Kan ’n reenmeter dan lieg?

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 Mei 2021

137

Graan SA-lid, Theunis Pretorius, boer op Smalfontein tussen Ficksburg en Senekal in die Vrystaat. As ’n Fries- en Jersey-melkprodusent, wat mielies, soja­bone en dekgewasmengsels vir kuilvoer plant, het hy ’n interessante, maar sorgwekkende, waar­neming teëgekom – nou wel nie op sy plaas nie, maar in die streek.

Op dieselfde geografiese punt, in drie afsonderlike hangringe en aan een paal vas, is ’n liggroen smalrondebeksilinder-reën­meter; ’n oranje breërondebeksilinder-reënmeter en ’n donkergroen seskantige reënmeter, almal met skuins afloopwande vanaf die water­inlate, geplaas (sien foto). Oor die verloop van sewe maande was die lesings van presies dieselfde neerslae baie uiteenlopend (sien Tabel 1).

Reënmeting onder die loep
Hoekom dan so? Is daar reënmeters wat lieg of voldoen alle meters net nie aan die minimum standaarde nie? Weet ek dat my reënmeter die ware Jakob is of is ek maar tevrede met reën wat “te veel”, “te min”, “te vroeg”, “te laat” of “nog nie” geval het nie?

Akkurate neerslagmeting is van kritieke belang vir korrekte klimaatlimiete per gebied. Langtermynreënvalrekords bepaal optimale reën- en risikotydperke. “Onder- of oorskatting van grondwater kan gewasse benadeel en akkurate vloedwaarskuwings raak,” sê Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige van Bloemfontein.

Talle nagraadse studies is al hieroor gedoen. In kort is neerslagmeting die hoeveelheid water wat op ’n spesifieke punt op die horisontale aardoppervlak gemeet word. Dit word uitgedruk as die vertikale diepte daarvan óf as die ekwivalent van vastestofneer­slag, soos sneeu. Die groot probleem is dat die gemete syfer net geldig is vir die plek waar die reënmeter geplaas is. “Met ons land se topografie, unieke weerstelsels en wind, geld die boerespreekwoord wat sê: ‘Buurman, klim deur die draad dat jy nie natreën nie!’” sê Johan.

Die konsekwentheid van reënmeters word reeds sedert 1769 betwyfel. Vergelyk gerus Michael Deering Pollock van Newcastle Universiteit se werk hieroor. Dit het tot akoestiese reënmeters gelei – wêreldwyd ’n groot sukses. Hiermee word reën deur klank gemeet – sonder enige bewegende dele en met min onderhoud. Die klanksein van elke druppeltjie op ’n staalplaatjie (die druppelgrootte) en die aantal druppels bepaal die volume.

Prof Kobus Botha, afgetrede dekaan van die Fakulteit Landbou aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, sê: “Ons grootste pro­bleem is dat hier by ons bitter min, indien enige, reënmeters te koop is wat op standaard is. Bykans almal is swak ontwerp, gee verskillende lesings en is hoegenaamd nie sonbestand nie.” Prof Botha glo barometriese druk bly die belangrikste en dat onakkurate reënmeterlesings nie noodwendig weervoorspellings as sulks kan beïn­vloed nie, maar wel langtermyntendense en -besluite negatief raak.

So maak vervaardigers om akkuraatheid te bevorder
Namens ’n vervaardiger van rondebekreënmeters, Watex Reinforced Hoses in Krugersdorp, sê John Gers dat hul produk die probleem van uiteenlopende le­sings takel. “Ons kalibreer gravimetries deur die omskakeling van massawaardes na volumewaardes waarvoor suiwer water as materiaal gebruik word. So verseker ons die akkuraatste kalibrasie.” Op die outeur se versoek het weging van water wat in hul reënmeter opgevang is, die resultate in Tabel 2 opgelewer.

“Jy moet jou meter verstaan. Ons lyn vir elke syfer is onder die nommer. Ons meter se bostuk pas baie styf en is windbestand. Daar is geen water­verlies uit die drie gaatjies nie. Ons opvangsdeursnee is gemiddeld 153,3 mm, wat ’n gro­ter moontlikheid vir ’n verteenwoordigende monster verseker,” sê John.

Roy Miller van Miller­ Methods in Johannesburg, ’n vervaardiger van driehoek­vormige reënmeters,­ sê hul oorspronklike rekords bevestig dat hulle eenderse lesings vir ’n rondebekmeter en ’n breërondebeksilinder-reënmeter verkry het. Oor die tydperk van ’n maand was die verskille tussen die meters en ’n regaf bak met ’n plat bodem as kontrole soos in Tabel 3 uiteengesit.

Op die plaas
Prof Botha sê produsente kan self kyk hoeveel hul reën­meters uit is. “Plaas enige bak, glas of blik – sowat 15 cm in deursnit en 10 cm diep – met regaf wande en ’n plat bodem langs jou meter. Meet ná reënval, sommer met ’n liniaal, die waterdiepte in millimeter. Vergelyk jou liniaal­lesing met jou meter en jy sal 100% weet hoe ver jou meter uit is.”

Hy meen produsente moet toenemend streef na elektroniese weerstasies. “Alhoewel dit sowat R8 000 kos, is dit die ideaal. Daar is ’n groot verskeidenheid akkurate sagteware beskikbaar. Dit bied selfs beperkte weervoorspellings.”

Johan sê produsente moet let op korrekte blootstelling; leesfoute (hou die meter 100% regop) en hoe lank ’n reënmeter of weerstasie op dieselfde plek staan en “steeds as baie betroubaar geag word”. “Oor dekades verander die omgewing, die bome word groot, daar is nuwe geboue en heinings is dalk aangeplant. Herhaaldelike foutiewe lesings kan besluitneming raak.”

Hy meen reënmeters bly, ten beste, net ’n aanduiding van reënval. “Aanspreeklikheid vir foute sal moeilik bepaal kan word.”

Akkuraatheid is belangrik
“Dit is belangrik om ’n geykte (gekalibreerde) reënmeter te gebruik. Water se spateffek veroorsaak dikwels verskille tussen die lesings. Ideaal gesproke moet die opvangsarea diep genoeg wees sodat geen druppels uitspat nie. ’n Sif in die reënmeter se bek moet die energie van die druppels breek om in die afloopbuis te beland,” verduidelik Johan van den Berg.

Hy wys op die neergelegde Suid-Afrikaanse standaarde vir reënmeters:

  • Die bokant moet 1,2 m bokant die omgewing se oppervlak te wees.
  • In ’n gewasland moet dit 1,2 m bokant die gewas uitstaan.
  • Geen reënmeter mag op die dak van ’n gebou wees nie as gevolg van verhoogde windreaksie en die spateffek.
  • ’n Standaardreënmeter moet 20,32 cm in deursnee wees (8 duim).
  • Die minimum intervalle van metings moet 0,1 mm wees.
  • Die boonste kant van die reënmeter moet so dun as moontlik wees.
  • Maksimum blootstelling word verkry as die reënmeter minstens 30 m vanaf die naaste dak of geplaveide area is.
  • Dit moet ten minste vier keer die hoogte van die naaste obstruksie, vanaf daardie obstruksie af wees. As ’n boom dus 20 m hoog is, moet die reënmeter minstens 80 m verder wees.