Ek is genoeg

Pepe Marais, outeur, media-entrepreneur, eggenoot en pa
Gepubliseer: 10 Augustus 2021

615

Wat is hierdie aanhoudende, deurdringende stemmetjie wat heeldag en aldag sy koppie uitsteek vanuit my dieper onderbewussyn en tussen my twee ore fluister “ek is nie goed genoeg nie”?

Waar kom die stemmetjie vandaan?
Van kleintyd af tot ’n grootkopleier in my bedryf het hy my bygebly, nieteenstaande my asemrowendste mylpale. “Sal dit ooit moontlik wees om hom stil te maak?” het ek myself al menigvuldige kere met trane in my oë gevra.

As ’n klein babatjie in haar bedjie lê en skree vir haar mamma en die moeder neem miskien net te lank om te kom kyk of alles reg is, dan sal daardie klein wese dekades later op twee maniere reageer as gevolg van ’n minuskule gebeurtenis van toeka se tyd: Sy sal as ’n grootmens óf ooronafhanklik óf oorafhanklik wees in haar verhoudings met ander. “Ek’s nie goed genoeg nie.”

Alle kinders tussen die ouderdom van een en sewe jaar hoor gemiddeld 48 000 keer “nee” of “moenie” en net 5 000 keer “ja” of “jy kan”. En so word ons almal tien teen een onbewustelik gekondi­sioneer dat ons nooit sukses sal bereik nie. Alles met die beste intensie van ons ouers. “Ek’s nie goed genoeg nie.”

As jong kinders word ons dan in die Suid-Afrikaanse onderwys­stelsel ingedruk, soos maalvleis in ’n derm met ’n worsmasjien. Jaarliks word ’n persentasie toegeken teen die gemiddeld wat vir almal dieselfde tel – somtyds ’n 80%, wat natuurlik fantasties is, maar meestal ’n 50% wat afbrekend vir die siel is. “Ek’s nie goed genoeg nie.”

En dan is daar natuurlik ons elkeen se unieke lewenstorie – vol slaggate, soos my eie paadjie.

Media-entrepreneur Pepe Marais gesels oor die groter rede vir ons bestaan.

My verhaal
Ek is op 5 November 1968 in Stellenbosch gebore, die tweede kind van ’n liefdevolle, hardwerkende moeder en ’n humeurige alkoho­lisvader. Vele gebreekte deure en vensters en nagte van vloek en geskree later, het hy een aand my moeder, my sussie en myself langs sy bed laat staan en sy 9 mm-pistool teen my huilende ma se slaap gedruk, vasgevang in die waansin van nog ’n irrasionele woedebui. “Ek’s nie goed genoeg nie.”

Na 14 jaar van skop, skiet en donderende uitbarstings, het my ma uiteindelik genoeg gehad en saam met haar kinders die pad gevat. Drie jaar later het ek halsoorkop verlief geraak op ’n Ingelse meisiekind, die onder 19A-rugbyspankaptein se meisie – buite bereik van die maergat seuntjie met die groot ore. Maar om een of ander rede het ek besluit om haar gesig op ’n hoendereier te teken met my HB-potlood, dit toe een pouse in haar hand gedruk en daarna rooi in die gesig weggehardloop. Daar is geen manier op aarde dat ons ooit die wonder van die lewe sal verstaan nie, want op daardie dag het ek my eerste wonderwerk beleef. “Eiermeisie” het ’n paar weke later my eie meisie geword en die klein stemmetjie in my kop het gejubel en gejuig: “Ek is genoeg!”

Aan die einde van matriek moes ek weermag toe vir twee jaar om te gaan veg vir die veiligheid van my girlfriend en haar nuwe boyfriend, nadat Eiermeisie my soos ’n warm patat gelos het vir ’n ander jong man. “Ek’s nie goed genoeg nie.” Die nuwe kêrel kon boonop kitaar speel, dus het ek besluit om die instrument te leer speel as strategie om Eiermeisie se liefde terug te wen. En saam met kitaarspeel leer ek toe ook my eerste en kosbaarste lewensles – van toepassing op elke negatiewe gebeurtenis vir die res van my grootmenslewe: dat die ergste ding wat met ’n mens kan gebeur, amper altyd die beste ding is wat kan gebeur. Want uit my gebroke hart het ’n nuwe liefde vir musiek gevloei en vir die volgende sestien jaar sou ek en my kitaar by honderde konserte optree – van klein kroeë in Elandsbaai tot groot verhoë by die KKNK. “Ek is genoeg!”

Intussen het ek ook kuns ontdek, die grootste passie van my lewe. Uiteindelik was ek natuurlik goed in iets, wat boonop my selfvertroue in my eie vermoë verbeter het. “Ek is genoeg!” My liefde en natuurlike aanleg vir grafiese kuns en die feit dat ek verreweg die beste student in my kunsskool sou word – iets wat ek op daardie stadium van my lewe nog nooit beleef het nie – het my nuutgevonde selfvertroue verder laat groei. Daarmee saam het die geloof gegroei dat ek eendag my eie advertensiemaatskappy kon stig, ’n maatskappy wat oor die jare die beste in ons land sou word.

