Liggingsdifferensiaal – die pad vorentoe

Gepubliseer: 5 Augustus 2020

2425

Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

15 Julie 2020 –

Die liggingsdifferensiaal is sekerlik een van die mees kontroversiële onderwerpe in die plaaslike graan- en oliesademark. Die stelsel is reeds sedert die ontstaan van die vrye mark in werking, alhoewel daar oor tyd al heelwat veranderinge aan die tegniese aspekte daarvan aangebring is. Tog is die beginsel van ’n enkelverwysingspunt steeds onveranderd gelaat.

Beide plaaslike sowel as internasionale kenners het reeds verskeie kere die stelsel ondersoek om kommentaar te lewer op die werking daarvan en hoe dit moontlik verbeter kan word. Dit is duidelik dat indien die liggingsdifferensiaalstelsel nie heeltemal ter syde gestel kan word nie, dit beslis verbeter moet word om die huidige werklikheid in ag te neem. Graan SA verkry sy mandaat van werksaamhede direk vanaf sy produsentelede en was dus deurentyd betrokke by navorsing om ’n nuwe beginsel vir die liggingdifferensiaal se berekening daar te stel.

Stelsel se ontstaan
Die huidige liggingsdifferensiaalstelsel (soos tans in die graan- en oliesademark gebruik word) het sy ontstaan in die laat 1990’s gehad toe die plaaslike graanmark oorbeweeg het vanaf ’n enkelkanaalbemarkingstelsel na ’n vryemarkstelsel. Skielik is die plaaslike mark nie meer deur die rade gereguleer nie. Elke deelnemer in die mark was verantwoordelik vir die bemarking van sy eie graan – hetsy aan die aankoop- of verkoopkant.

Baie geleenthede is deur die nuwe stelsel aan die bedryf gebied, waarvan een ’n vryemarkprysvormingsmeganisme was. Die Safex-mark (nou die landbou­produkte-afdeling van die JSE) het hierdie prysvormingsmeganisme gefasiliteer en dus moes daar ’n werkbare stelsel ontwikkel word. In die dae van enkelkanaalbemarking was die meeste van die verwerkingskapasiteit in die Randfontein-area geleë. Om hierdie rede het Randfontein die lokaliteit geword waar die prysvorming plaasgevind het. Die waarde waarteen die plaaslike pryse verhandel het, was asof dit in Randfontein gelewer sou word, aangesien die meeste van die mielies daar verwerk is. Die leweraar (produsent) kon egter besluit of hy die mielies self Randfontein toe wou vervoer en daar lewer teen die Randfontein-prys en of hy die mielies by sy naaste silo wou lewer teen ’n diskonto teenoor die Randfontein-gebaseerde prys. Die diskonto per leweringslokaliteit (silo) is bepaal deur die vervoerkoste tussen die spesifieke silo en Randfontein te bereken.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van silo’s teenoor verwer­kingskapasiteit van mielies in die enkelkanaalbemarkingstelsel en die begin van die vrye mark.
Nota: Figuur 1 dui slegs ’n paar punte aan en verteenwoordig nie alle silo’s en verwerkings­punte nie.

Verandering oor tyd
Dis amper 25 jaar na die ontstaan van die vryemarkstelsel. Alhoewel die plaaslike graan- en oliesaadmarkomgewing drasties verander het in hierdie tydperk, het die beginsel van die prysvormingsmeganisme nie hierby aangepas nie. Die grootste verandering wat oor tyd plaasgevind het, is dat die markte beweeg het vanaf ’n gesentraliseerde stelsel (een groot, gekonsentreerde verwerkingspunt met baie leweringspunte) na ’n gedesentraliseerde stelsel (wydverspreide verwerkingspunte met baie leweringspunte). Alhoewel dit hoofsaaklik die mieliemark is wat baie verander het in hierdie tydperk, verskil die marksamestelling van die verskillende gewasse wesenlik. Elke gewas behoort apart hanteer te word om die beste moontlike oplossing te vind. Die gedesentraliseerde stelsel veroorsaak dat die verskillende grane en oliesade verskillende ekonomiese waardes in die verskillende gebiede van die land het.

