Kunsmatige vleis – feit of fabel?

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 Mei 2021

62

In haar nuwe boek, The way we eat now: Strategies for eating in a world of change, wat in Maart vanjaar verskyn het, vra die Amerikaanse koskenner, Bee Wilson, of ons werklik kan sê dat nagemaakte vleisprodukte gesonder as vleis is.

Sy skryf: “I started to question the healthiness of some of the new generation of vegan burgers after I ate a Beyond Burger, as served at the Honest Burger chain. While eating the burger – which came with guacamole and ‘pulled’ barbecued jackfruit – I was stunned by how close it felt to meat in my mouth, with its rosy pink hue and fragile flesh-like texture. But it felt nothing like meat to my digestive system.”

Die werklikheid van haar vleislose “burger” het haar so ’n half­uur na middagete getref met ’n onsmaaklike kitskosnasmaak en intense maagpyn. “When I looked up the ingredients, it occurred to me that had they not been marketed as quasi-meat I would never have chosen to lunch on ‘pea protein isolate, expeller-pressed canola oil, refined coconut oil, water, yeast extract, maltodextrin (and) natural flavours’.”

Prof Hettie Schönfeldt van ARUA CaBFoodS-Africa sê sy het nog nie hieroor navorsing gedoen nie. Sy wys egter op werk deur dr Alison van Eenennaam van die dierkundedepartement by die Universiteit van Kalifornië in die Verenigde State. Sy onderskei tussen vegetariese vleisvervangers; “in-vitro” of “gekweekte” vleis of “spierselgeproduseerde” namaaksels.

Vir vegetariese weergawes word sojabone, lensies en ertjiepeule asook voedingstowwe wat die proteïene in vleis ewenaar, saam met vette, binders, geurmiddels en beet as natuurlike kleursel, gevorm.

Laboratoriumgekweekte “vleis” vorm deur selle wat tydens weefselbiopsies vanaf diere verkry word – geen diere word dus hiervoor geslag of geteel nie. Volgens www.culturedbeef.org word 20 000 klein stukkies selweefsel vir een normale burgervulsel (patty) benodig.

Tyd sal leer
Gerhard Schutte van die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) sê alhoewel plantaardige en laboratoriumgekweekte vleisnamaaksels ’n werklikheid is, is dit in Suid-Afrika absoluut in sy kinderskoene. Volgens hom is dit op die hoë-inkomstemark gemik en terwyl die ware impak sal ontvou, is dit tans nie wesenlik nie. Dit kan wel verander.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se Izaak Breitenbach sê: “Ek dink nie daar word enige sintetiese hoender­vleis verkoop nie. So iets sal waarskynlik ongelooflik duur en nie aptyt­wekkend wees nie.”

Marieta Human, verbruikerswetenskaplike verbonde aan die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAVPO), glo smaak- en tekstuurprofiele en ekonomiese oorwegings sal internasionaal die impak van nagemaakte varkvleisburgervulsels en varkvleisworsies bepaal. “Weens die unieke rol van rooivleis in ons kultuur, sien ons nie gou ’n noemenswaardige bedreiging vir die plaaslike kommersiële varkvleisbedryf nie.”

Gerhard stem saam. “Statistieke Suid-Afrika beaam dat 1,2 miljoen Suid-Afrikaanse huishoudings lewende hawe – skape, beeste, varke of bokke – besit. As ontwikkelende land is hier baie sterk etniese gebruike gekoppel aan rooivleis.”

Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking van Graan SA, voorsien dat nagebootste vleis oor tyd ’n besliste rol in die vraag na graan vir voer kan speel. “Voer het in die laaste jare ’n baie belangrike deel van die vraag na graan geword. Onthou egter dat van hierdie produkte uit gewasse soos sojabone, lupiene en so aan ontstaan, wat ’n nuwe vraag bring.”

Monitering van hierdie tendens is noodsaaklik. “Die vraag is of hier ’n groot aptyt vir namaaksels sal wees, gegewe ons kultuur en eetgewoontes. Ons moet let op kostevergelykings met werklike vleis en vasstel waar ons – grootliks pryssensitiewe – verbruikerspandering gaan wees.”

