkte in tenkmengsels bygevoeg word, kan dit ’n addisionele wagperiode tot gevolg hê.
*Beskou net as ’n riglyn – gaan etikette deeglik deur vir werklike wagperiodes. Wanneer addisionele produkte in tenkmengsels bygevoeg word, kan dit ’n addisionele wagperiode tot gevolg hê.
*Beskou net as ’n riglyn – gaan etikette deeglik deur vir werklike wagperiodes. Wanneer addisionele produkte in tenkmengsels bygevoeg word, kan dit ’n addisionele wagperiode tot gevolg hê.

’n Groen blokkie met ’n “x”-simbool dui op die beheer van sekere spesies binne die onkruidgroep (breëblaar, gras en/of uintjies). Blokke met rooi dui aan dat die aktief nie in die betrokke onkruidgroep geregistreer is nie. Gebruik hierdie tabelle om ’n strategie saam te stel waar daar van produkte van verskillende HRAC-groepe gebruik gemaak word om van onkruide ontslae te raak. Soos genoem, is dit die moeite werd om te kyk na voor­opkomsonkruiddoders. Die gebruik van hierdie tipe produkte kan tot kleiner onkruiddruk later in die seisoen bydra, mits die tydsbereke­ning van sulke toediening met genoegsame reënval plaasvind.

Onthou laastens dat chemiese onkruidbeheer deel moet vorm van ’n geïntegreerde beheerprogram. Wanneer daar té swaar op chemiese onkruidbeheer gesteun word, veral deur net een tipe produk soos glifosaat te spuit, kan onkruiddoderweerstandigheid die produsent se voorland wees.

Produsente kan dr Maryke Craven kontak by 018 299 6100 of cravenm@arc.agric.za vir enige verdere navrae.