Die toekoms van landbou is die jeug

Gepubliseer: 12 Junie 2020

1771
Valerie Cilliers,
redakteur,
SA Graan/Grain

Graan SA is een van die stigterslede en hoofborge van ’n nuwe landbou-akademie wat in die Vrystaatse dorp Reitz geleë is. Die akademie wat tans 25 leerders deur die graad 10-kurrikulum begelei, is ’n bedryfsgedrewe inisiatief om die jeug van landbou met die nodige blootstelling, vaardighede en kennis toe te rus om die bedryf in Suid-Afrika te bevorder.

“Die akademie is ’n niewinsgewende organisasie met die doel om terug te ploeg in ons landboujeug,” verduidelik die hoof, Martin Kruger. Die huidige groep sal teen 2022 hul studies by die akademie as graad 12’s voltooi en Martin glo dat die Reitz Landbou-akademie teen daardie tyd op drie bene sal staan. “Ons sal voortgaan om die kurrikulum vir graad 8- tot graad 12-leerders in die vorm van kontaksessies te ontwikkel en te voltooi, maar ons beoog ook om afstandsonderrig te gee deur aanlyn klasse aan te bied. Die derde been van ons visie is om naskoolse opleiding in die vorm van kort kursusse in samewerking met rolspelers soos Graan SA aan te bied.”

Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA) saam met van die leerders van die landbou-akademie en die hoof van Hoërskool Reitz, Uys le Roux (heel regs).

Martin vertel dat daar van die begin af groot belangstelling in die akademie was, nie net van voornemende studente nie, maar ook van rolspelers wat betrokke wou raak. “Ons is trots op ons stigterslede en hoofborge wat die projek ten volle ondersteun. Behalwe vir Graan SA, is die VKB-groep, die Sernick-groep, Hoërskool Reitz waar die akademie gehuisves word, John Deere en Standard Bank ook baie betrokke.”

Bydraes in die vorm van kapitaal, lewende hawe, toerusting, tyd, kennis en passie is gemaak om die akademie af te skop en te bedryf. Tans beskik die akademie oor die nodige infrastruktuur, wat koshuisverblyf insluit. Projekte sluit onder meer die ontwikkeling van ’n Bonsmara-stoet, ’n konynboerdery en tonnelverbouing in. Toekomstige projekte sal uitgebrei word om ander volhoubare produksie-eenhede in te sluit met die doel om totaal onafhanklik en volhoubaar in stand gehou te kan word.

“Deur die loop van die jaar span ons tegnologie in om die basiese beginsels van landbou by die leerders tuis te bring. Ons doel is om die gaping tussen landbouteorie en -realiteit te oorbrug deur leerders die nodige praktiese ondervinding en blootstelling in die bedryf te gee,” sê Martin.

Pioniers: Die eerste groep leerders wat vanjaar aan die Reitz Landbou-akademie begin het, saam met die hoof, Martin Kruger (regs).

Die kurrikulum fokus op bewarings- en presisielandbou en is ook 50/50 verdeel tussen teorie en praktiese opleiding. “Buiten die aanleer van kennis en vaardighede het die akademie ook ten doel om aandag te gee aan die ontwikkeling van positiewe gesindhede teenoor die landbou en verwante aktiwiteite. Die benadering is dus holisties en gebalanseerd van aard,” verduidelik Martin.

Vir meer besonderhede oor die Reitz Landbou-akademie stuur ’n e-pos na martink@reitzlandbouakademie.co.za.