Suurgrond – behoorlike vermenging van kalk is ’n móét

Gepubliseer: 10 Augustus 2021

4422
Dr Pieter Haumann, hoof- uitvoerende beampte, Fertasa

Fertasa se grondsuurheidswerkgroep* in same­werking met Graan SA, kyk in hierdie reeks artikels na die oorsake, slaggate, invloed van en oplossing vir grondsuurheid. In hierdie twaalfde en laaste artikel in die reeks, skryf dr Pieter Haumann oor die bestepraktykbeginsels vir bekalking van graangewasse in suurgronde.

Vanuit die voorafgaande artikels in die reeks is drie beginsels vir effektiewe bekalking beklemtoon, naamlik:

  • Beginsel 1: Landboukalk moet so suiwer en fyn as moontlik wees.
  • Beginsel 2: Die korrekte hoeveelheid kalk moet toegedien word.
  • Beginsel 3: Die kalk moet deeglik met die grond vermeng word.

Al drie beginsels is belangrik, maar die derde beginsel is van deurslaggewende belang. Landboukalkdeeltjies moet so na as moontlik aan mekaar in die grond wees om “neutralisasiesones” in die suurgrond te vestig (Barber, 1984).

Vervolgens sal die bogenoemde beginsels toegepas word vir spesifieke aksies ten opsigte van die bestuur van grondsuurheid soos uiteengesit deur Nel (2020).

Regstellende bekalking
Die doel hiermee is om die hele grondoppervlakte tot ’n bepaalde diepte te bekalk volgens ontledings van die bo- en ondergrond en deeglik daarmee te meng. Hierdie proses behoort elke drie tot vier jaar uitgevoer te word. Waar daar na verminderde of geenbewer­kingspraktyke oorgeskakel word, behoort regstelling vooraf gedoen te word.

Produkte beskikbaar vir die doel

  • Gewone of mikrofyn landboukalk – die algemene konsensus is dat mikrofyn of gewone landboukalk wat breedwerpig toegedien en gewoonweg of diep ingewerk word, die geskikste is vir hierdie doel.
  • Gips of fosfogips – ondergrondsuurheid kan onder sekere omstandighede met ’n kombinasie van gips en dolomitiese kalk reggestel word waar alumi­niumtoksisiteit ’n probleem is.
    Die toksisiteit van Al³⁺ kan deur die byvoeging van sulfaat (SO₄²-) in die vorm van gips verminder word deur die presipitasie van aluminiumsulfaat­minerale of deur ’n selfbekalkingseffek in die teenwoordigheid van seskwioksiedes in die ondergrond. Sommige effekte is slegs tydelik, terwyl die selfbekalkingseffek meer permanent is (Sumner, 1990).
    ’n Verdere voordeel van gips is die toediening van swael (S in die vorm van SO₄²-). Oppervlakkorsvorming van gronde kan ook behandel word met gips of fosfogips (Norton & Dontsova, 1998).
    Hierdie prosesse word breed­voerig in hoofstukke 1.8 en 4.8.1 van 2016 se Fertasa-bemestings­handleiding bespreek.

