Afname in hektare skets somber prentjie

Gepubliseer: 3 Junie 2021

857
Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA

Alhoewel Suid-Afrika se sonneblomsaadmark klein is in vergelyking met ander gewasse soos mielies en sojabone, speel dit tog ’n belangrike rol in die plaaslike graan- en oliesaadomgewing.

Sonneblomsaad het oor die afgelope paar jaar, tydens die droër siklusse wat veral in die weste van die land geheers het, menige produsent uit die moeilikheid gehelp weens die feit dat dit later as die meeste ander gewasse aangeplant kan word.

Alhoewel die plaaslike sonneblomsaadbedryf onder druk is en daar nie regtig ’n stygende tendens betreffende sonneblomsaadproduksie is nie, is dit steeds belangrik dat hierdie bedryf ondersteun word. Dit sal verseker dat daar genoegsame winsgewende alternatiewe vir produsente in die somersaaigebiede is om te plant.

Tendense in die sonneblomsaadmark
Grafiek 1 toon die opper­vlakte aangeplant, produksie asook gemiddelde opbrengs sedert die 1990/1991-seisoen van sonneblomsaad in Suid-Afrika. Dit is duidelik uit die grafiek dat die oppervlakte wat aangeplant word oor tyd ’n redelik sywaartse tendens gevolg het. Dit het boonop die afgelope drie jaar gedaal, wat nie ’n positiewe prentjie vir plaaslike sonneblomproduksie skets nie.

Grafiek 1: Sonneblomsaad: oppervlakte, produksie en opbrengs in Suid-Afrika.
Bron: NOK en Graan SA

Die oppervlakte was aansienlik meer in moeiliker jare soos die 2015/2016-seisoen, toe die reën taamlik laat in die westelike gedeeltes van die land gekom het. Die reën wat laat was, het veroorsaak dat produsente nie al die mie­lies en ander somergrane kon plant wat hulle wou nie. Hulle moes noodgedwonge sonneblomsaad plant, aangesien dit later aangeplant kan word. Produksie is tot ’n groot mate gekoppel aan die oppervlakte wat aangeplant word. Alhoewel daar ’n redelik opwaartse tendens in gemiddelde opbrengs is, is dit nie noemens­waardig in vergelyking met van die ander gewasse nie.

Algemene verwerkingstendense
Wat verwerking betref, het daar oor die afgelope paar jaar ook nie veel verandering in die sonne­blomsaadmark voorgekom nie. Plaaslike verwerking korreleer grootliks met plaaslike produksie. Sodra die plaaslike produksie hoog is, is die plaaslike verwer­king hoër en sodra die plaaslike produksie laer is, dan daal die plaaslike verwerking.

Die grootste verbruik van sonneblom is sonneblomolie en -meel. Die olie word meestal in die industriële en huis­houdelike bak/kookbedryf gebruik, terwyl die meel as proteïenbron in veevoer ingesluit word. In jare wanneer die plaaslike produksie en verwerking van sonneblomsaad laer is, word daar meer olie en meel ingevoer om die binnelandse tekorte aan te vul. Daar word selde sonneblomsaad inge­voer – die meeste van die invoere kom in die vorm van olie en meel.

Grafiek 2 toon die binnelandse sonneblomsaadverwer­king asook sonneblomolie-invoere op ’n indeksbasis sedert die 2004/2005-seisoen. Die indeks, met 100 as basis, toon die persentasie groei van binnelandse verwerking asook olie-invoere sedert die 2004/2005-seisoen. Dit is duidelik uit die grafiek dat binnelandse verwerking relatief sywaarts geneig het oor hierdie tydperk. Die binnelandse verwerking van sonneblomsaad het in die 2020/2021-seisoen ongeveer 40% toegeneem teenoor die 2004/2005-seisoen. Binnelandse verwerking was baie wisselvallig en het meer gekorreleer met plaaslike produksie.

Grafiek 2: Indeks van binnelandse sonneblomsaadverwerking en sonneblomolie-invoere.
Bron: SAGIS en SAID

In seisoene wanneer plaaslike produksie laag was, was binnelandse verwerking ook laag, terwyl seisoene met hoër plaaslike produksie gelei het tot hoër binnelandse verwer­king. Dit is duidelik dat olie-invoere oor hierdie tydperk redelik gegroei het. Daar is verder ’n korrelasie tussen binnelandse verwerking en olie-invoere. In tye wanneer die binnelandse verwerking laag is, is die olie-invoere hoër en andersom.

Ten slotte
Die plaaslike sonneblomsaadmark is onder geweldige druk met die aangeplante oppervlakte wat die afgelope drie jaar gedaal het. Die areas waar sonneblomsaad aan­geplant word, raak al hoe kleiner soos die kompetisie van ander gewasse, soos sojabone, groter word. Die sonneblomsaad­oppervlakte het reeds skerp afgeneem in die oostelike gedeeltes van die land, waar daar tans minimale hektare aangeplant word.

Die meeste van die sonneblomsaad word in die westelike gedeeltes van die Vrystaat en Noordwes aangeplant, alhoewel die uitbreiding van sojaboonproduksie in hierdie areas ook van die sonneblomsaadhektare begin opneem het. Alhoewel sonneblomsaad onder druk is, is daar steeds ’n groot fokus op sonneblomsaad deur die bedryf.