Ekonomiese waarde van ’n ligging en opbou van graan
Vraag en aanbod is die spil waarom enige prysbepaling in die vryemarkstelsel draai – ook vir die plaaslike graan- en oliesadebedryf. Alhoewel die pryse van die grane en oliesade bepaal word volgens die nasionale vraag-en-aanbod-situasie, speel die streeksvraag en -aanbod ’n belangrike rol in die prysbepaling gegewe die verskillende lokaliteite. Die verskil in die vraag en aanbod in die verskillende gebiede veroorsaak ook dat die grane en oliesade verskillende ekonomiese waardes in die verskillende gebiede het. Hoe nader die kommoditeit aan die verwerkingsaanlegte is, hoe hoër sal die ekonomiese waarde wees, terwyl die omgekeerde ook waar is. Dit is belangrik om die verskil in die ekonomiese waarde van die kommoditeit in ag te neem, aangesien dit die vloei daarvan beïnvloed.

Een van die groot uitdagings of risiko’s vir die mark, is die opbou van graan in sekere areas van die land. Dit is meestal die liggings wat verder weg is van die verwerkingsaanlegte en die kommoditeite in hierdie lokaliteite neem langer om in die stelsel opgeneem te word. Indien die grane en oliesade lank in spesifieke silo’s lê sonder om opgeneem te word, onstaan die risiko van kwaliteitsprobleme wat ’n wesenlike negatiewe impak op die plaaslike mark kan hê.

Figuur 2: Skematiese voorstelling van huidige verwerkings­kapasiteit teenoor silo’s van mielies.
Nota: Figuur 2 dui slegs ’n paar punte aan en verteenwoordig nie alle silo’s en verwerkings­punte nie.

Die pad vorentoe
Die groot vraag is hoe om die fundamentele probleme in die mark te hanteer om te verseker dat die huidige realiteit in ag geneem word, terwyl die risiko’s van die opbou van graan in sekere areas steeds oorbrug word. Graan SA se mandaat bly om aan ’n beter oplossing te werk vir die huidige stelsel.

Klik op die QR-kode om na die video te kyk waarin Luan alternatiewe metodes voorstel om die stelsel aan te pas en te versterk.

Gegewe die verskille in die geografiese samestelling van produksie en verwerking van die verskillende gewasse, is dit noodsaaklik om elke gewas afsonderlik te hanteer en te ontleed om die beste moontlike oplossing te verkry. Die berekeninge moet op ’n meer wetenskaplike manier gedoen word en alle moontlike inligting wat beskikbaar is, moet in ag geneem word om die bepaling van die liggingsdifferensiaal per gewas te doen. Dit sluit die produksie asook verwerking per streek in. In plaas van die diskonto per silo relatief tot Randfontein, moet die diskonto per silo bereken word deur alle verbruikspunte in ag te neem, aangesien dit die huidige realiteit van die graan- en oliesademark verteenwoordig. Die meeste van hierdie werk is reeds deur Johann Strauss, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Landbou-ekonomie, gedoen. Die werk rakende ’n alternatiewe manier om ’n liggingsdifferensiaal te bereken, vorm deel van Johann se PhD. Die QR-kodes bied toegang tot video’s van praktiese verduidelikings rakende die voorgestelde nuwe stelsel.

Klik op die QR-kode om na die video te kyk waarin Luan alternatiewe metodes voorstel om die stelsel aan te pas en te versterk.

Ten slotte
In die meeste gevalle gaan verandering gepaard met onsekerheid. Dit is juis hierdie onsekerheid wat lei tot die onwilligheid om te verander. Die huidige stelsel kom reeds byna 25 jaar saam met die plaaslike graan- en oliesademark en almal is gemaklik met die werking daarvan. Alhoewel dit reeds goed ingeburger is, is dit nie meer noodwendig die beste stelsel om te gebruik nie. Daar is alternatiewe, meer wetenskaplike metodes wat gebruik kan word om ’n akkurater berekening van ’n differensiaal te kry. Hierdie metode, soos verduidelik in die aangehegde video’s, neem alle verwerkingspunte in ag en nie net ’n enkele verwysingspunt nie. Dit dien dieselfde doel as die huidige liggingsdifferensiaalstelsel, maar dit word op ’n meer regverdige en wetenskaplike manier bereken.

Graan SA is van mening dat die sojaboonmark juis nou die perfekte geleentheid bied om hierdie stelsel te implementeer. Aangesien daar tans geen differensiaal op sojabone is nie, kan dit ’n beginpunt wees vir die byvoeging van ’n alternatiewe stelsel wat as ’n toetsfase kan dien.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoor­delikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.