Hy sê hoewel dit moeilik is om dit in isolasie te bevestig, sal ’n grootskaalse afname in die vraag na vleis nadele vir die graanbedryf kan inhou.

Dr Koos Coetzee, ’n landbou-ekonoom en bedryfsjoernalis, sê die moontlikhede vir ’n vleislose toekoms vorder internasio­naal vinniger as wat besef word. “In die Verenigde Koninkryk wil die Vegetariese Vereniging ’n leefwyse vestig wat potensieel ‘alle moontlike wreedheid teenoor diere uit die mark wil kry’.”

Die verwagting
Volgens die 2019-Kearney-verslag (https://www.kearney.com/consumer-retail/article) het “novel vegan meat replacements and cultured meat” die potensiaal om die vleisbedryf te ontwrig. Dit voorspel dat teen 2040 slegs 40% van vleisverbruik van tradisionele vleisbronne afkomstig sal wees.

Met astronomiese beleggings deur onder meer Bill Gates, Richard Branson, Li Ka-shing, Leonardo DiCaprio, Sergey Brin en Henry Soesanto floreer plantaardige kosmaatskappye, soos Rebellyous Foods, Impossible Foods, Plantible Foods en The Livekindly Co. In die eerste kwartaal van 2020 het hulle bo en behalwe 2019 se $747 miljoen, ’n verdere $741 miljoen ontvang.

Alexandratos en Bruinsma se 2012-raming was dat die wêreld teen 2050 sowat 1 751 miljoen ton diereproteïene per jaar deur melk, vis, hoenders, vark, bees en eiers sal gebruik. Daarteenoor word verwag dat gekweekte vleis teen 2040 reeds 35% van vleisbehoeftes sal vervang en dat vegetariese plaasvervangers 25% sal vervang.

Dr Van Eenennaam sê dit impliseer dat 402 miljoen ton diereproteïene (vis uitgesluit) binne die volgende 19 jaar deur “alter­natiewe” burgervulsels vervang kan word. Dit is ongeveer 886,2 miljard plant­aardige burgers en meer as 1,2 triljoen laboratoriumgekweekte burgervulsels.

Die oorsake
Dr Coetzee sê nywerhede word toenemend gedruk om hul koolstofspoor wesenlik kleiner te maak.

  • In ’n verslag van Desember 2006 deur die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO), Livestock’s long shadow: Environmental issues and options, word herkouers blameer vir 18% van alle kweekhuisgasse – meer as dié van die vervoerbedryf. Toe die VLO later bieg dat hul somme foutief was en dié skatting radikaal verlaag is, was die skade reeds enorm.
  • Hoewel Suid-Afrikaners vleiseters is volgens dr Coetzee, het 14 000 persone – veral van Kaapstad en Johannesburg – tydens die Veganuary 2020-veldtog (jaarliks in Januarie gehou), ’n petisie onderteken om eksklusief diervrye produkte te bevorder.

“Die groeiende wêreldbevolking moet kos gegee word en vee se rol sal groot bly. Onthou, diere skakel ruvoer om na proteïene. Hulle benut ook grond wat nie akkerbouvriendelik is nie. Om diere as die sondebokke uit te wys, lei die aandag van die werklike skuldige af,” voeg hy by.

As ’n medeskrywer van internasionale klimaatsveranderingsverslae, bevestig dr Michael Mann, Amerikaanse klimatoloog en geofisikus, dat fossielbrandstof die sondaar is.

Verbruikers moet ingelig bly
Volgens Gerhard is vleisnamaaksels wat plaaslik op ’n relatief klein skaal voorkom, tans beperk tot burger- en worsvulsels. “Ek verstaan dat laboratoriumtegnologie bestaan om biefstukke en burgervleis na te maak, maar het dit nog nie gesien nie. Oor produkname sal daar nog debatte volg, want woorde soos ‘wors’ en ‘burgervleis’ was deur eeue heen net eie aan egte rooivleis.”