Gebaseer op dié droom het ek ’n paar jaar later die deure van Joe Public saam met my vennoot, Gareth Leck, in Kaapstad oopgemaak. “Ek is genoeg!” Net om na tien jaar van bloed, swoeg en sweet en duisende nagte van deurwerk om die swaarste waens deur die drif te trek, in 2009 bankrotskap in die oë te staar, terwyl my hele lewe om my uitmekaargeval het. Met minder as twee pennies om teen mekaar te vryf, my verhouding met my vrou en lewensmaat op die rotse, oorgewig en oorwerk nadat ek alles probeer reg- en wegdrink het, het ek myself eweskielik in die diepste, donkerste vallei van my lewe bevind. “Ek’s nie goed genoeg nie.”

Hoe is dit moontlik dat, al het ek ook my hoogste hoogtepunt bereik, die stemmetjie wat myself betwyfel net so ’n sterk plek in my kop beklee tydens my laagste laagtepunt? Hoekom maak dit nie saak hoe hard ek ook al aan my eie selfvertroue werk dat die “ek’s nie goed genoeg nie”-stemmetjie altyd ’n manier kry om sy kop binne in my eie kop uit te steek?

Genoeg is genoeg!
Dit was tyd om die stemmetjie in my kop te konfronteer en vir eens en altyd te verdryf. Omdat die grootste struikelblok in my lewe diep binne myself was, het ek besluit om diep binne myself te soek na ’n oplossing. Nancy Kline, skrywer van Time to Think, sê dit die mooi­ste: “The mind that holds the question, holds the key to the answer.” En deur diep, diep introspeksie het ek op Vrydag 9 Januarie 2007 my lewensdoel gevind. ’n Ware Bybelse ondervinding. En so sou ek ontdek dat elkeen van ons in hierdie lewe ’n geboortereg het. ’n Ander naam as die een wat ons ouers ons gegee het ’n kort rukkie na ons geboorte. ’n Groter naam vir ons eie lewensdoel. My “wedergeboortenaam” was “Greatness”. Maar belangriker as die naam, was die betekenis van my woord – “om die beste in die mense rondom my na vore te bring”. En so sou ek ontdek dat die enigste manier om die beste in ander na vore te bring, begin deur die heel beste in myself voort te bring.

Stadig, maar seker – op die noue, noue paadjie van ’n doelge­rigte lewe – het “ek’s nie goed genoeg nie” sy eie paadjie gevind. Tot waar ek myself vandag bevind met ’n rustigheid in my siel en ’n missie om my medemens met my hele hart te dien.

Was dit ironies dat die donkerste tyd van my lewe my sou help om die Lig te vind of is dit maar net die volmaaktheid van hoe die lewe werk?

Dit is dus vandag my oortuiging dat elkeen van ons se pad, maak nie saak hoe kronkelend en hoe moeilik nie, geskep is om ons te bring tot waar ons ons eie doel in die lewe vind. ’n Doel in diens van ander. ’n Doel wat die stemmetjie van wantroue in ons eie koppe die nek inslaan. ’n Doel wat die lewe die moeite werd maak. ’n Doel wat ons individuele werk, verhoudinge en ook geloof on­telbaar sterker maak.

Vandag weet ek dat ons elkeen op hierdie aarde ’n lewende wese is en dat ons doopname ons “lewende” name is. En baie vinnig gaan alles in ons lewens oor wat ons doen. Wat ons werk is, die klere wat ons dra, die plase wat ons bestuur, die motors wat ons ry, die skole waarheen ons kinders gaan en die vakansies waar ons lag en baljaar. Meestal in diens van onsself.

Maar vandag het ek ook die wete dat ons elk sonder twyfel nie net ’n “lewende” naam het nie, maar ook ’n “wesenaam”. In diens van iets baie, baie groter as onsself. En dat sonder my “wesenaam” geen wêreldse weelde my ooit die geluk sou kon help vind wat ek vandag ondervind nie.

Daarom is my grootste vraag aan jou die leser vandag: Wat is jou “wesenaam”? Wat is die groter rede vir jou bestaan hier op aarde?

Pepe Marais is vandag Eiermeisie se man van 35 jaar en saam is hulle die ouers van ’n pragkind, die 13 jaar-oue Jasper. Pepe is die medestigter en groep- uitvoerende kunsdirekteur van Joe Public United, Suid-Afrika se nommereenreklame-agentskap, met kantore in Johannesburg, Kaapstad, Durban en Amsterdam. Hy het twee boeke geskryf, Growing Greatness, A Journey Towards Personal and Business Mastery en Growing Greatness, Twenty Habits that Break Habits. Hy is die voorsitter van One School at a Time (OSAAT), ’n raadslid van SA Day, ’n “Purpose for Business”-praktisyn en tot vandag toe nog ’n closet rocker.

Klik op die QR-kode om na Pepe se potgooireeks genaamd “Growing Greatness” te luister. Hierin gee hy raad aan entrepreneurs en fokus hy veral op die rede waarom persoonlike en besigheidsdoelwitte daargestel en aangepak moet word.