Noodsaaklike inligting en berekenings

  • Grondmonsters moet van relevante sones geneem en ontleed word.
  • Daar moet besluit word tussen dolomitiese of kalsitiese kalk. Dit word bepaal deur die ontleding van magnesium (Mg) en die kalsium:magnesium-verhouding (Ca:Mg-verhouding) in die grond.
  • ’n Volledige ontleding van die kalk wat gebruik gaan word, moet gedoen word. Die KKE (KCl) en veral hars is belangrik vir berekening van die bekalkingskorreksiefaktor (BKF).
  • Die landboukalk met die beste effektiewe relatiewe koste (ERK) behoort aangewend te word.
  • Die korrekte volume grond (oppervlakte x diepte) van die land vir toediening moet bepaal word.
  • Die brutodigtheid op oonddroë basis van die onversteurde grond van elke laag (bo en onder) moet bekend wees.
  • Verder moet die brutodigtheid op oonddroë basis van die landboukalk bekend wees. Omdat daar van volume gebruik gemaak word met die laai-aksie van landboukalk met laaigrawe op die land, is dit noodsaaklik dat die brutodigtheid op oonddroë basis gebruik word om die korrekte massa toe te dien.
    Landboukalk se brutodigtheid kan wissel van 1,1 t/m3 tot 1,3 t/m3. (Let wel dat dit vir oonddroë kalk is.) Dit is dus noodsaaklik dat die brutodigtheid van die landboukalk wat toegedien word, bekend moet wees. Hoewel die massa van klam of nat kalk per kubieke meter groter is as die droë produk, is die volume dieselfde. Die voginhoud van landbou­kalk kan soveel as 20% wees vir mikrofyn landbou­kalk en steeds aan die regulasies voldoen.
    Aansienlike onderbekalking kan plaasvind indien hierdie faktor nie in berekening gebring word nie.
  • Die kalkbehoefte van elke laag van die grond wat bekalk gaan word, moet omgeskakel word na ton landboukalk vir die gespesifiseerde gronddiepte per hektaar.
  • Die korrekte hoeveelheid landboukalk moet toegedien en ingewerk word.

Indien die kalk slegs vir bogrondregstelling nodig is, moet daar op baie sanderige gronde (veral met marginaal suur ondergronde) gemik word vir ’n 0%-suurversadiging of ’n pH(KCl) van 5,5 van die bogrond. Dit kan verhoed dat die ondergrond versuur.

Indien ernstige ondergrondversuring reeds bestaan, kan gips of fosfogips bykomend tot diep ingewerkte landboukalk aangewend word soos vroeër vermeld.

Dit is belangrik dat gips of fosfogips nie alleen toegedien word nie, maar saam met dolomitiese landboukalk. Die rede hiervoor is dat gips, wat relatief oplosbaar is, geneig is om Mg te verplaas op die gronduitruilkompleks. Dit kan tot versnelde uitloging lei. Dieselfde geld natuurlik ook vir kalium (K).

Indien dit aanbeveel word deur ’n gekwalifiseerde landbou­kundige, wat geregistreer is by die Suid-Afrikaanse Raad van Natuurwetenskaplike Professies (SARNAP), kan voorskrifmengsels van geregistreerde landboukalk en geregistreerde gips sonder addisionele registrasie geformuleer word vir toediening op spesifieke produsente se grond om ondergrondsuurheid te neutraliseer (hoofstuk 1.8 van die 2016 Fertasa-bemestingshandleiding).

Al die berekenings waar gips ingemeng word, moet dienooreenkomstig aangepas word om onderbekalking te verhoed, aangesien gips kalk nie kan vervang nie. Let egter daarop dat voorafgaande berekenings in die 2016 Fertasa-bemestingshandleiding behandel word (hoofstuk 1.8).

Dit is uiters belangrik dat kalibrasie noukeurig gedoen word om te verseker dat die regte hoeveelheid landboukalk toegedien word. Dit sal oor- en onderbekalking verhoed. Vir dié doel kan bakkies of seile gebruik word om toegediende kalk op te vang en te weeg. Sodoende kan verliese as gevolg van wind ook bereken word. Aanpassings moet gemaak word vir die persentasie vog in die kalk wat opgevang word.

Kontrole en regstelling
Daar moet gedurende die seisoen of, indien moontlik, voor planttyd vasgestel word hoe doeltreffend die landboukalk met die grond vermeng is. Dit is veral belangrik indien kalk dieper as die gewone ploegdiepte van 20 cm ingewerk word. Hiervoor word die universele-indikatormetodiek aanbeveel. Gebrekkige vermenging behoort dadelik reggestel te word.

Hierdie aanvanklike ondersoek moet gepaardgaan met monsterneming en ontleding van die verskillende sones wat betrokke is. Regstellende aksies, indien nodig, moet dan oorweeg word by die vroegste geleentheid.