Namaaksels wat soos rooivleis lyk, voel of smaak, vereis verbruikersopvoeding. “Dit is egter nie ’n bedreiging nie,” sê hy. “Ons fokus is op rooivleis se natuurlike hoë nutriëntdigtheid en gesogte, natuurlike proteïen-, aminosuur-, vitamien- en mineraalsamestelling wat die immuunstelsel versterk.”

“Die verbruiker bly die koning en koningin. Dit is wetlik verpligtend om geakkrediteerde voedingswaardes van alle produkte op etikette aan te bring. Ons doen dit met groot vertroue vir rooivleis. Die verbruiker sal self besluit.”

“Vandag is gesondheid ons enigste rykdom,” sê Marieta. “Oor verloop van tyd is matige vleis, matige groente, matige stysel en matige vrugte deur balans en porsiebeheer die pad na gesondheid.”

Die vraag na regte vleis groei
Gerhard is opgewonde oor die China-mark, ’n groei in rooivleis­uit­voere, die groeiende vraag na lewende Suid-Afrikaanse kleinveein die Midde-Ooste asook beesuitvoere wat van 5% na 20% kan verhoog.

“Ten spyte van dierebeskermings- en omgewingsbewustheids­aksies wêreldwyd, moet vleisnamaaksels steeds direk met die ware Jakob meeding. Konstante voorkoms, tekstuur en smaak hou ons produkte internasionaal mededingend. Vooruitskouings wys op ’n aansienlike styging in die vraag oor die volgende tien jaar.”

Buitensporig
Gerhard meen verder die pryse van “niebeesvleis”-burgervulsels wat nou in braairestaurante en in hoë-inkomstekettingwinkels opduik, is buitensporig hoog. Hy voel dat tegnologie moontlik oor tyd die koste vir sogenaamde gesondheids-, omgewings- of dierehanteringsvoordele sal belyn met die werklikheid.

Op ’n aanlyn spyskaart van Spur het dr Coetzee opgemerk dat ’n biefburger teen R79,90 aangebied word, terwyl die prys van die Beyond Burger – wat beskryf word as “die wêreld se eerste plantaardige burger, wat soos bees lyk, braai en proe” – R129,90 is. Dis ’n volle 63% duurder.

“Sosiale media dra soms foto’s van sampioenagtige proteïenkonkoksies as beesvleisplaasvervangers,” sê hy. “Sampioene is egter laag in proteïen en as die proteïen uit ander bronne kom, wek dit kommer.”

Geldmaak is die dryfveer
Beide Marieta en dr Coetzee verstaan nie waarom diegene wat dier­vrye kos bevorder, steeds iets wil eet of verkoop wat soos vleis lyk, voel of smaak nie. “Voedselverwerkers verskuif agter die skerms – en soms oop en bloot – hul fokus na sogenaamde toekomskos,” sê dr Coetzee.

“Hulle glo dat hulle meer geld uit kunsmatige produkte wat soos vleis of suiwel proe, kan maak. Die vars bedryf moenie mislei word nie. Verbruikers soek reeds gesondheidsprodukte op ander rakke as waar vars vleis, groente en suiwel is. Nuwe tegnologie, soos 3D-drukmoontlikhede, sal toenemend ook kosnamaaksels bring.”

Sal maar moet sien
Sara Roversi, stigter van The Future Food Network, sê kos is lewe, energie en voeding. “Eet is noodsaaklik vir die mens, maar dit verg gewetensbewuste besluite. Die groot uitdaging is om ons planeet te beskerm deur gesond te eet en vir die ekosisteem wat ons huisves, te sorg.”

Wie weet? Moontlik vat Bee Wilson se boek dit dalk tog raak wanneer sy sê: “Defenders of meat will say – with good reason – that an unprocessed home-cooked grass-fed leg of lamb is a far more ‘natural’ and nourishing thing than a Quorn burger. But the question is what to do if you lack the cash for grass-fed lamb?

Bron

  1. Alexandratos, N & Bruinsma, J. 2012. World agriculture towards 2030/2050: the 2012 revision, ESA Working Papers 288998, Food and Agriculture Organization of the United Nations, Agricultural Development Economics Division (ESA).