Aalwurmnavorsing beperk verliese

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 Mei 2021

1233

Syngenta het onlangs ’n wêreldwye webinaar vir sy eerste One Earth, Soil and Root Health Forum, met die kollig op Afrika, aangebied. Die doel van hierdie geleentheid was om die belangrikheid van grond- en wortelgesondheid te beklemtoon met die oog op optimale opbrengs, voedselsekerheid en die omkeer van klimaatsverandering.

Tydens ’n wegbreeksessie het prof Driekie Fourie, nematoloog verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), die impak van nematodes (aalwurms) op plantwortels en grond in Suid-Afrika bespreek.

Onkunde en oesverliese
Volgens prof Fourie besef die meeste kommersiële produsente dat plantparasitiese aalwurms probleme veroorsaak wat lei tot oesverliese by somergraangewasse. Onkunde rakende aalwurms en hul impak op gewasse bestaan egter nog by bestaansboere.

“Pogings word egter voortdurend deur verskillende instansies aangewend om produsente bewus te maak van probleme wat deur hierdie onsigbare, mikroskopies klein organismes veroorsaak word. Die spreekwoord ‘Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie’ is nie van toepassing op aalwurms nie, aangesien groot oesverliese as gevolg van aalwurminfestasies al aangemeld is.

“Aalwurmskade kan oor die algemeen vir ongeveer 10% tot 12% van oesverliese verantwoordelik gehou word. Totale oesverliese is ook al aangemeld in erg besmette droëboon- en sojaboonlande en tot 60% in mielielande. Plantparasitiese aalwurms kan nie heeltemal uitgewis word nie, maar bevolkingsvlakke van hierdie skadelike organismes kan wel verlaag word sodat skade aan somergraangewasse tot die minimum beperk of selfs vermy kan word.”

Skadelike groepe en simptome
“Knopwortel- en letselaalwurms is die wydste versprei in somergraanproduksiegebiede en word beskou as die skadelikste groepe. Alhoewel bogrondse simptome nie altyd duidelik sigbaar is nie, kan aalwurmbesmette plante vergeelde blare toon en plante kan verdwerg wees,” aldus prof Fourie.

“Die algemeenste aanduiding dat aalwurms ’n probleem is, is die voorkoms van kolle waar plante swakker groei as die res. Produsente behoort plante wat swakker vertoon, uit te trek en die wortels vir simptome te ondersoek. Galle of knoppe word veroorsaak deur knopwortelaalwurms en donker gekleurde nekrotiese areas dui op letselaalwurms.

“Plantwortels en die omringende grond moet dan verkieslik na ’n erkende aalwurmlaboratorium gestuur word vir ontleding sodat die omvang van die probleem vasgestel kan word en aanbevelings gedoen kan word om die probleem te hanteer.

“Alhoewel aalwurmprobleme gewoonlik in sanderige grond voorkom, kan skadelike plantparasitiese aalwurms se getalle ook opbou in kleigrond en oor tyd gewasse beskadig. ’n Ander faktor wat bydra tot die opbou van skadelike aalwurmbevolkingsvlakke is die gebruik van tradisionele wisselboustelsels wat onder meer mielies, soja- en droëbone asook sonneblom en aartappels insluit. Al hierdie gewasse is vatbaar vir knopwortel- en letselaalwurm.”

Aalwurmopnames
Prof Fourie sê die waarde van aalwurmopnames moet nooit onderskat word nie en behoort op ’n gereelde basis gedoen te word. Syngenta het gevolglik vanaf 2008 tot 2021 vier aalwurmopnames in somergraanproduksiegebiede befonds. ’n Belangrike aanmel­ding wat uit hierdie inisiatief voortspruit, is die voorkoms van ’n meer skadelike knopwortelaalwurmspesie, Meloidogyne enterolobii, in mieliewortels in die Hoëveldstreek.

Ten spyte daarvan dat internasionale literatuur aandui dat mie­lies nie ’n goeie gasheer vir hierdie spesie is nie, het navorsing wat gedoen is deur ’n MSc-student, Raymond Collet van die NWU, die teenoorgestelde getoon. Dit is dus belangrik dat daar vasgestel word waarom hierdie spesie meer skadelik is as die ander knopwortelaalwurmspesies wat bekend is vir hul voorkoms in sulke gebiede.

Aalwurmbevolkingsvlakke
Volgens prof Fourie het die toenemende bewustheid van produ­sente betreffende aalwurmpeste en hul impak, die gebruik van saadbehandelings met aalwurmdodende of -werende eienskappe, die toediening van geregistreerde aalwurmdoders asook droogtes egter tot die voorkoms van laer plantparasitiese aalwurmbevolkingsvlakke gelei. Die voorkoms van hoë reënval lei egter tot wesenlike verhogings in die getalle van plantparasitiese aalwurms. Knopwortelaalwurm­getalle is ook oor die algemeen hoër in besproeiingslande.

“Dit is belangrik dat produsente hulself bemagtig met kennisrakende aalwurmpeste in somergraangewasse en die impak daarvan op wortel- en grondgesondheid in produksielande. Tesame hiermee is samewerking tussen produsente, navorsers en verskillende rolspelers in verwante bedrywe onontbeerlik om probleme beter te verstaan en oplossings te vind,” aldus prof Fourie.

Laasgenoemde sluit die volgende in:

  • Die integrering van verskillende beheerstrategieë om optimale resultate te verkry.
  • In-ry-behandelings met aalwurmdoders waar uitermatig hoë plantparasitiese aalwurmbevolkings voorkom.
  • Wisselbou wat gemik is op die gebruik van gewaskultivars wat swak gashere is vir die teikenaalwurmpes.
  • Die insluiting van dekgewasse.
  • Die bekamping of beheer van mikrobe (bakterieë, fungi en virusse) wat tesame met aalwurmbesmettings groter oesverliese tot gevolg kan hê.
  • Onkruidbeheer.

“Baie onkruide is goeie gashere vir knopwortel- en letselaalwurms en onderhou en lei tot die opbou van hul bevolkings. Dit geld selfs vir die wintermaande en spesifiek vir die alombekende radiatorbossie wat gevind is om knopwortelaalwurms te onderhou in die Bultfontein-omgewing.”

Graan SA befonds navorsing
“’n Aspek waaroor baie min inligting in Suid-Afrika bekend is, is die teenwoordigheid van plantparasitiese en aalwurmsiektekomplekse. Dit lei gewoonlik tot erger skade as wanneer slegs die aalwurmpes of slegs die siekte, wat veroorsaak word deur skadelike fungi, bakterieë of virusse, teenwoordig is. Kennis word egter nou deur plantpatoloë en nematoloë ingewin om meer van hierdie aspek te wete te kom deurdat sulke navorsing deur Graan SA befonds word,” sê prof Fourie.

Vir meer inligting kontak prof Driekie Fourie by 018 285 3006 of stuur ’n e-pos na driekie.fourie@nwu.ac.za.