Kalk diep geplaas, maar swak vermeng.
Foto: Chris Gazey, Departement van Landbou, Wes-Australië

Oppervlak-toegediende kalk sonder inwerking sal op hierdie stadium uiters beperkte resultate lewer. Daar moet eerder ná die oes bykomende kalk op hierdie kolle toegedien en dan ingewerk word (beginsel 3). Dit is noodsaaklik dat hierdie proses deeglik uitgevoer word voordat oorskakeling na verminderde of geenbewer­kingspraktyke suksesvol gedoen kan word.

Hierdie proses behoort elke derde tot vierde jaar herhaal te word vir konvensionele bewerkingspraktyke, afhangende van die noodsaaklikheid soos bepaal deur verteenwoordigende grondmonsterneming en -ontleding.

Instandhoudingsbekalking
Hierdie praktyk is daarop gerig om die herversuring van bekalkte gronde jaarliks te neutraliseer. Die redenasie is dat indien hierdie herversuring jaarliks effektief geneutraliseer word, dit nie nodig sal wees om algehele bekalking soos hierbo beskryf te doen nie.

Dit is natuurlik deurslaggewend om by minimum- of geenbewerkingspraktyke juis die noodsaaklikheid van algehele bekalking en die gepaardgaande bewerking te vermy. Die vorige artikel in hierdie reeks, genaamd “Strategieë om grondsuurheid in BL-stelsels te beheer”, gee ’n breedvoerige uiteensetting van aanvullende aksies wat nodig is om herversuring te hanteer (Smith, Swanepoel, Liebenberg & Van der Nest, 2021).

Bepaling van jaarlikse grondversuring
Jaarlikse versuring kan bereken word as die hoeveelheid CaCOɜ benodig om die suurheid veroorsaak deur toegediende ammonium (NH₄⁺), gewasverwydering van basisvormende katione asook versu­ring as gevolg van loging deur jaarlikse reënval, te neutraliseer. Dit kan varieer van 300 kg CaCOɜ/ha/jaar tot 500 kg CaCOɜ/ha/jaar en selfs hoër. Inligting oor versuring met verskeie stikstofprodukte word in die Fertasa-bemestingshandleiding gegee.

Die monsterneming van grondlae moet daarop gemik wees om vas te stel of daar stratifikasie van suurheid is en op watter diepte dit voorkom. Die voorstel is dat die monsterneming ten minste op 10 cm-intervalle moet plaasvind.

