Onafhanklike graanombud nou nodig, hoor Kongres

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 30 Maart 2021

33

Die vraag of die Suid-Afrikaanse graanmark geloof­waardig is al dan nie, is volgens dr Johan Willemse, afgetrede professor in landbou-ekonomie, ’n vraag wat in die huidige politieke klimaat ’n duidelike antwoord móét kry.

Dr Willemse was een van die hoofsprekers van die 2021 Graan SA Kongres, waar hy sy kennis en ondervinding as hoofekonoom by die eertydse Mielieraad asook by die Nasionale Bemarkingsraad inge­span het om produsente gerus te stel dat markinligting in Suid-Afrika na sy mening op standaard is en – onder toesig van die bedrywe – met integriteit behartig word.

Volgens dr Willemse is deursigtigheid een van die belangrikste elemente in ’n vryemarkstelsel, aangesien so ’n stelsel gebaseer is op vraag en aanbod met minimum staatsinmenging en vrye deelname. “Waar ons mekaar nie vertrou nie of waar inligting weerhou word, lei dit tot ’n gebrek aan geloofwaardigheid.” Hy meen verder dat die persepsie van ’n ongeloofwaardige mark kan lei tot toe­komstige staatsinmenging.

Markoptrede
’n Tweede aspek, wat volgens dr Willemse in die verlede nie genoeg aandag gekry het nie, is die uiteensetting van reëls rakende markoptrede. Hy stel voor dat ’n ombudsmeganisme uit eie geledere daargestel word, waar sake rakende geloofwaardigheid hanteer kan word. “Daar moet nie rede wees vir die staat om ’n staatsreguleerder aan te stel om oor markoptrede toesig te hou nie,” voeg hy by.

Hy vertel dat daar binne die landboumeesterplan tans sprake is dat die Bemarkingswet herskryf kan word, wat moontlik vir groter staatsinmenging plek kan maak. “Die bal is dus in ons hande om te verseker dat die mark as geloofwaardig beskou word.”

Dr Johan Willemse gesels oor die geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse graanmark.

SAGIS se mandaat
Tydens sy toespraak het dr Willemse na die geskiedenis van die graanmark in Suid-Afrika verwys. Staatsbeheerde graan- en olie­saadrade, waar die minister pryse bepaal en goedgekeur het, het met die nuwe politieke bedeling plek gemaak vir ’n gedereguleerde mark, waar markfaktore met minimum inmenging pryse bepaal.

“Vir so ’n mark om doeltreffend te werk, moet ons toegang tot akkurate en deursigtige markinligting hê,” meen hy. Om hierin te slaag, het die graan- en oliesaadbedrywe in 1996 besluit om ’n oorkoepelende liggaam met statutêre magte om markinligting in te samel en beskikbaar te stel, te stig. So het die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) ontstaan, met die mandaat om mark­inligting so akkuraat en tydig moontlik weer te gee. SAGIS word uit die trustfonds gefinansier en het geen winsoogmerk nie. Dr Willemse is van mening dat SAGIS wel in sy mandaat slaag en dat inligting akkuraat en tydig weergegee word.

Die rol van die JSE
Na aanleiding van onlangse debatte en klagtes oor silosertifikate, het dr Willemse dit nodig geag om oor die rol van die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en Safex uit te brei. Hy herinner produsente daaraan dat die JSE ’n private onderneming met aandeelhouers is, wat op wins ingestel is. Safex, wat deur die JSE oorgekoop is, se doel is om ’n deursigtige prysmaakmeganisme vir termynkontrakte daar te stel. Die termynmark se funksie is nie om lewering van graan vir die hele mark te fasiliteer nie. Dit is interessant om te weet dat rolspelers in die VSA ontmoedig word om op die termynmark te lewer – sodoende word die prys daar deur termynkontrakte bepaal.

“Dit is belangrik om te onthou dat die JSE ’n termynmark is en nie ontwerp is om ’n leweringsmark te wees nie. Sowat 25% van die oes gaan oor na Safex-lewerings met JSE-silosertifikate. Die dilemma is egter dat die ander 75% van die oes se prys bepaal word deur die Safex-vervoerdifferensiaal en dit skep wantroue in die stelsel en verwring streekspryse,” verduidelik hy.

Dr Willemse meen ’n rolspeler met winsbejag en ’n eie mandaat kan nie ook skeidsregter en toesighouer oor ander rolspelers wees om markgeloofwaardigheid te beskerm nie. Hy stel dus voor dat die bedryf ’n ombudsinstelling oorweeg om oor markinligting en veral die markoptrede van rolspelers en die reëls van die spel toesig te hou. Dit is volgens hom nie die JSE of Graan SA se mandaat nie.

Behalwe vir ’n ombudsinstelling, stel hy voor dat die kontantmark beter ingerig word om streeksvraag en -aanbod in pryse te weerspieël.

Klik op die QR-kode om na dr Johan Willemse se aanbieding te luister.