Ontmoet die nuwelinge op Hoofbestuur

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Julie 2021

2101
Alzena Gomes
skakelbeampte, Graan SA
alzena@grainsa.co.za

Graan SA se eerste virtuele kongres met die tema, “Geloofwaardigheid van die Graanmark”, is vanjaar op 3 en 4 Maart aangebied. Vyf nuwe hoofbestuurslede is tydens die geleentheid verkies, vir streke waarin vakatures ontstaan het. Die nuwelinge het almal reeds ’n induksiegeleentheid by Graan SA se hoofkantoor deurloop.

Ebert du Plessis – Streek 12
Ebert (50) boer op die familieplaas, Vlakspruit, by Platrand in die omgewing van Standerton saam met sy broers, Riaan en Stephan. Hul pa, Andries, staan met raad en daad by.

Die Du Plessis-span plant mielies, graansorghum en sojabone en het ook Beefmaster- en vleis­merino-kuddes.

Ebert het na sy dienspligtyd by die Potchefstroom Landboukollege begin studeer, waarna hy in 1992 terug na sy geboortegrond is. Landbou is vir Ebert meer as net ’n beroepskeuse. “Dit is ’n liefde, ’n passie, ’n leefwyse; ’n bevredigende beroep wat nooit stagneer nie. As ek na nuwe landboutegnologie kyk, wil ek my hande in verwondering saamslaan.”

Hulle is reeds sedert die beginjare van Graan SA by die organisasie betrokke, na hulle voorheen aktief by die Sonneblomprodusente-organisasie (SPO) betrokke was.

Ebert beoog om eersdaags via studiegroepe en produsenteverenigings met al die produsente in Streek 12 kontak te maak en Graan SA bekend te stel.

Hy meen die toekoms van landbou in hierdie land is positief, maar is tog bekommerd oor die mate van regeringsinmenging. “Landbou het in die COVID-tyd bewys dat ons onder moeilike omstandighede kan presteer.”

Ebert is met Janette getroud en hulle is die ouers van Sibert (23), Ané (21) en Rikus (19). In sy vrye tyd speel hy graag muurbal.

Wessel Hattingh – Streek 16
Wessel (39) boer saam met sy pa, Wessel sr., op Dipkraal, hul familieplaas in die Heilbron-omgewing.

Na skool het Wessel vir twee jaar by hul gasonderneming in Johannesburg gewerk voor hy in 2002 terug plaas toe is. Die Hattinghs het ’n gemengde boerdery op Dipkraal en bedryf ook ’n gasteplaas, Francolin Creek, waar huweliksonthale gereeld gehou word.

Wessel is reeds vir sowat 20 jaar lank lid van Graan SA. Hy was van 2013 tot 2015 voorsitter van Vrystaat Landbou se Jongboervereniging en ook in 2018 ’n finalis in die Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Georganiseerde landbou lê hom na aan die hart. “Dit is hierdeur dat ons as produsente kan hande vat.” Hy is positief jeens landbou in Suid-Afrika. “Ons moet positief wees; ons is die voedselmandjie van Afrika. As ek nie optimisties was nie, sou ek lankal handdoek ingegooi het.”

Streek 16 is ’n uitgebreide streek wat oor provinsiale grense strek. Wessel wil graag gedurende sy termyn as hoofbestuurslid poog om Graan SA-ledegetalle in hierdie streek uit te brei.

Hy het min tyd vir stokperdjies, maar geniet af en toe ’n potjie gholf asook kleiduif- en langafstandskiet. Wessel en sy vrou, Joanne-Mari, is die trotse ouers van Wessel (13) en Cara (12).

Pierré van Zyl – Streek 21
Pierré (47) boer reeds die afgelope 24 jaar op Cornelia, hul familieplaas in die Wesselsbron-omgewing. Hy is die derde generasie wat hier boer.

Nadat hy ’n BSc-graad in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, is hy terug plaas toe waar hy hoofsaaklik mielies produseer. Landbou is in sy bloed en hy beskou dit ook as sy stokperdjie.