Produkte beskikbaar vir die doel

  • Gewone of mikrofyn landboukalk: Die toediening hiervan benodig kalkstrooiers wat relatief klein hoeveelhede landbou­kalk kan uitstrooi. Die kalk moet dan ingewerk word volgens stratifikasie­diepte vir optimale werking. Dit is raadsaam om die hoogste KKE-landboukalk te gebruik. Gips of fosfogips kan geredelik met gewone of mikrofyn landboukalk vermeng word vir toediening om ondergrondsuurheid ook te neutraliseer waar toepaslik. Die voorkoms van korsvorming van die grond kan ook behandel word met die toege­diende gips, wat in hierdie geval baie vlak ingemeng moet word.
  • Verkorrelde mikrofyn landboukalk: Hierdie produk het ’n KKE (HCl en hars) van hoër as 90% en ’n gemiddelde deeltjiegrootte van ongeveer 40 µm (mediaan 0,040 mm). Die korrelgrootte wissel van 2 mm tot 4 mm in deursnit (dieselfde as kunsmiskorrels). Die vereistes waaraan hierdie produkte behoort te voldoen, moet noukeurig deur die produsent nagegaan word. Die belangrikste eienskappe verwys na blusbaarheid (blus van korrels binne tien minute na byvoeging van water), korrelbe­standheid teen verkrummeling (2 kg tot 3 kg), die deeltjiegrootteverspreiding asook oppervlak-tot-volume-indeks (SA/V) en KKE (HCl en hars) van die kalk wat verkorrel is.
    • Verkorrelde gips of fosfogips: Dit kan geredelik met mikrofyn kalkkorrels ingemeng word vir toediening om ondergrond­suurheid ook te neutraliseer waar toepaslik. Die voorkoms van korsvorming van die grond kan ook behandel word met die toegediende verkorrelde gips. Ander voordele van gips of fosfogips is reeds vroeër bespreek. Omdat die produk relatief wateroplosbaar is, blus die korrels nogal geredelik in die grond.
      • Breedwerpig uitgestrooi: Verkorrelde mikrofyn landboukalk behoort teen dieselfde hoeveelhede as gewone of mikrofyn landboukalk toegedien te word volgens KKE. Die verkorrelde produk het die voordeel dat daar met toediening uiters min verliese as gevolg van wind is. Sorg moet egter gedra word dat die kalkkorrels eers volledig blus voordat dit ingewerk word volgens stratifikasie by konvensionele bewerkings­praktyke. Indien die verkorrelde produk dadelik ingewerk word, blus die produk nie na wense nie en belemmer dit die vereiste vermenging met die grond (beginsel 3).
        By geenbewerkingspraktyke kan die gebluste verkorrelde kalk en verkorrelde gips net so gelaat word. Die koste van verkorrelde kalk of gips maak dit egter moeilik om dit ekonomies te regverdig vir kommersiële graanproduksie.
        Verkorrelde kalk word wel met sukses aangewend in verskeie lande in Afrika waar gewone landboukalk onverkrygbaar is (persoonlike mededeling deur Rob Groot van die International Fertilizer Development Centre in Muscle Shoals, Alabama). Ondersteuningsorganisasies betrokke in hierdie lande bekom versakte verkorrelde kalk en skenk dit aan kleinboere wat suurgronde bewerk. Dit is maklik om te vervoer en om met die hand toe te dien. Die bewerkings­oppervlaktes is ook relatief klein. Die netto resultaat is dat dié kleinboere mettertyd beter opbrengste begin kry waar uitermatig hoë grondsuurheid dit vroeër onmoontlik gemaak het. Die positiewe reaksie wat met kunsmis verkry word met die kalk wat toegedien is, bevorder die gebruik van beide produkte. Mettertyd sal landboukalkbedrywe waarskynlik in dié lande tot stand kom.
      • Kunsmisbandplasing: Hier word die mikrofyn verkorrelde kalk met kunsmis gemeng en toegedien deur plantbakke. Die verwagting is dat die verkorrelde kalk die versuring van die N-bemesting in die band toegedien, sal neutraliseer. Daar kan egter ’n beperkte hoeveelheid verkorrelde kalk so toegedien word. ’n Verdere nadeel is dat die verkorrelde produk nie blus nie, terwyl dit van alle kante deur die omringende grond gedruk word. Dit belemmer die vereiste van goeie vermenging met die grond (beginsel 3).
        In die Wes-Kaap dui voorlopige proefresultate daarop dat die klein hoeveelhede verkorrelde kalk wat deur die planters toegedien kan word, nie doeltreffend is om grondsuurheidte neutraliseer nie en dat breedwerpige kalktoedie­ning steeds aanbeveel word (Smith, Swanepoel, Liebenberg & Van der Nest, 2021). Meer werk in hierdie verband is noodsaaklik.
      • “Vloeibare” kalk (verdun en uitgespuit op lande): Hierdie produk bestaan uit hoëgehalte- (KKE >95%), uiters fyn (<5 µm) dolomitiese en kalsitiese kalksteen. Dit bevat ook in sommige gevalle kalsiumhidroksied (Ca(OH)₂).
      • Omdat die produk in water gesuspendeer is, is daar geen wegwaairisiko van die kalkkomponent nie en baie akkurate toediening kan gedoen word. Die nadeel van hierdie produk is die groot hoeveelheid water wat saam toegedien moet word.
Goeie verspreiding van kalk met minimale verlies aan fynste fraksie.
Foto: Dons Jordaan, Bastion

Dit beperk die hoeveelheid kalk wat prakties toegedien kan word tot hoogstens 50 kg/ha droë massa waar daar 200 kg/ha tot 500 kg/ha benodig word (beginsel 2). Die koste van hierdie produk per ton droë massa maak dit moeilik om ekonomies te regverdig vir die bestuur van grondsuurheid by enige graanproduksie.

