Is dit tyd vir die swanesang van die landboukundige?

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 Mei 2021

139

Die landbousektor bevind homself midde-in ’n digitale rewolusie met al die nuwe toerusting en platforms wat nou beskikbaar is. Maatskappye belê miljoene in toepassings en platforms om inligting te ontleed, bedreigings soos siektes en plae te identifiseer en om die vordering van gewasse te meet.

Vandag het produsente toegang tot ’n lang lys digitale hulpmiddels wat beloof om hul lewens en besluitneming te vergemaklik. Met die klik van ’n muis of die druk van ’n knoppie kan produsente veldspesifieke waterverbruik bereken, die afstand en vloeitempo van sproeiers verstel, gewasontwikkeling voorspel en historiese weerdata op hul plaas analiseer voordat hulle gewasse of basters kies.

Daarbenewens kan hulle instrumente en programme kies wat potensieel ’n groot hoeveelheid plaasdata kan verwerk vir spesifieke aanbevelings ten opsigte van kultivar- of gewaskeuse, optimale planttye, die aankoop van voorraad, implemente, plaag-, siekte- en waterbestuur, bemesting en selfs die optimalisering van gewasse. Produsente kan nou berekende voorspellings maak, daarvolgens beplan en sodoende hul winsgewendheid verbeter deur insette te bespaar.

In die verlede het die meeste produsente swaar op die insette en advies van landboukundiges gesteun, maar met al die opwindende tegnologie en instrumente waaruit hulle deesdae kan kies, wonder ’n mens of die landboukundige nog ’n rol het om te speel.

Andries Wessels verduidelik belangrike aspekte wanneer kultivarkeuses gemaak word. Hoewel tegnologie help met besluitneming en beplanning, sal persoonlike interaksie altyd ’n bepaalde rol vervul.

Landboukundiges steeds nodig
Word dié vraag aan landboumaatskappye gestel, is die eenparige antwoord “ja”. Almal voel sterk dat die landboukundige altyd ’n plek sal hê in die produksiekringloop, al het die rol wel verander. Produsente het deesdae die landboukundige se kennis nodig om aanbevelings te maak op grond van die gevorderde tegnologie wat hulle gesamentlik gebruik.

Net soos produsente egter by die nuwe landbou-omgewing moes aanpas, so sal landboukundiges ook in breër adviseurs moet verander. Die wyse waarop hulle kommunikeer, inligting en advies aanbied asook aanbevelings uitlig en toepas om te verseker dat produsente slegs gebruik wat regtig waarde tot hulle boerdery of besigheid toevoeg, gaan aandag en aanpassing verg.

In die toekoms kan gereelde besoeke aan lande verminder tot slegs kritieke tye gedurende die seisoen, maar aanlyn kommunikasie sal toeneem. Digitale instrumente kan die kommunikasie tussen die produsent en die verkoper of landboukundige ondersteun. Platforms soos WhatsApp kan gebruik word om te gesels, vrae te stel, ’n vinnige antwoord te gee, foto’s van gewasse of plae aan te stuur en om inligting oor produsentedae of spesiale aanbiedinge uit te ruil. Die landboukundige kan hierdie instrument effektief gebruik en moontlik selfs vinniger tot gevolgtrekkings kom as daar ’n probleem is, wat minder voetwerk tot gevolg het.

’n Landboukundige sal die eerste paar uur van elke dag data van die plase van sy kliënt of plaasbestuurders ontleed, waarskuwings uitstuur en verslae opstel. Hy sal sy tyd moet spandeer om die weervoorspelling te ontleed, om GPS- of hommeltuigbeheerde grondmonsters en oesrekords te kontroleer en aanbevelings aan te pas op grond van die intydse inligting rakende besproeiings-, voedings- of gewasbeskermingsplanne.

Veldkennis bly belangrik
Volgens Pieter Rademeyer, hooflandboukundige by Pannar Saad, sal ’n landboukundige nooit deur ’n boek, literatuur of toepassing vervang kan word nie. “Dit duur tussen vyf en tien praktiese jare vir ’n landboukundige om waarlik hul weg in die regte wêreld te vind. Sommige siektes kom slegs elke paar jaar voor – ervare landboukundiges kan dan eerstehandse aanbevelings uit vorige ervaring maak.”

