Weerstand teen onkruiddoders raak jou sak op lange duur

Published: 6 May 2021

1396
Elriza Theron,
bemarkings-en-kom­munikasiebestuurder, CropLife SA

Die kwessie van weerstand teen onkruiddoders moet heel bo-aan elke gewasprodusent se prioriteitslys wees, want dit raak nie net die omgewing en volhoubare landbou nie, maar ook die produsent se sak op lang termyn.

Dit kan met weerstand teen antibiotika in mense vergelyk word. Die probleem is nie ooglopend terwyl die medikasie aanhoudend geneem word nie. Dit lyk inteendeel soos ’n wonderkuur en ’n mens kan nie gesteur wees om die voorskrif te volg nie, want die langtermyneffekte is nie onmiddellik sigbaar nie. Slegs wanneer die ergste gebeur en die mikrobes teen die medikasie bestand raak, sal die omvang van hierdie fout duidelik word.

Dieselfde beginsel geld by onkruiddoders. Hierdie middels is noodsaaklik om die opbrengs en gehalte van gewasse te beskerm deur onkruide wat vir noodsaaklike hulpbronne meeding, te beheer. Maar om hierdie middels toe te dien en nie die produketiket sowel as weerstandswaarskuwings noukeurig na te kom nie, kan op die lange duur ernstige gevolge inhou.

Weerstand vind plaas omdat ’n klein aantal onkruide in ’n populasie natuurlik bestand teen sekere onkruiddoders is. Die toediening van ’n onkruiddoder sal byna die hele bevolking beheer, behalwe dié wat natuurlik bestand is. Die oorlewendes lei tot die volgende generasie weerstandige onkruide en binnekort is die vermenigvuldigingseffek amper onbeheerbaar. Dit gebeur wanneer onkruiddoders met dieselfde meganisme van werking herhaaldelik op dieselfde populasie van onkruide toegedien word.

Gestel ’n produsent het byvoorbeeld nie die riglyne vir weerstandsbestuur nagekom nie en skielik is daar ’n misbredie-infestasie in sy land. Dit is egter nou weerstandig teen die einste glifosaat wat hy jaar in en jaar uit toegedien het. Dink aan die impak as hy nie meer produkte wat daardie aktiewe bestanddeel bevat, kan gebruik nie!

Glifosaatgebaseerde produkte is ’n enorme bate in die be­vordering van grondgesondheid en waterbewaring deurdat dit die produsent toelaat om geenbewerkingspraktyke toe te pas. Dit beteken dat die grond meestal onversteurd bly, met gewasreste wat op die grondoppervlak agtergelaat word. Gevolglik word erosie uitgeskakel. Die uitskakeling van gronderosie voorkom nie net die verlies van vrugbare grond nie, maar dit verhoed ook verminderde gewasopbrengs as gevolg van ’n afname in plant­waterreserwes, die agteruitgang van grondstruktuur en die verlies van worteldiepte.

Benewens verminderde opbrengste, het die produsent nou ook ’n toename in produksiekoste, aangesien konvensionele bewer­king heel moontlik nou nodig sal wees, wat brandstof- en arbeidskoste verhoog. Daar sal ook waarskynlik ’n toename wees in die hoeveelheid onkruiddoder wat benodig word om die bestande onkruid hok te slaan.

Hierdie is net een voorbeeld, maar in werklikheid is daar meer as 250 onkruid­spesies wat wêreldwyd teen 160 verskillen­de onkruiddoders weerstand ontwikkel het.­Daar is ’n hoë risiko om weerstand te ont­wikkel indien ’n spuitprogram vir onkruidbeheer staatmaak op produkte wat net een meganisme van werking het, indien onkruid­beheer slegs chemies is of as dieselfde meganisme van werking per seisoen herhaaldelik gebruik word. Ander faktore sluit in: geen gewasrotasie in die oesstelsel nie, hoë onkruidbesmetting en swak beheer in vorige jare.

Dit is vanselfsprekend dat elke produ­sent homself daartoe moet verbind om weerstand teen onkruiddoders te voorkom en nie net te reageer wanneer dit wel gebeur nie. Deur die beginsels van geïntegreerde plaagbeheer toe te pas, naamlik ’n kombinasie van chemiese, biologiese, meganiese en kulturele onkruidbeheermetodes en nie slegs een nie, is ’n produsent reeds sterk op pad in die regte rigting.

Die belangrikheid daarvan om die produketiket te volg, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit bevat nie net die riglyne vir die voorkoming en/of bestuur van weerstand nie, maar ook die spesifieke weerstandsbestuursgroep waaraan die onkruiddoder behoort, wat ’n deurslaggewende rol in die beplanning van ’n onkruidbeheerprogram speel.

Klik op die QR-kode om die HRAC-webblad te besoek.

Daar is ’n magdom hulpbronne en bestepraktykdokumente op die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC) se webwerf (www.hracglobal.com) beskikbaar, insluitende ’n globale klassifikasie-instrument. CropLife SA moedig produsente aan om hulleself met hierdie hulpbronne vertroud te maak en om hul deel te doen om weerstand teen onkruiddoders te bekamp.