Die bewering word dikwels gemaak dat hierdie produk so fyn is dat dit in die grond in beweeg tot by die plantwortels en so goed reageer met grondsuurheid dat enkele kilogramme van die produk ekwivalent is aan tonne gewone landboukalk. Bekalking volgens hierdie ongefundeerde stellings sal beslis tot aansienlike onderbekalking lei.

Wees versigtig vir hierdie dwaling. Die spoed van reaksie van die uiters fyn kalk word verwar met die hoeveelheid kalk benodig om die grondsuurheid te neutraliseer. Die chemiese wet van ekwivalente behoort altyd in die praktyk besef te word.

Kalk diep geplaas met goeie vermenging.
Foto: Chris Gazey, Universal Indicator, Departement van Landbou, Wes-Australië

Opsomming
Dit is belangrik om die drie beginsels vir effektiewe bekalking nou­keurig toe te pas. Die proses om ’n sukses van bekalking te maak, behels streng kontrole oor elke berekening, meting en aksie. Verskeie stappe waar onderbekalking moontlik kan ontstaan, is uitge­wys. Daar moet nie geraai word wat die eienskappe van die kalk of die grond is nie. Dit kan lei tot onderbekalking – soos ervaring reeds bewys het in die Vrystaat, Wes-Kaap en waarskynlik landswyd.

Vereistes vir landboukalk
Afgesien van die chemiese en fisiese eienskappe van landboukalk soos bespreek in vorige artikels (SA Graan/Grain Februarie en Maart) in hierdie artikelreeks, geld die volgende vereistes vir landboukalk (Wet Nr. 36 van 1947):
Plantvoedingstofinhoud: Ca g/kg, Mg g/kg KKE(HCl)%. KKE(hars)% moet geregistreer word.
Potensieel skadelike elemente: Die volgende waardes (in mg/kg) vir bekalkings- en ander produkte (byvoorbeeld gips) – As: 20, Cd: 20, Cr: 750, Hg: 10, Ni: 200, Pb: 400, Se: 15, Zn: 2 750 – mag nie oorskry word nie.
Voginhoud: Die maksimum toelaatbare voginhoud van gewone landboukalk is 15% en dié van mikrofyn landboukalk 20%.

Die volledige regulasies vir landboukalk kan via die Fertasa-webblad bereik word by www.fertasa.co.za.

Baie belangrik: Gebruik slegs produkte geregistreer volgens Wet Nr. 36 van 1947.

Kalk “begrawe” met ’n gewone skaarploeg (moldboard plough).
Foto: Chris Gazey, Universal Indicator, Departement van Landbou, Wes-Australië

Bronne

      1. Barber, SA. 1984. Hoofstuk 4 in: Soil acidity and liming. Nommer 12 in die reeks Agronomy. Red: Fred Adams. Madison, Wisconsin, VSA.
      2. Bemestingshandleiding. 2016. Agtste hersiene uitgawe. Fertasa, Pretoria.
      3. Haumann, PE. 2021. Chemiese vereistes vir landboukalk. SA Graan/Grain, Februarie, 38 – 39.
      4. Haumann, PE. 2021. Fisiese vereistes vir landboukalk. SA Graan/Grain, Maart, 68 – 69.
      5. Nel, J. 2020. Bekalking: Doel en fokus omskryf. SA Graan/Grain, November, 47 – 49.
      6. Norton, LD & Dontsova, KM. 1998. Use of Soil Amendments to Prevent Soil Surface Sealing and Control Erosion. Advances in Geo Ecology, 31: 581 – 587.
      7. Smith, H, Swanepoel, P, Liebenberg, A, & Van der Nest, R. 2021. Strategieë om Grondsuurheid in BL-stelsels te beheer. SA Graan/Grain, Julie, 54 – 58.
      8. Sumner, ME. 1990. Final Report. Gypsum as an Ameliorant for the Subsoil Acidity Syndrome. Florida Institute of Phosphate Research.