Pieter voeg by dat alle nuwe tegnologieë ook veldkennis benodig. “Ja, ’n mens kan baie data versamel, maar produsente sal steeds die korrekte gebruik van die data, praktiese ervaring en kennis benodig. Landbou werk nie net op data nie; daar is steeds ’n praktiese aspek wat behoorlik aandag moet geniet.”

Data-ontleding
Volgens Christin Hunter, bemarkingskommunikasiebestuurder by Pannar, word die proses van produkidentifisering en kommersia­lisering van Pannar gelei deur hul produklandboukundiges. “Hierdie proses is datagedrewe en daarby word dit gevorm deur hul plaaslike kundigheid en intuïsie. Ons span plant jaarliks honderde strook-, veld- en vergelykingsproewe wat almal as deel van hierdie proses besoek en geëvalueer word.”

Sy sê die produklandboukundige is die skakel tussen die vroeë stadiums van navorsing en ontwikkeling en die kliënt. “Ons produklandboukundiges verwoord die behoeftes van ons kliënte na die navorsings- en ontwikkelingsenjin as teeldoelwitte. Hulle identifiseer produkleemtes en organiseer die landboukundige behoeftes van kliënte volgens marksegmente. Dit verwys na behoeftes soos siekteverdraagsaamheid, vrugbaarheid of die vermoë om hoë plantdigthede te weerstaan.”

Andries Wessels, produkontwikkelingsbestuurder by Syngenta, meen data bly slegs data indien dit nie omvattend geïnterpreteer en in sinvolle aanbevelings omskep word nie. Om koue, kliniese data om te skakel na sinvolle aanbevelings vereis voete in die veld en eerstehandse agronomiese blootstelling. “Plaaslike produksie-omstandighede verskil drasties van ander wêrelddele en sukses­resepte kan nie bloot identies oorgebring en geïmplementeer word nie. Landboukundiges speel steeds ’n groot rol om tegnologie en produksiepraktyke te skoei en aan te pas volgens plaaslike produksietoestande,” sê hy.

Kliëntediens
’n Ander funksie van die landboukundige is die kliëntediens wat hy bied. Volgens Christin kan die teoretiese opbrengs uit ’n sak mieliesaad tot 30 t/ha wees, maar dit word deur baie veranderlikes op die plaas weggevreet. Die landboukundiges is die kenners wat produsente help om hierdie veranderlikes te bestuur op ’n manier wat die opbrengspotensiaal maksimeer.

“Alhoewel ons opgewonde is oor die innoverende digitale instrumente in die landbou, beskou ons dit as tegnologieë wat ons met ons eie kennis en ervaring kan kombineer om produsente beter te bedien,” voeg Christin by.

Volgens Leonard Oberholzer, markontwikkelingsbestuurder by Bayer Suid-Afrika, is inligting oor feitlik enige onderwerp maklik toeganklik op die Internet, maar dit is belangrik om die bron van die inligting sowel as die legitimiteit daarvan te verifieer. “Dit bly belangrik om die bron van inligting te ondersoek voordat dit versprei word. Dit is ook raadsaam om inligting uit verskillende bronne te bekom.”

Leonard sê een van die belangrikste bydraes wat ’n landboukundige op ’n plaas kan lewer, is om data en inligting wat in ’n gegewe gebied versamel is, só te interpreteer dat dit plaaslik sin maak tot voordeel van produsente in daardie omgewing. “’n Landboukundige wat sy sout werd is, beskik oor die kwalifikasies, ondervinding en die vermoë om situasies te ondersoek, diagnoses te maak en met ’n interpretasie vorendag te kom tot voordeel van die kliënt. Produkkennis en praktiese ervaring kan nooit vervang word nie.”

Plaaslike kennis
Leonard meen dit is voordelig dat baie landboukundiges in Suid-Afrika self produsente is met baie praktiese ervaring en begrip.

“Plaaslike data en ervaring is van kardinale belang. Ons sien dikwels dat verkeerde gevolgtrekkings gemaak word omdat mense hul interpretasies op globale data en artikels baseer. Hier bring die plaaslike landboukundige ’n groot mate van toegevoegde waarde,” voeg Leonard by.

