Landbou wys nou sy staal

Gepubliseer: 9 Junie 2020

807

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Suid-Afrika sit steeds vasgegrendel (al is dit op vlak 3). Wanneer ek so na die foto’s op die groepe kyk, sien ek baie van ons produsente sit ook vasgegrendel in die modder van die lande. “Jannie, ons kom maklik in die lande in, maar dis daai uitkom wat die probleem is,” hoor ek hulle sê.

Die insamel van ons mooi oes in die noorde gaan maar taai gaan. Intussen staan meulenaars tou om WM1-mielies te koop. Baie van hulle het nie die styging in die vraag na mieliemeel sien kom nie. Om eerlik te wees, dit was nou nie eintlik vir die meeste van hulle ’n aangename verrassing nie. Hulle het staatgemaak op die gerief wat hulle elke jaar het om topgehaltemielies in oorvloed op hulle voorstoep te hê.

Baie meulenaars het só fyn beplan om geen duur, ou voorraad aan die einde van die seisoen te hê nie, dat hulle nou baie bek-af is – en flou gebel agter WM1-mielies aan. Zimbabwe het na hoeveel jare uiteindelik besluit om GM-mielies te koop. Dit was ’n goeie meevallertjie vir ons produsente, maar die kopers is effe onkant gevang. So verander die omstandighede vinnig. Die oes is mooi, die ryp het weggebly, maar dis nat! Nou ja, ons sukkel eerder om trekkers en stropers uit die modder te sleep as om elke dag na verdroogde mielieplante te staar. Wanneer die stropermonitors lekker loop, is almal se gemoedere ligter. Ek verstaan tóg dat graadprobleme weer begin kop uitsteek.

Die reën is baie skaars in die suide – produsente plant in die stof. Daar is wel goeie vooruitsigte hier aan die einde van Mei, maar die seisoen is alreeds laat. Niks is net normaal nie. Tog oorleef ons, al is dit moeilik. Die insette vir die nuwe seisoen gaan ons nog laat les opsê. Die verhogings wat voorspel word, laat ’n mens sidder. Hoe gaan ons dit maak? Om rond te kyk vir hulp gaan nie veel help in ’n land wat vol konflik en diskriminasie is nie. Om ’n vriendelike beleidsomgewing vir landbou te hê, is seker maar dieselfde droom as ideale weer vir ’n hele seisoen.

Tog wys landbou sy staal en lewenskragtigheid in die dae van groot toetse. Hier is genoeg kos in die land en die landboumasjien loop soos ’n ou Lister-enjin in die buitekamer sodat ons lig in die huis kan hê. Soos ons die saad wat ons plant vir kiemkragtigheid toets, is ook landbou in die proewe gesit om te wys wat in ons steek. Kan ons dit lewer waaroor ons altyd roem? Ja, ons is die beste produsente, maar ons Skepper het ons ook ryklik geseën om juis in so ’n moeilike jaar genoeg te hê om ander te kan versorg.

Ek wil vertrou dat ons finansiële instellings dít ook ter harte sal neem wanneer hulle in die toekoms weer produksielenings beoordeel. Nes ’n plaas ’n besigheid is wat kan ondergaan as dit nie na behore bestuur word nie, merk ek dat dit vir banke ook geld. Die toestand waarin ons Land Bank is, dui daarop dat hulle nie ’n droogte op hulle eie kan deursien nie. So roep die een staatsbeheerde onderneming ná die ander om hulp. Tog hoor niemand as produsente om hulp roep nie. Dis hartseer.

My laaste gedagte is die een van roem. Ek praat met ’n baie goeie vriend van my wat in die bediening staan en ek hoor ’n stuk pyn in sy stem toe ek vra hoe dit gaan. “Ons is mos nie essential services nie,” was sy antwoord. Ons in landbou is regtig bevoorreg om in dié moeilike tye volstoom met ons dagtaak te kan voortgaan om ekonomies lewensvatbaar te bly, maar laat ons nie daaroor roem asof dit uit onsself kom nie. Lekker boer!