Hoe beter jy jou grond ken, hoe groter die opbrengs

Gepubliseer: 12 Julie 2021

81
Valerie Cilliers,
redakteur,
SA Graan/Grain

Gereelde grondontleding is ’n uiters belangrike faktor in gewasverbouing en vorm die basis van grond- chemiese bestuur. Die doel is uiteindelik om die grondstatus in balans te bring om sodoende optimale opbrengs te verseker. SA Graan/Grain het met kenners op die gebied van grondgesondheid gesels oor die belangrikheid van grondstatus en die impak daarvan op opbrengs.

Wat behels goeie grondstatus?
Volgens David Taverna-Turisan, bestuurder: Departement Nutriology® Ontwikkeling en Innovasie by Omnia, word optimale grond­gesondheid bereik sodra al die komponente van die stelsel in balans met mekaar is. “Dit verleen aan die grond ’n hoë aan­pasbaarheid of weerstand teen ongunstige klimaatstoestande en stel dit in staat om hoë opbrengste onder wisselende klimaats­toestande vol te hou.”

Hy verduidelik dat grondgesondheid fisiese, chemiese en biologiese aspekte behels. “Grond se gesondheidstatus kan oor tyd deur natuurlike gebeurtenisse of menslike steuring verander word en hierdie verskuiwings in status kan uiteindelik ’n invloed op volhoubaarheid hê.

“Onvolhoubare landboupraktyke soos grondversouting, versuring, kompaksie, korsvorming, roofbou, monokultuurverbouing en die versteuring van die voedingstofsiklus het ’n negatiewe effek op grondgesondheid. Wêreldwye tendense toon ’n voortdurende 20%-afname in produktiwiteit van alle bewerkte grond as gevolg van grondagteruitgang.”

Hoe kan grondgesondheid bestuur word?
David meen dat die verbetering van grondgesondheid ’n geïntegreerde bestepraktyk-benadering vereis. Dit kan vermag word deur die praktiese toepassing van wetenskaplike kennis en innoverende oplossings soos presisiemonsterneming, afstandswaarneming, plantweefselontledings en bewaringsbewerking.

“Geïntegreerde grondvrugbaarheidsbestuur moet daarop fokus om plaaslike praktyke voortdurend te verfyn om sodoende die stoor van voedingstowwe en die vermoë van die wortels om toegang daartoe te verkry, te verbeter. Die beste praktyke vir die toedien van kunsmis kan deur die 4R-benadering opgesom word: Regte produk, Regte toedieningspeil, Regte tyd, Regte plek.

  • Areaspesifieke voedingsbestuur, of dit op die voedingstatus van die grond of die plant gebaseer is, verseker dat kunsmistoedie­ning bestuur word volgens wat die plant werklik nodig het.
  • Voorseisoen-monsterneming volgens ’n ruitpatroon is ’n doeltreffende hulpmiddel om chemiese of fisiese tekorte/wanbalanse oor lande te identifiseer en te kwantifiseer.
  • Historiese opbrengsdata oor verskeie groeiseisoene kan ge­normaliseer word, wat dan verskillende produksie-areas in be­stuursones saamvat.
  • Grondontledings, plantweefselontle­dings­­ en afstandswaarneming gedu­rende die seisoen kan aangewend word om die bio­logiese status van die grond sowel as die voedingstofinhoud en gesondheidstatus van die plant vas te stel. Dit kan gebruik word om topbemestings­praktyke verder te verfyn.

“Deur hierdie bestuursones onafhanklik van mekaar te bestuur, kan produsente hul produksiedoeltreffendheid (soos voedingstof- en watergebruiksdoeltreffendheid) verbeter,” voeg David by.

Volgens dr Chris Schmidt, senior landboukundige by Kynoch, is Suid-Afrikaanse landbou geseënd deurdat daar legio produkte beskikbaar is waaruit bemestingstrategieë opgestel kan word. “Die Registrateur van Misstowwe laat produsen­te toe om gebruik te maak van voorskrifmengsels vir feitlik alle behoeftes. Verder bestaan daar verskeie goeie kalkbronne in Suid-Afrika vir die ameliorasie van gronde. Suid-Afrika beskik ongelukkig nie oor baie natuurlike gipsafsettings wat goedkoper verhandel kan word as die gipsvolumes vanuit industriële prosesse nie, waarvan daar heelwat beskikbaar is,” meen hy.

Hy voeg by dat grondstatus slegs deur behoorlike grondontleding bepaal kan word. “Dit beteken dat ’n verteenwoordigende grondmonster van ’n grondvolume geneem en ingestuur moet word na ’n er­kende laboratorium vir ontleding volgens ’n erkende ekstraksiemetode.” Elke ekstraksie­metode wat deur ’n laboratorium toegepas word, behoort by die Agri-Laboratorium Assosiasie van Suidelike Afrika (AgriLASA) geakkrediteer te wees. Dr Schmidt waarsku dat die gebruik van ’n ekstraksiemetode waarvoor daar nie norme bestaan nie, riskant en misleidend kan wees en dus vir die produsent risiko’s inhou.

