Kolleges leer meer hóé as waarom

Gepubliseer: 3 Junie 2021

39
Karina Muller,
SA Graan/Grain-medewerker

Besorgde ouers vra dikwels of hulle hul kind met gemoeds­rus na ’n landboukollege kan stuur. Sal die kind behoorlik toegerus word vir die uitdagings in die hedendaagse landboumilieu? Sal hy of sy geredelik werk met ’n landboudiploma kry?

Suid-Afrika beskik oor elf landboukolleges. ’n Proses is tans ooreenkomstig die Hoër Onderwyswet aan die gang om hierdie kolleges as hoëronderriginstellings te herklassifiseer. Landboukolleges het voorheen onder die Departement van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling geressorteer. Hierdie proses sal na verwagting teen 31 Maart 2022 afgehandel wees.

Die doel hiervan is velerlei, maar dit gaan grootliks oor gekoördineerde kurrikulums, die daarstel van ’n gestandaardiseerde finansiële en befondsingsraamwerk en om ’n mannekragbasis te skep om te verseker dat hoogs bekwame personeel behou word.

COVID-19 het wel ’n invloed op studentegetalle gehad, hoewel landboukolleges verlede jaar tog met werksaamhede kon voortgaan. Volgens mnr Themba Cebani, hoof van Grootfontein Landboukollege en voorsitter van die Vereniging van Landboukollegehoofde (APAC), was aanlyn werks­aamhede moeilik vir veral voorheen benadeelde kolleges. Plaasbedrywighede het tydens die inperking voortgegaan en studente kon wel op geïdentifiseerde plase praktiese ervaring opdoen.

* Ten tyde van publikasie van hierdie artikel was die registrasieproses van die Tompi Seleka Landboukollege nog nie afgehandel nie.

Vanjaar het minstens 1 009* – teenoor die 922 van verlede jaar – eerstejaarstudente landswyd by landboukolleges ingeskryf.

Daar bestaan nie ’n rangorde oor watter kolleges ’n hoër standaard handhaaf nie, hoewel APAC tans daaraan werk. Wat wel, volgens Themba, ’n aanduiding van die kollege se posisie gee, is die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se kriteria betreffende ervaring van personeel, die betrokkenheid van die bedryf en die bestuur van die kollege.

Wanneer dit kom by werksgeleenthede vir kollegeverlaters, sê Themba dat dit van kollege tot kollege afhang. “Die meeste van ons kollegeverlaters bestuur plase landswyd en selfs in lande soos Kanada, die VSA en Australië. Die terugvoer wat ons van werkgewers kry, is besonder positief.”

Themba raai ouers aan om in die huidige ekonomiese klimaat eerder hul kinders na landboukolleges te stuur as reguit universiteit toe. “Een van die redes is dat hulle die kollege sal verlaat met al die nodige vaardighede om ’n onderneming te begin, sonder om noodwendig daarop staat te maak om iewers in diens geneem te word.

“Die opleidingsbenadering by landboukolleges is op ’n 60:40-verhouding ten opsigte van praktiese lesse teenoor teorie gegrond. Hulle leer meer hóé iets gedoen word as waarom dit gedoen word.”

Deeltydse studente ook hier geholpe
Nog ’n moontlike studiegeleentheid vir voornemende landboustudente is by die Peritum Agri-instituut in Bloemfontein.

Die instituut bied diplomas in lewendehawe- en graanproduksie aan. Kursusse strek oor 24 maande en word in 13 studieweke ingedeel. Studente kom elke vyf weke vir ’n week na die Peritum-kampus waar hulle teoretiese en praktiese sessies doen. In die vier weke waartydens hulle weg van die kampus is, kry hulle take om te voltooi. Studente skryf nie eksamen nie.

’n Matriekkwalifikasie met minstens 40% in Wiskunde, Wiskundige geletterdheid, Rekeningkunde of Ekonomie en Engels is nodig. Klasse word in Afrikaans en Engels aangebied.

Die instituut kry gereeld navrae van werkgewers wat hulle dan aan studente deurgee. Studente word tydens die dertiende studieweek geleer hoe om ’n CV saam te stel en tydens ’n werksonderhoud op te tree.

Peritum bied hul diplomakursusse sedert 2012 aan en daar is vanjaar 90 studente van Suid-Afrika en Namibië. Die koste beloop tans R66 000 vir die hele kursus en dit sluit alle stu­diemateriaal in. Belangstellendes kan met bemarkingsbestuurder Odette Shepperson skakel by 051 451 1120.