Land Bank-afgradering laat diep kommer oor kredietverlening

Gepubliseer: 6 Mei 2021

966
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain-
medewerker

Die onttrekking van alle kredietgrade­rings van die Land Bank deur die kredietgraderings­agentskap Moody’s op 30 Maart vanjaar, het kommer oor toekomstige landboukredietverlening verder laat toeneem. Luidens Moody’s se aankondiging impliseer die afgradering dat dié bank se gradering as onderneming asook die reg om langtermynskuldinstrumente en skuldbriewe uit te reik, in gedrang is.

Finansiële verliese
Die Land Bank se resultate van finansiële verliese vir die jaar tot 31 Maart 2020 het met 211% tot R2,8 miljard verswak, vergeleke met ’n verlies van R902 miljoen in die vorige boekjaar. Die kantoor van die ouditeur-generaal het gevolglik sy twyfel uitgespreek oor die vermoë van dié bank om in die afsienbare toekoms te oorleef of om voort te gaan as ’n lopende saak. Dit was ook nie moontlik om ’n skoon oudit toe te ken nie.

Hierdie onvermoë van die bank om sy geldelike verpligtinge en mandaat na te kom, sy afgradering deur Moody’s, ’n uittog van bekwame personeel en ’n markaandeel van 29% van Suid-Afrika se landbouskuld van ongeveer R200 miljard, hou verreikende gevolge vir Suid-Afrika se landboufinansiering en voedselsekerheid in.

Alhoewel die Land Bank die toedrag van sake toeskryf aan swak landboutoestande en droogtes wat veroorsaak dat produ­sente nie hul verpligtinge kan nakom nie, is die werklike redes swak risiko- en kredietbestuur asook wanbestuur tussen finansiering en die uitleen van geld. Die Land Bank val ook nie onder die streng toesig en dissipline van die Reserwebank nie, maar wel onder die Departement van Finansies, waar spesialiskundigheid in dié verband ontbreek.

Die ouditeur-generaal se verslag het onder meer die volgende gebreke uitgewys:

  • ’n Gebrek aan interne beheermaatreëls om kredietverliese of dalings in die waarde van verlengde lenings behoorlik te verreken. Dit geld ook vir die sekuriteit wat aangebied word wanneer daar om lenings aansoek gedoen word.
  • Die ingediende finansiële state vir ouditering is nie volgens voorgeskrewe finansiële verslagdoening en internasionale reke­ningkundige praktyke opgestel nie. Dit word ook nie deur volledige rekords soos deur die wet vereis, ondersteun nie.
  • Swak interne bestuur en beheer van die instrumente en modelle wat die verwagte kredietverliese moes monitor.

Die reddingsboei van R3 miljard wat tydens die 2020-aansuiweringsbegroting aan die Land Bank toegeken is asook die R7 miljard oor ’n driejaartermyn tydens die onlangse begroting, bied geen waarborg dat dit die bank van ondergang sal red nie.

Intussen het die bank ’n herstelplan ingedien ten einde die toedrag van sake te hanteer wat onder meer die vermindering van sy leningsportefeulje behels.

Unieke strategiese posisie
Prof André Louw, voorheen verbonde aan die Departement van Landbou-ekonomie by die Universiteit van Pretoria, sê dat die Land Bank volgens die Grond- en Landbou-ontwikkelingswet (Nr. 15 van 2002) as ’n ontwikke­lingsfinansieringsinstelling in ’n unieke strategiese posisie gestel is met die transformasieproses in die landbou.

“As die grootste finansier in die landbou in Suid-Afrika het die Land Bank korttermynfinansiering aan agribesighede verskaf en ook finansiering aan ontwikkelende boere. Die bank moes ’n spesifieke rol speel met betrekking tot waardekettingfinansiering en spesifieke beleggingsgeleenthede skep waardeur werksgeleenthede geskep moes word,” sê prof Louw.

“Die transformasieproses het ook daartoe gelei dat die Land Bank heelwat perso­neel vanuit ’n oogpunt van swart ekonomiese bemagtiging op senior bestuursvlak aange­stel het wat nie oor die nodige ervaring in bankwese, landbou en landboufinansiering beskik het nie. Die besonderse uniekheid van die finansiering en risiko’s van die landbou-omgewing was nie aan hulle bekend nie. Dit het ’n rimpeleffek gehad het ten opsigte van ’n gebrekkige kredietbeleid, swak risiko­beheer, swak korporatiewe bestuur asook gebrekkige rekening­kundige, finansierings- en tesouriefunksies. Van die bekwame en ervare topbestuurslui het ook verlore gegaan.

“Die uitdagings vir die Land Bank vorentoe is velerlei en om steeds die ontwikkelingsmandaat uit te voer, raak al hoe moeiliker. Daar is nou ernstige bestuurs- en likiditeits­probleme, verpligtinge vir terugbetaling kan nie nagekom word nie, die Tesourie het nie voldoende befondsing vir ’n reddingspak­ket nie en die reddingsplan sal drastiese maatreëls vereis. Hierdie uitdagings het dus ’n nadelige effek op produsentevlak, agri­besigheidsvlak, die landbouwaardeketting en by handelsbanke,” aldus prof Louw.

Kredietbeskikbaarheid
Dr John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer­ Agbiz, wys daarop dat die toekenning van R7 miljard aan die Land Bank nie noodwendig groter krediet­beskikbaarheid vir pro­dusente en landbou­besighede beteken nie. Die bank sal die geld waarskynlik vir die delging van verpligtinge en die onder­steuning van sy balansstaat moet gebruik.

“Baie produsente kry Land Bank-produksielenings deur landboubesighede wat dit namens die bank deur middel van diensvlak­ooreenkomste admini­streer. Alhoewel van die landboubesighede en produsente direk addisionele fasiliteite met handelsbanke kon onderhandel, is die huidige situasie soda­nig dat van die produsente minder of selfs geen finansiering kon kry nie,” sê dr Purchase.

“Kredietwaardige produsente met sterk balansstate het meren­deels toegang tot handelsbanke en verskeie produsente kon so bygestaan word. Finansiële instellings se kredietkriteria verskil egter van mekaar en nie alle produsente kon noodwendig daaraan voldoen om toegang tot krediet te verkry nie.

“Die huidige knap likiditeitsprobleme in die landbou sal dus waarskynlik voortduur, hoewel inisiatiewe deur die privaat sektor geloods is om meer krediet beskikbaar te stel. Dit sal waarskynlik teen ’n relatief hoër rentekoers beskikbaar gestel word om voorsie­ning te maak vir groter onsekerheid en hoër risiko.

“Terwyl daar steeds onsekerheid oor die Land Bank se herstelplan en mandaatwysi­ging bestaan, skep dit geleentheid vir nuwe toe­treders om by finansieringsbesigheid betrokke te raak en vir bestaande diensverskaffers om uit te brei. Die markmeganisme sal grotendeels tekortkominge en doeltreffendhede vinnig regstel. Die gesig van landboufinansiering gaan in alle waarskynlikheid verander en produsente word aangeraai om deurlopend met hul finansiers gesprek te voer oor hierdie veranderende omgewing,” sê dr Purchase.