Hoogste heffingsinkomste nog vir Graan SA

Luan van der Walt, landbou-ekonoom, Graan SA
Gepubliseer: 30 Maart 2021

928

Graan SA het tydens die afgelope Kongres terugvoer aan lede oor die resultaat van die heffingsinkomste vir die 2020/2021-seisoen verskaf.

Richard Krige (voorsitter van Graan SA se Bemarkingswerkgroep) het ’n voorlegging aan Kongres gemaak rakende die seisoen se gerealiseerde heffingsinkomste. Die produksieseisoen was goed in beide die binneland en die Wes-Kaap, wat positief was vir die heffings­inkomste gedurende die 2020/2021-seisoen. Wat somergrane betref, was dit hierdie seisoen die tweede grootste oes op rekord, terwyl daar ook verskeie rekords by die wintergrane gespat het.

Inkomste
Graan SA het ’n heffingsinkomste van R23,25 miljoen gerapporteer, wat die hoogste heffingsinkomste tot dusver vir die organisasie is. Dit is ongeveer R1,84 miljoen meer as waarvoor daar begroot is tydens 2020 se Kongres. Die hoër as begrote heffingsinkomste het – saam met besparings – bygedra tot die surplus op die heffingsfonds wat help dra aan Graan SA se verliese omdat daar gedurende 2020 nie ’n NAMPO Oesdag kon plaasvind nie. Richard spreek sy dank uit vir die harde werk deur die Hoofbestuur, Bemarkingswerkgroep en Graan SA-personeel om dit te vermag.

Die fokus van Graan SA se bemarkingspan bly steeds om die heffingsinkomste te laat groei deur ’n groter porsie van die potensiële heffings in te samel. Gedurende die 2020/2021-seisoen is daar ongeveer 32% van potensiële heffings ingesamel. Dit is duidelik dat daar nog heelwat ruimte vir verbetering is wat insameling betref.

Agente
Agente speel ’n belangrike rol by die invordering van die Graan SA-heffings en dit is belangrik om goeie verhoudinge met agente soos graanhandelaars, silo-operateurs en graanverwerkers te vestig. Die mark groei steeds wat betref die aantal graankopers – produsente lewer dus hul graan aan ’n wyer verskeidenheid kopers as in die verlede. Dit plaas die onus op die produsent om in gesprek te tree met graankopers rakende die heffings en seker te maak dit word deur die kopers, wat as vorderingsagente by Graan SA gelys is, verhaal. Alternatiewelik kan produsente die markdeelnemers wat nie as vorderingsagente by Graan SA gelys is nie, aanmoedig om dit wel te doen of die Graan SA-bemarkingspan in kennis stel van hierdie agente om in gesprek met hulle te tree.

Richard het die agente wat die invordering van die heffings deur hul kanale bewerkstellig het, bedank. Hy het weer eens beklemtoon dat hierdie funksie van onskatbare waarde is.

Heffings
Daar is tydens Kongres besluit om by die gedifferensieerde heffings op verskillende gewasse te bly. Die heffings in Tabel 1 toon die nuwe heffingsbedrag per kommoditeit soos vanaf 1 Maart vanjaar. Daar is ook besluit om vir die 2021/2022-seisoen ’n addisionele, eenmalige COVID-heffing van R1,50/ton op alle gewasse te betaal. Dit is reeds vervat in die heffings wat in Tabel 1 aangedui word.

Graan SA-heffings in perspektief
Richard plaas die koste van die Graan SA-heffings in perspektief deur te verwys na die voorbeeld van ’n mielieprodusent in Suid-Afrika. Die gemiddelde produksiekoste per hektaar vir ’n droëlandmielieprodusent is R11 400/ha. Die Graan SA-heffing op mielies is R3,35/ton. Die gemiddelde opbrengs volgens die Nasio­nale Oesskattingskomitee (NOK) se eerste produksieskatting vir die 2020/2021-seisoen is 5,76 ton/ha. Dit beteken die Graan SA-heffing kos die produsent R19,30/ha, wat gelykstaande is aan slegs 0,17% van die produsent se totale insetkoste van mielies. Wanneer hierdie perspektief aan die heffings gekoppel word, spreek die waarde vanself. Vir ’n minimale koste verteenwoordig Graan SA – as spreekbuis vir graanprodusente in Suid-Afrika – die produsent op verskeie vlakke. Dit bied produsente die geleentheid om aan te hou pro­duseer, terwyl die organisasie na hul belange omsien – vanaf ’n regulatoriese vlak tot op plaasvlak.

Dankie
Graan SA is en bly ’n produsente-organisasie. Die heffingsinkomste is die hartklop van die instansie en verseker dat Graan SA sy werksaamhede kan voortsit. Richard het sy dank uitgespreek teenoor lede vir hul getroue bydrae tot die organisasie en hulle die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees.

Hy het genoem dat Graan SA sonder hierdie inkomste nie die bedryf in totaliteit só sou kon bestuur nie. Die heffings bly ’n belangrike gedeelte van Graan SA se inkomste, saam met kommersiële aktiwiteite, soos NAMPO. In buitengewone omstandighede, soos tans met die afwesigheid van NAMPO, laat dit die organisasie baie kwesbaar wat langtermynvolhoubaarheid betref. Dit is dus noodsaaklik om die heffingsinkomste te laat aanhou groei.

Richard het afgesluit deur weer eens sy dank uit te spreek aan almal wat bygedra het tot die sukses van die seisoen se heffings­insameling.