’n Onafhanklike landboukundige, Cobus Burger, meen dat grond­analises van bogrond (15 cm-diepte) en ondergrond (30 cm- tot 40 cm-diepte) ’n goeie aanduiding kan gee oor hoeveel milligram per kilogram daar van elke element in die grond teenwoordig is en of dit in verhouding is of nie. “Weet of ontleed jou grondstatus en neem dan oordeelkundige besluite rakende hoeveel en watter tipe produkte toegedien gaan word.”

Cobus verduidelik dat sekere nutriënte toegedien moet word deur te bereken hoeveel kilogram van ’n nutriënt se toediening die grond met hoeveel milligram per kilogram sal verhoog sodat grondstatus meer optimaal en die nutriënt genoegsaam aan die plant beskikbaar is. Indien ’n produsent byvoorbeeld die fosfor (P) wil verhoog van 20 mg/kg na 25 mg/kg en die grond se digtheid is 1,3 g/cm³ x 30 cm = 3,9, dan moet 19,5 kg P toegedien word (5 x 3,9 = 19,5 kg P).

Katione in die gronde wat vasgehou word deur die negatiewe lading van kleideeltjies, moet nie net optimaal wees in milligram per kilogram nie, maar ook in verhouding. Die vermoë van die grond om dit alles te stoor, moet gerespekteer word. As te veel kalk toegedien word, kan die kalsium (Ca) en magnesium (Mg) (in geval van dolomiet) so verhoog dat ’n belang­rike element soos kalium (K) wel voldoende kan wees in milligram per kilogram, maar laag kan wees in verhouding tot ander katione. Die plante se wortelstelsels sal dan nie voldoende K kan opneem nie.

Die oplossing in so ’n geval waar kalk of gips toegedien is, is om die kunsmismengsel te verander en byvoorbeeld meer K in ’n band voor plant te bemes om so te poog om voldoende K vir die plante beskikbaar te stel.

Wat is die impak van grondstatus op opbrengs?
Cobus noem verder dat grondstatus ’n uiters groot impak op produksie het. Dit beïn­vloed volhoubaarheid in so ’n mate dat onnodige opbrengsverliese plaasvind in­dien grondstatus swak is in benodig­de nutriënte.

Hy verduidelik dat ’n plant nutriënte uit die grond opneem vir optimale produksie onder ’n gegewe stel klimaats- en grondtoestande. Gewasse se behoefte verskil ten opsigte van die hoeveelheid van elke nutriënt wat benodig word om te groei, te ontwikkel en dan te produseer in ton of kilogram per hektaar. Dan verskil gewasse ook in die hoeveelheid van ’n spesifieke nutriënt wat verwyder word deur die oesproses en hoeveel nutriënte agterbly na verrotting van plantdele (wortels en blare).

Wanneer daar klimaatstremming is, verbruik plante nutriënte in plaas daarvan om dit vir produksie te stoor. Hoe minder gebalanseerd in hoeveelheid en in verhouding met ander nutriënte plante kos uit die grond kan opneem, hoe meer kwesbaar is hulle vir klimaatsuiterstes. Hulle het ook ’n verlaagde weerstand teen siektes en plae.

Aangesien wortelstelsels van een gewas tot die ander verskil, varieer die vermoë van ’n gewas om effektief nutriënte uit die grond op te neem. Dit is een van die groot redes hoekom gewasse se bemes­tings- en grondstatus­vereistes van mekaar verskil.

Gronde se tekstuur varieer ook. Gronde met meer slik en klei kan meer nutriënte in ’n sekere volume grond stoor as ’n meer sande­rige grond waar minder nutriënte in dieselfde volume grond gestoor kan word. Die grond- fisiese eienskap (tekstuur) tot op ’n diepte van 40 cm of 60 cm, moet in ag geneem word alvorens ’n produ­sent kan besluit­ oor die hoeveelheid kunsmis en/of kalk om toe te dien. Bogrond (40 cm/60 cm) bevat die meeste suurstof en dus die meeste fynwortelaktiwiteit indien dit goed deurlug is en nie toe­slaan en ’n kors vorm na die eerste harde reëns nie.

David voeg by dat onin­geligte of onbehoorlike bestuurs­besluite oor tyd tot verskillende vlakke van grondagteruitgang kan lei. “Sonder gesonde grond is dit amper onmoontlik om volhoubaar genoeg voedsel te bly produseer om ’n groeiende bevolking te voed.”