Op ’n vraag oor hoe hulle hul dienste by produsente aangepas het om op hoogte van veranderinge en die beskikbaarheid van nuwe tegnologieë te bly, het hy gesê dat opleiding, blootstelling en deurlopende evaluering van Bayer se landboukundiges die belangrikste faktore is om tred te hou met die nuutste ontwikkeling in tegnologie.

Leonard meen die ontploffing in die beskikbaarheid van inligting plaas landboukundiges onder druk om hul kennisvlak te verbreed en op hoogte te bly van die nuutste verwikkelinge en toepassings. “Die vierde industriële rewolusie vereis die gebruik van data en visuele hulpmiddels en dit is belangrik dat ons as landbou­kundiges daarby aanpas.”

Hoewel produkondersteuning die grondslag van agronomiese dienste sal bly, voer Leonard aan dat persoonlike verhoudings op die plaas altyd van kardinale belang sal wees.

Volgens Christin gebruik Pannar hoofsaaklik nuwe tegnologieë om hul doeltreffendheid en akkuraatheid agter die skerms te verbeter. “Ons gebruik hommeltuie sowel as planters en stropers wat spesiaal vir proefpersele aangepas is om die kwaliteit van ons data te verbeter en kragtige sagteware om hierdie data te verwerk. Ons ontwikkel ook tegnologieë vir ons kliënte om toegang tot en interaksie met ons produkinligting te verbeter, soos die mobiele toepassing The Pannar® Sprout® en ons webtuiste. Ons bou tans voort op die sukses van Sprout om sagteware vir boerderybestuur te ontwikkel wat ’n wye verskeidenheid landbou-aktiwiteite en data-interpretasiebehoeftes dek.”

Moderne implemente maak dit vir produsente maklik om ’n magdom inligting in te samel tydens plant en stroop, maar hierdie inligting beteken niks as dit nie saamgevat, verwerk en vir besluitneming gebruik word nie. Die landboukundige kan produsente bystaan in die verwerking en interpretasie van data wat ingesamel is.

Hoe lyk die toekoms?
Andries beskou die tegnologie-ontploffing in landbou as voordelig vir landboukundiges omdat dit nuwe moontlikhede bied om kliënte te ondersteun. “Probleme kan baie vinniger aangemeld en meer akkuraat opgelos word. Kommunikasieplatforms en digitale hulpmiddels stel landboukundiges in staat om kliënte vinnig en akkuraat te ondersteun asook om die nuutste produksietegnologieë en produkinligting aan kliënte oor te dra.”

Pieter sien groot geleenthede vir die toekoms. “Met die ontwikkeling van nuwe tegnologieë sal die produkte nuwe eienskappe bevat. Navorsing plaas meer klem op aspekte wat in die toekoms plaag- en onkruidbestryding vir die produsent sal vergemaklik.”

Christin sê die toekomstige rol van landboukundiges sal wees om produsente te help om die magdom inligting te verstaan en om te verseker dat die data toegevoegde waarde vir die boerdery bied in die vorm van bestuursbesluite wat besparings of winste verhoog.

Graan SA speel ook ’n rol in hierdie konteks. Twee eenhede binne Graan SA, naamlik die departemente vir graanekonomie en graannavorsing en -beleid, evalueer voortdurend nuwe aanbiedinge vir hul lede om te verseker dat maatskappye en insetverskaffers by beloftes hou. Hulle identifiseer verder moontlike opleidings- en inligtingsbehoeftes.

Navorsing sal altyd belangrik wees en solank nuwe produkte en tegnologieë op die mark beskikbaar raak, sal die landboukundige ’n beduidende rol speel in die interpretasie van die inligting en om die produkte of tegnologieë op plaasvlak te posisioneer.

Digitale platforms verander die manier waarop produsente navorsing, produkte en data sien. Namate die beskikbaarheid van data en platforms verander, sal die hoeveelheid data astronomies eskaleer. Een van die hooftake van die landboukundige sal altyd wees om die data te interpreteer en die produsent te help om dit prakties te verstaan en op ’n sinvolle wyse toe te pas.