Voor hom was Pierré se pa ’n lid van Graan SA, soos hy ook die laaste twee dekades is. “Graan SA is ’n belangrike organisasie wat die belange van produsente beskerm,” sê hy.

As hoofbestuurslid van Streek 21, sal hy trap in die diep spore van Chris Schoonwinkel wat dié streek etlike jare met toewyding gedien het.

Pierré is besonder opgewonde oor landbou in hierdie land. “As die produsente en regering saamstaan, is daar ’n goeie toekoms en sal voedselproduksie verseker word. My droom is dat al die rolspelers in vrede en harmonie hierdie doel saam sal bereik.”

Wanneer hy nie aan stuur van landbousake is nie, bring hy graag tyd saam met sy vrou, Florence, en hul vier kinders (tussen die ouderdomme van 9 en 15 jaar) deur. “Gesinstyd is vir my baie belangrik, want die tyd saam gaan so gou verby.”

Tom van Rooyen – Streek 23
Tom (55) boer op hul familieplaas, Rietkuil, geleë tussen Potchefstroom en Ventersdorp, wat reeds sedert 1918 aan die Van Rooyens behoort. Tom se pa, Mike (91), ’n stigsterslid van die Suid-Afrikaanse Mielieprodusente-instituut (SAMPI), is sy mentor.

Hy het ’n BSc-honneursgraad in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria verwerf en sy weermagopleiding voltooi voor hy terug plaas toe is. Vandag bedryf Tom hier asook op omliggende plase ’n gemengde boerdery. Hy is verder betrokke by eiendomsontwikkeling in Potchefstroom en Klerksdorp.

Sy uitgangspunt is dat ’n mens nie op die kantlyn kan staan en kritiseer nie, daarom is Tom besonder betrokke in sy gemeenskap. Hy het voorheen onder meer in die direksie van Senwes en beheerliggame van sy kinders se skole gedien.

Nie alle produsente besef die waarde van Graan SA nie, meen Tom. Hy wil in sy termyn as hoofbestuurslid poog om hierdie leemte reg te stel.

Landbou is vir hom ’n passie, maar onlangse uitsprake van die regering plaas ’n demper op sy geesdrif. “Ek sien gevaarligte flikker wat ’n grootskaalse ekonomiese krisis kan meebring.”

Sy vrou, Jackie, behartig die administratiewe sy van die boerdery. Hulle het vier kinders waarvan die jongste ’n seun-en-dogter-tweeling is. Dié twee het vanjaar geskiedenis gemaak deur die eerste broer-en-suster-tweeling te word wat as hoofleiers van Potchefstroom Gimnasium verkies is.

Rossouw Swart – Streek 32
Rossouw (49) boer sedert 2001 in die Swellendam-omgewing op die plaas, Koesanie, wat reeds vir vyf generasies in die Swart-familie is. Hier produseer hy gars, koring en kanola.

Na sy diensplig het Rossouw bodembeplanning en landbouvoorligting in Pretoria studeer, waarna hy ses jaar lank ’n afdelingsbestuurder by ’n ander boerdery was voor hy na Koesanie teruggekeer het.

Graan SA is in dié familie se bloed – Rossouw is reeds die afgelope 20 jaar lid van die organisasie, soos sy pa voor hom.

Rossouw het groot planne vir Streek 32. In dié streek is ’n handvol landbou-organisasies en hy beplan om elkeen daarvan te besoek om homself en Graan SA aan die lede bekend te stel.

Hoewel hy positief oor landbou in die land is, meen hy tog dat politieke faktore uitdagings meebring. “Dit sou lekker wees as landbou sy erkende posisie as voedsel- en werkverskaffer in die ekonomie kon terugkry en na waarde geskat word, sonder om as ’n sondebok beskou te word.”

Hy is met Adéle getroud en hulle is die trotse ouers van MJ (21) en Rianette (17). Benewens die boerdery, geniet Rossouw dit om vis te vang, die natuur te verken en op agterpaaie te toer.