Thomas Strydom, landboukundige konsultant by Sion Agri, meen dat hoë opbrengste nie altyd die enigste mikpunt moet wees nie, maar wel volhoubare winsge­wendheid. “Die doel is dat die produsent sy spesifieke grondpoten­siaal per plaas maksimaal moet ontgin. Die grond sal net so goed produseer soos dit hanteer word en die ou leuse van ‘die swakste skakel in die produksielyn sal die opbrengs bepaal’ geld steeds.”

Die kosteknyptang en lae kommoditeitspryse maak dit vir die produsent uiters moeilik om alles 100% korrek te doen en dikwels is dit doodeenvoudig nie moontlik nie, sê Thomas. “My raad is altyd om te bepaal wat die belangrikste faktore is en waar die grootste risiko’s lê. Bespaar dan op die plekke waar dit nie winste direk sal benadeel nie. Hanteer hierdie areas eerste en bestuur dit so ver moontlik.”

Hy adviseer produsente om nie onnodig geld te spandeer nie, maar ook nie om te bespaar op die belangrikste insette soos kwali­teitprodukte, saad en goeie groeimediumopbouing nie. “Dit is waar die verskil op die lang termyn gaan lê – veral as stresfaktore in die seisoen voorkom, soos droogteperiodes. Plante wat op ’n gesonde vrugbare medium groei, kan swakker toestande net soveel beter hanteer en gee die kans om in goeie omstandighede bo normale opbrengste te realiseer.”

Hoe behoort grondstatus reggestel en bestuur te word?
Thomas Strydom, landboukundige konsultant by Sion Agri, beantwoord die vraag so: “Daar kom vele variasies en pro­bleme voor ten opsigte van grond. Die belangrikste is waarskynlik die feit dat die produsent nie noodwendig altyd die variasies en eienskappe ken en verstaan nie en dit net oor die algemeen hanteer soos sy buurman of sy voorgangers.” Daar is egter basiese aspekte wat aandag moet kry:

  1. Chemiese grondbestuur moet as geheel gesien word en nie net wat betref die pH nie. Faktore soos uitruilbare suur, suurversadi­ging, kalsium- en magnesiumverhoudings en fisiese hoeveelheid in milligram per kilogram in grond asook beskikbaarheid van die elemente vir plantopname speel alles ’n kardinale rol. Kaliumvlakke in die bo- en ondergrond moet verder in ag geneem word (veral vir areas wat sojabone, grondbone en sonneblom produseer en geneig is om ondergrond meer te benut as gevolg van hul penwortelstelsels). Die Hoëveld- en KwaZulu-Natal-areas se kaliumvlakke is veral onder druk as gevolg van goeie produksie op sojabone en nie noodwendig goeie bestuur en bemesting van die gewas nie. Onttrekking is dus meer as waarvoor bemes word en dit degradeer die vrugbaarheid.
  2. Sanderige gronde met lae katioonuitruilkapasiteit (KUK) sal byvoorbeeld vinniger versuur as gevolg van swak houvermoë van katione in vergelyking met sterk kleigronde waar daar baie elemente voorkom en amper geen loging plaasvind nie. Op die hoë KUK-gronde is elementvaslegging egter weer ’n realiteit. Dit help nie daar is oorgenoeg van sekere elemente, maar as gevolg van die onderdrukkende effek van ander elemente kan die plante dit nie opneem nie. In sandgronde is die fisiese hoeveelhede van elemente uiters belangrik, aangesien dit neig om besonder laag te raak. In kleigronde is die beskikbaarheid en die verhoudings tussen elemente weer belangriker.
  3. Kwaliteit van ontledings asook kalkbronne moet aandag geniet. Aanbe­velings en die effektiwiteit van die aanbe­velings kan net so goed wees soos die inligting waarop dit gebaseer word asook die produk wat gebruik word. Daar is groot variasies in die mark ten opsigte hiervan, wat dit uiters moeilik maak vir produsente om te besluit wie om te glo en wat om te gebruik. Thomas se aanbeveling is dat kliënte vertroue moet bou in persone met wie hulle die pad kan stap en ook om altyd die inligting te evalueer (opbrengste en opbrengskaarte) en met hul praktiese ondervinding te vergelyk. Kalkbronne se effektiwiteit verskil drasties en moet geëvalueer word deur middel van laboratoriumontledings wat self gedoen word asook die kalsiumkarbonaatekwivalent (KKE) en produkontledings van elke produk. Dit moet dan opgeweeg word teen die afgelewerde prys per ton op die plaas.
  4. Verskillende grondtipes met verskillende chemiese eienskappe speel ’n enorme rol. Aangesien die opbrengspoten­siale van gronde verskil asook die chemiese onttrekking per gewas, is dit belangrik om elke twee tot vier jaar roostergrondontledings te neem en die variasies te hanteer. Deur variërende bemesting/bekalking en plantestand ten opsigte van akkurate inligting soos grondpotensiaal, opbrengsdata en sonebestuur, kan van die variasies bestuur en hanteer word om seker te maak dat die maksimum winsmarge bereik word.