Kultivars wys hul staal in 2019/2020-proewe

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1204
Dr Wikus Snijman,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Plaaslik word grondbone in die somerreënvalstreke onder droëland- en besproeiingstoestande verbou. Nasionale grondboonkultivarproewe is sedert die 2006/2007-groeiseisoen deur die LNR-Graangewasse in samewerking met die Olie- en Proteïensade-ontwikkelingstrust (OPOT) in die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika uitgevoer, maar is gedurende 2012 beëindig na OPOT se onttrekking.

Sedertdien het die grondboonbedryf self betrokke geraak en die waarde van kritieke inligting wat deur die proewe gegenereer kan word, beklemtoon. Kommersiële grondboonprodusente en saadprodu­­sente kan ingeligte kultivarkeuses met behulp van dié inligting maak. Die Nasionale Grondboonforum het dus in Oktober 2016 ’n werksgroep in die lewe geroep om kultivarevaluering weer te inisieer en te monitor. Lourens de Kock van Roba Foods is die koördineerder van hierdie projek en hy help om die data wat uit die proewe verkry word, te verwerk en in ’n verbruikersvriendelike rand-en-sent-formaat aan te bied.

Tans word geregistreerde kultivars en potensiële teellyne van die LNR asook ander saadmaatskappye deur LNR-Graangewasse in hierdie proewe onder verskillende klimaatstoestande geëvalueer om die kwaliteit, opbrengspotensiaal en aanpassingsvermoë daarvan te bepaal. Data uit hierdie proewe word dan tydens ’n jaarlikse vergadering gedurende September aan die bedryf beskikbaar gestel.

Tydens die 2019/2020-seisoen is nege geregistreerde kultivars van die LNR en Golden Peanut asook nege potensiële kultivarteellyne van die LNR op agt verskillende plekke, verteenwoordigend van die grondboonproduksiegebied, getoets. Die proewe het bestaan uit drie besproeiings- en vyf droëlandproewe, geplant in ’n volledige, ewekansige blokontwerp met drie herhalings. Standaardlandboupraktyke vir die omgewings is toegepas vir die duur van die proewe. Alle proewe is op 150 dae na plant geoes om uni­formiteit te verseker op die ontledings en graderings wat gedoen is.

Die agronomiese eienskappe word aangeteken, waarna graderings van die proefresultate gedoen word – uitgedruk as ton per hektaar (t/ha). Die data word dan omgeskakel, uitgedruk as inkomste per hektaar per kultivar (Tabel 1 tot Tabel 4). Die rand per ton pitte (R/ton pitte) is ’n gerealiseerde prys volgens gradering en heersende markpryse. Die kultivars by elke lokaliteit is gerangskik van die hoogste randwaarde per hektaar tot die laagste. Onderstaande tabelle weerspieël die potensiële inkomste per kultivar (nie wins nie) wat behaal kan word. Ten spyte van die moeilike weerstoestande gedurende die 2019/2020-seisoen, het ARC-SelliePlus onder beide droëland en besproeiing weer eens baie goed presteer en is dit steeds die mees gesogte kultivar.

Onder besproeiing is die topvyf­kultivars (slegs gebaseer op rand en sent) by GWK (Douglas) en VGM (Vaalharts) gelewer. Die beste kultivar was GP023 met ’n opbrengs van R81 577,15/ha, met ARC-SelliePlus as tweede beste met R78 574,40/ha. By Vaalharts het Anel en PC 472-K3 onderskeidelik R40 371,54/ha en R35 209,98/ha­onder besproeiing opgelewer. Die top­vyfkultivars onder droëlandtoestande (slegs gebaseer op rand en sent) is by Qualita Seeds (Hoopstad) en Roba Foods (Setlagole) gelewer. Die beste opbrengs is gelewer deur Anel met R50 825,88/ha en ARC-AkwaPlus as tweede beste met R49 588,99/ha. By Setlagole het ARC Opal en PC474-K9 onderskeidelik R34 767,57/ha en R33 591,87/ha onder droëlandtoestande gelewer.

Variasie in produksie is toe te skryf aan skommelinge in klimaatstoestande, veral by die droëlandproewe. Die resultate het getoon dat die genetiese potensiaal van die kultivars verwesenlik kan word met voldoende reënval en besproeiing.